Matie-stemme

Keet van Zyl

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB)


“Ek glo waarlik dat entrepreneurskap die oplossing vir Suid-Afrika se werkskeppingsuitdagings is.”

Ná vele aanlegtoetse wat nie enige duidelike loopbaanrigting aangedui het nie, het Keet van Zyl besluit om BRek te doen, aangesien ‘n baccalaureusgraad in rekeningkunde een van die moeilikste was om voor te kwalifiseer en hy nog altyd van ‘n uitdaging gehou het.

Sy ouers het albei aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer en het hom oortuig om dit ook te doen. Hulle het gesê dat hulle dit nie op daardie oomblik kon verduidelik nie, maar dat hy ‘iets meer as ’n graad’ op Stellenbosch sou kry. “Ek het nogal gewonder oor hierdie ‘iets meer’ en besluit om dit te probeer.” Hy het sy graad in 1997 behaal en ’n geoktrooieerde bestuursrekenmeester geword, maar ook later sy MBA behaal en intellektuele eiendomsreg studeer.

Keet het in Vereeniging gematrikuleer en Stellenbosch die eerste keer gesien toe sy ouers hom vir sy studies hierheen gebring het. “Toe ek daar op Simonsberg se grasperk staan, my ouers weg, het dit my skielik getref dat ek geen siel hier ken nie. Ek was half opgewonde oor ‘n nuwe lewe wat begin, en half doodbang. Maar die vriendskappe wat ek met raakrugby op daardie einste grasperk gesmee het, het vir my ‘n nuwe gees verleen, wat my die deursettingsvermoë gegee het om deur moeilike tye steeds te gedy.”

Hy onthou dat die biblioteek teen eksamentyd ’n veilige hawe was en dat van sy gunstelingtye in Stellenbosch die kuiers tussen klasse in die Neelsie saam met vriende was. Hy het later uitgevind dat die ‘iets meer as ’n graad’ wat sy ouers gesê het hy op Stellenbosch sou kry, sy vrou, Melissa, was.

Ná sy studies is hy deur Procter & Gamble gewerf en het hy Johannesburg toe getrek vir sy eerste pos as finansiële ontleder. Hy het aan sommige van die grootste handelsmerke in die wêreld gewerk. “Vroeg in my loopbaan was ek deel van ‘n klein spannetjie wat Pantene-haarprodukte in Suid-Afrika bekendgestel het – daaruit het ek geleer dat enigiets moontlik is as jy die regte mense en hulpbronne agter jou het.”

Daarna het hy by die Southern African Enterprise Development Fund (SAEDF) aangesluit, waar hy verantwoordelik was vir die strukturering, befondsing en monitering van verskeie private ekwiteitsfondse, banke en ander finansiële instellings in Suider-Afrika. “Ek het ook begin om my eie private ‘engel’-beleggings te doen. Op die ou end het ek Kaapstad toe getrek om by Investec in hulle entrepreneuriese groei- en aanskaffingsfinansieringsafdeling te werk. My geesdrif vir entrepreneurskap is ontsluit en ek het by Mark Shuttleworth se ‘Here Be Dragons’ (HBD) Venture Capital aangesluit om risikofinansiering aan tegnologie-ondernemings met groeikapasiteit te voorsien.”

In 2010 was hy die medestigter van Knife Capital (saam met nog ‘n Matie, Eben van Heerden) om die aktiewe bestuur van HBD se Suid-Afrikaanse beleggingsportefeulje voort te sit en derdepartyfondse in te samel vir waagkapitaalbeleggings. “Ons kombineer kennis, netwerke en fondse om die internasionale uitbreiding van entrepreneuriese besighede wat ‘n produk/mark-passing in Suid-Afrika kon bewerkstellig, te versnel.” Mede-Simonsberger en oud-Springbok, Bob Skinstad, het ook onlangs as vennoot by Knife Capital aangesluit.

Etiek, integriteit en ‘awesomeness’ is vir hom belangrike waardes. “My interaksie met die mees interessante en eksentrieke mense, wat ’n positiewe duik maak in die heelal met ontwrigtende vernuwings, is wat ek die meeste van my werk geniet. Ek glo waarlik dat entrepreneurskap die oplossing vir Suid-Afrika se werkskeppingsuitdagings is.”

- Deur Elbie Els -