Matie-stemme

Maggie Visser

Alumna van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe


“Stel hoë doelwitte, doen waarvan jy hou, werk hard, assosieer met suksesvolle mense, en vra vir terugvoering.”

Toe Maggie Visser, ’n alumna van die Universiteit Stellenbosch (US), Suid-Afrika in 1994 vir die Verenigde State verruil het, was sy glad nie van plan om nie terug te keer nie.

Nadat sy haar BA- en BA-honneursgraad, sowel as haar meestersgraad in stadsbeplanning aan die US voltooi het, is Maggie deur die destydse Suid-Afrikaanse Instituut vir Stads- en Streeksbeplanning gekies om aan ’n uitruilprogram by Florida Internasionale Universiteit deel te neem.

“Kaapstad was in die proses om vir die 2004 Olimpiese Spele te bie en Atlanta was gasheer vir die 1996 Spele toe ek Amerika toe is. My idee was om as ’n stadsbeplanner in ’n Olimpiese Stad te werk en dan na Kaapstad toe terug te keer sodat ek al die ondervinding wat ek opgedoen het, kon toepas. Kaapstad het egter nie die Olimpiese bod gewen nie, en ek het my man, ’n Amerikaner, ontmoet. Die res is geskiedenis…”

Sy het vyf jaar gelede ’n beroepsverandering na die eiendomsmark gemaak en besit nou haar eie besigheid, Maggie Visser Real Estate, in San Francisco.

“Die grootste uitdagings in die eerste jaar van my besigheid was om kliënte te kry en om ’n klein inkomste met groot besigheidsuitgawes te balanseer. Om my gesinslewe en sakelewe te balanseer, bly ’n deurlopende tameletjie.”

As ’n talentvolle atleet gebruik Maggie die dinge wat sy deur hardloop geleer het om uitnemendheid in alle aspekte van haar lewe na te streef: “Stel hoë doelwitte, doen waarvan jy hou, werk hard, assosieer met suksesvolle mense, en vra vir terugvoering,” is haar raad.

’n Kniebesering weerhou haar deesdae om aan wedlope deel te neem, maar sy het nog tot vyf jaar gelede aan pad-, baan- en landloopwedlope deelgeneem.

“Deesdae hardloop ek vyf dae ‘n week saam met my Rhodesiese Rifrug-kruising teen ’n spoed wat voortdurend stadiger word,” spot sy.

Maggie woon en werk nie net in San Francisco nie – sy is ook verbind tot die opheffing van die stad.

“As deel van my pogings om aan my gemeenskap terug te gee, doen ek as vrywilliger diens by verskeie niewinsorganisasies en sportgeleenthede in San Francisco. Ek rig ook die Leukemie- en Limfoom-vereniging se groep ma’s wat wil oefen, af. ’n Deel van my kommissie skenk ek aan die Paragon Community Fund wat kunsprogramme, voedingsprojekte, berading en baie ander dienste ondersteun om ’n positiewe verskil in ons gemeenskap te maak.”

Hierdie oudinwoner van Villiersdorp beskou haarself steeds as ’n Suid-Afrikaner en praat Afrikaans met haar dogter.

“Ek sal altyd in my hart en siel ’n Suid-Afrikaner bly. My hele familie woon daar. Ek gaan kuier een keer per jaar en is elke keer in trane wanneer ek na die VSA moet terugvlieg.”

- Deur Pia Nänny -