Matie-stemme

Martina Swart

Alumna van die Fakulteit Regsgeleerdheid en die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Elke dag, met elke besluit wat ons neem, kry ons die geleentheid om ’n impak te maak.”

Martina Swart het in 2003 bekend geraak toe sy in die New Yorkse Balie-eksamen geslaag het sonder dat sy ’n regskool in die VSA moes bywoon. Die gevolg is dat die New Yorkse regseksamenraad deesdae meer toeskietlik oor aansoeke van SA universiteite is.

“Dit was ’n ervaring wat my tegelyk bemagtig en nederig laat voel het,” onthou Martina – deesdae die groephoofbestuurder by die Maitland-groep.

“Behalwe die harde werk en toewyding wat met hierdie proses gepaard gaan, en die ondersteuning van familie en goeie vriende, is dit steeds so dat ons vele deure kan open gewoon deur vrae te vra.”

Die Maitland-groep is ’n veeljurisdiksionele regs-, fidusiêre, beleggings- en fondsadministrasiefirma. Volgens Martina is sy die uitvoerende komiteelid verantwoordelik vir die naatlose voorsiening van interne regs-, risiko-, nakomings-, versekerings- en ’n velerlei bestuursfunksies by die firma.

“Ek bestuur ’n span professionele persone in verskeie jurisdiksies oor die hele wêreld heen en ons fokus op regs- en regulatoriese reëls en vereistes wat met die firma se wêreldwye bedrywighede verband hou.”

Die wetlike en regulerende landskap waarin finansiëledienste-firmas funksioneer, verander gedurig vanweë nuut gepubliseerde wette en regulasies, verduidelik sy.

“Die gevolg is dat daar ’n belangstelling en gewilligheid moet wees om gedurig aan te pas, te leer, kreatief te wees en praktiese maniere te vind om die besigheid binne die geordende stelsels wat vir die firma geld, te ondersteun.”

Daarbenewens, sê sy, het sy opgelet dat wanneer ’n mens jou met gehalte omring, hoofsaaklik wat mense, ervarings, en omgewings betref, elke dag ’n gehalte-ervaring word wat jou die geleentheid bied om te leer en te gee.

“Tyd is kosbaar, en daarom glo ek ’n mens moet genadeloos prioritiseer oor hoe, waar en met wie jy tyd spandeer. Maatskappye en mense kan die wêreld verander, op ’n omvangryke en ’n kleiner skaal. Elke dag, met elke besluit wat ons neem, kry ons die geleentheid om ’n impak te maak.”

Terwyl sy lief is vir haar werk, glo Martina dat dit belangrik is om ’n goeie balans tussen alle lewensaspekte te handhaaf.

“Ek spandeer tyd weg van die kantoor saam met familie en vriende. Reis is ’n konstante faktor en ek hou van die unieke ervaring van besoeke aan groot stede en natuurwonders. Parys is ’n gunstelingstad en ek woon gereeld uitstallings in kunsgalerye by, geniet ’n oggend by die beroemde vlooimarkte, of kuier in die vele straatkafees.”

Ondanks haar jare lange verblyf in die buiteland, spandeer Martina steeds heelwat tyd in Suid-Afrika, gewoonlik in Kaapstad en die Wynlande (waar sy grootgeword het), of op besoeke aan gunstelingplekke soos Witsand, die Weskus en die Bosveld.

“Terwyl ek in New York gewoon het, het ek ook my opleiding as ’n joga-onderwyser voltooi. Ek het ’n daaglikse joga- en meditasiepraktyk en gee steeds van tyd tot tyd klas wanneer my reisprogram dit toelaat.

“Kuns is nog ’n passie, wat ek van my ma – ’n eertydse dosent in kunsgeskiedenis – geërf het. Ek geniet dit om kunsmarkte oor die wêreld heen te besoek en met kunstenaars te gesels, want ek voel hul kuns vertel ’n storie oor die lewe, op maatskaplike of ekonomiese vlak, of waarskynlik albei.”

In reaksie op ’n vraag oor haar herinneringe as US-student, sê sy die Fakulteit Regsgeleerdheid op Stellenbosch is uitstaande, ook wat die omvang van die kurrikulum en die top gehalte van die dosente betref.

“Ek het dit geniet om in so ’n pragtige universiteitstad te woon en was op kampus omring deur pragtige historiese geboue, eikebome en ’n heerlike gemeenskap van diverse studente. Dit was ’n voorreg.

“Om deel te wees van die hegte studentegemeenskap was groot pret en die nabyheid van die pragtige strande en die wynlandgoedere was ’n versoeking op die vele sonskyndae.”

Benewens haar bestaande betrokkenheid by ’n aantal opwindende professionele projekte sê Martina dat sy steeds soveel tyd as moontlik aan familie en vriende, kunsstudie en die jogapraktyk bestee.

Sy het ook onlangs ’n belangstelling ontwikkel in ’n maatskappy waaroor sy passievol voel, wat tradisionele opvattings oor tyd, skoonheid en gesondheid uitdaag.

“Dit is gebaseer op ’n pragtige verhaal oor ’n ou Italiaanse dorpie waar verskeie inwoners ’n ouderdom van 100 jaar bereik en ’n vol en ryk lewenservaring geniet. Baie soos die Universiteit Stellenbosch en sy 100-jarige bestaan!”

- Deur Steyn du Toit -