Nicky Newton-King, hoofuitvoerende beampte van die JSE Sekuriteitsbeurs Suid-Afrika, beskryf haar pad na sukses asof dit ’n relatief eenvoudige reis was: ’n Kwessie van vasberadenheid en haar eie duidelike besef van die rigting wat haar loopbaan sou inslaan.
“Vandat ek 4 jaar oud was, het ek al geweet ek gaan ’n prokureur word,” sê sy.
Haar pa, self ’n alumnus van die Universiteit Stellenbosch (US), was ’n prokureur. Nicky het in sy voetspore gevolg en ’n LLB behaal, waarna sy ’n meestersgraad aan die Universiteit van Cambridge verwerf het.
Die volgende stap sou haar familiegeskiedenis herhaal en die rigting van haar toekomstige loopbaan aandui.
“Ek het by Webber Wentzel in Johannesburg aangesluit – die regsfirma waar my pa ook ’n vennoot was. Dit was my eerste werk en die vennoot vir wie ek gewerk het, was die eksterne regsadviseur vir die JSE Sekuriteitsbeurs Suid-Afrika. So, op my eerste dag as ’n professionele persoon was die JSE my heel eerste kliënt.”
Sy het kort voor lank ’n vennoot by Webber Wentzel se finansiëledienste-eenheid geword en daarna aangesluit by die JSE, waar sy ’n leidende rol in die modernisering van Suid-Afrika se finansiële markte gespeel het.
“In my loopbaan het ek alles gedoen van die regsproses in verband met die verskuiwing van die beurs weg van ’n fisiese verhandelingsvloer, tot die skryf van die land se binnehandelwetgewing; van die demutualisering en notering van die JSE, tot die integrasie van die SA Termynbeurs en die Effektebeurs in die entiteit wat vandag as die JSE Group bekend staan.”
In die laat 1990’s was Nicky behulpsaam met die afhandeling van ’n aantal hoëprofiel-binnehandelsake namens die JSE, voordat sy na uitvoerende bestuursaangeleenthede oorgeskakel het, en in 2012 die HUB van die JSE geword het.
Sedertdien speel sy ’n rol wat sentraal staan in die nasionale ekonomie wat die pad na demokrasie en hervorming betref. “Ek verwelkom daardie voorreg en verantwoordelikheid,” sê sy.
“Ek het werklik die geleentheid geniet om op die transformasie van ons kapitaalmarkte te fokus. Aan die een kant moet jy groter toegang tot kapitaal voorsien sodat meer entrepreneurs die nodige befondsing kan vind om te groei; en aan die ander kant wil jy dit makliker en goedkoper maak om aandele te verhandel, sodat die eienaarskap van ons ekonomie kan verander.
“Daar is ook nog heelwat werk om te doen wat die transformasie van die bestuur en direksies van groot maatskappye betref.”
Die kwessie van die bevordering van vroue se rol in besigheid, en in die samelewing in die algemeen, is vir Nicky van spesiale belang.
“Vir ’n mens soos ek was dit makliker as vir my ma. Alhoewel ons vordering met die aantal vroue in senior sakerolle en in die samelewing gemaak het, is ons nog glad nie naby die punt waar ons behoort te wees nie. Daar is nog te min vroue in senior leierskapsposisies in Suid-Afrikaanse sake – en slegs ’n handjievol genoteerde maatskappye word deur vroue gelei.
“Jonger vroue benodig selfvertroue en rolmodelle om hulle te help besef wat moontlik is. In hierdie verband het vroue wat reeds senior leierskapsposisies bereik het, ’n besondere verantwoordelikheid om ander vroue die weg na die boonste punt van die tafel te wys.”
Wat die breë kwessie van ekonomiese ontwikkeling betref, beklemtoon sy dat die land nie sosio-ekonomiese probleme sonder groei kan aanpak nie. Daarmee erken sy die strukturele beperkings wat die land in die gesig staar ten einde groei aan te moedig.
“Eerstens moet die regering die retoriek laat staan en aandag gee aan die dringende uitvoering van aksies wat groei sal aanhelp. Waar ondernemings in staatsbesit (OSB’s) behou word, moet hul herstruktureer word sodat hul die funksies waarvoor hulle geskep is, effektief kan verrig, sonder om ’n kapitaaluitvloeiing vir die nasionale fiskus te wees.
“Net so moet die openbare sektor se loonrekening dramaties gesny word om meer fiskale bandwydte te skep vir die regering se belegging in infrastruktuur en openbare dienste. Wanneer die regering vir ’n skool betaal, moet die geld van elders kom.
“Die uitdagings om die nodige aksies te implementeer, is egter velerlei, veral omdat heelwat daarvan besluite gaan verg wat in die kort termyn ongewild kan wees.”
Benewens haar rol by die JSE, stel sy in opvoeding belang, sê Nicky, en die manier wat sake ’n verskil in die samelewing kan maak. Sy hoop om hierdie aspekte te kombineer met die oog op die kweking van ’n nuwe generasie leiers.
Haar energie kry ook uiting in ernstige oefening. As geesdriftige fietsryers probeer Nicky en haar man een keer ’n jaar aan ’n driekampgeleentheid “iewers in die wêreld” deelneem.
Studie aan die US vorm ’n ander familietradisie. Net soos wat sy in haar pa se voetspore gevolg het, volg haar twee kinders nou in hare. Een studeer reeds op Stellenbosch en die ander volg binnekort.
Op haar beurt onthou Nicky ’n aantal “uitstaande professore” wat volgens haar “’n liefde vir hul dissipline en ’n nougesetheid van denke en benadering by ons ingeskerp het”. Nicky onthou ook haar klasse in die Ou Hoofgebou en kan selfs van professor Sampie Terreblanche se meer unieke frases aanhaal wanneer die geleentheid hom voordoen.
- Deur Mark Paterson -