Matie-stemme

Ricardo Smart

Alumnus van die Fakulteit Natuurwetenskappe


“Om diensbaar te wees is baie soos om ’n saadjie te plant. Moenie môre al ’n boom verwag nie. Sorg gereeld daarvoor, en voor jy weet kan daar dalk ’n boom voortspruit.”

In sy matriekjaar het ‘n aflos-onderwyser die ekstra myl gestap om Ricardo Smart te inspireer en te help om die eerste lid van sy gesin te word om universiteit toe gaan. Deesdae is Ricardo ‘n doktorale student in wynbiotegnologie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die voorbeeld van sy wiskundeonderwyser inspireer hom steeds om ’n lewe in diens van ander te lei. Hy is hiervoor met die International Leadership Council Award van die Golden Key International Honour Society vereer. Dit erken studenteleiers regoor die wêreld wat uitblink as leiers, in hul akademie of vir gemeenskapswerk. Ricardo is vereer as gemeenskapsleier.

Hy is sedert 2011 ‘n aktiewe lid van die Stellenbosch-afdeling van die Golden Key Society, en was ten nouste betrokke by die dienskomponent daarvan. Ricardo is veral trots op sy pogings sedert 2015 om Golden Key-lede se voortgesette betrokkenheid by ‘n nasorgsentrum op Stellenbosch te verseker, en sodoende laerskoolleerders met hul huiswerk te help: “Dit was wonderlik om te sien hoe die kinders in hul vermoëns begin groei, danksy die hulp en die aanmoediging wat die studente vir hulle gee.”

Ricardo, wat in 2009 hoofseun van Blackheath Hoërskool was, sê sy lewe in diens van ander is geïnspireer deur sy instaan-wiskundeonderwyser, Charlton Hendricks.

“In die eerste ses maande van matriek het ons nie ’n wiskundeonderwyser gehad nie. Mnr Hendricks het as vrywilliger ingetree en selfs Saterdae ekstra klasse gegee sodat ons kon inhaal. Uiteindelik het ek matriekwiskunde geslaag, byna met onderskeiding,” onthou hy.

Dit bly hom steeds by hoe Hendricks die ekstra myl gestap het om hom te help met sy aansoekvorms vir universiteit.

“As hy my nie met die vorms gehelp het nie en die aansoekgeld gedeeltelik betaal het nie, sou ek nie gewees het waar ek vandag is nie,” weet Ricardo.

Hy’t sy onderwyser se voorbeeld en impak onthou toe in sy derde jaar as ’n BSc-student sy vriend, Keenan Herbert, voorgestel het dat hulle ekstra wiskunde en rekeningkunde aan Blackheath-leerders aanbied. Dit het hulle vir die meeste Saterdae in 2014 en 2015 by die Evergreen Hulpbronsentrum in Blackheath gedoen. In daardie twee jaar het hulle gesien hoe tieners se selfvertroue groei, en hoe hulle weldra hul loopbaandrome kon bereik.

“Om diensbaar te wees is baie soos om ‘n saadjie te plant. Moenie môre al ‘n boom verwag nie. Sorg gereeld daarvoor, en voor jy weet kan daar dalk ‘n boom voortspruit,” glo hy.

Oor die jare het hy toekennings ontvang vir gemeenskapsdiens van die US, en ’n Super Mentor-toekenning van die Rachel’s Angels-projek van Media24. In 2018 het GoodHope FM hom erken as ’n inspirerende leier.

“Om diensbaar te wees, kom natuurlik vir my en gebeur dikwels in die hitte van die oomblik. Dit is ‘n manier van lewe vir my,” merk hy op. “Om iemand te help gee mens so ‘n aangename gevoel.”

In sy hart is Ricardo ook ’n mikrobioloog. Hy’t reeds ’n honneursgraad in mediese mikrobiologie en ’n MSc in mikrobiologie agter sy naam. Hy is nou besig met sy doktorsgraad deur die Instituut vir Wynbiotegnologie van die Departement Wingerd- en Wynkunde aan die US. Daarna hoop hy om ’n nadoktorale genootskap te voltooi by ’n oorsese instelling wat spesialiseer in funksionele metagenomika, en later na Suid-Afrika terug te keer om ‘n ’n dosentpos of navorsingsposisie in die akademie te beklee. Vir sy PhD ondersoek hy die manier waarop dekgewasse soos favabone en tritikale wat in wingerde gebruik word, die mikro-organismes wat mens in die grond, op blare en korrels kry beïnvloed, en uiteindelik ook die wyne wat van die druiwe geproduseer word.

“Ek wil mense beïnvloed en ander inspireer en aanmoedig om mense te help,” droom hy.

- Deur Engela Duvenage -