Die Universiteit Stellenbosch (US) was glad nie ’n vreemde plek vir Vicky Davis toe sy in 2000 met haar graad in drama begin het nie. Sy het op Somerset-Wes grootgeword en haar pa, Douglas, was jare lank die mediawoordvoerder van die US. Ma Heloise het as ’n redaksionele adviseur by die US Drukkery gewerk wat beteken het dat Vicky amper op kampus grootgeword het.
Sy het in 2002 haar graad in drama voltooi en in 2003 honneursgrade in drama (regie) en Afrikaans en Nederlands gedoen. Daarna het haar loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf begin, maar sy het ook aanhou studeer en in 2011 haar meestersgraad in drama verwerf. Haar onderwerp was drama as medium om sosiale verandering te bewerkstellig en sy het gefokus op ’n opvoedkundige toneelstuk genaamd “Lucky, the hero!” oor MIV en Vigs wat sy vir Prof Jimmy Earl Perry en Prof Jan du Toit van die US se Afrika Sentrum vir MIV en Vigs in 2003 ontwikkel het.
Haar eerste rolle as aktrise sluit die e.tv-sepie Backstage en die M-Net dramareeks Known Gods in. Daarna het sy twee jaar lank die rol van Tessa Krige in 7de Laan gespeel en van 2008 tot 2018 was sy aanbieder van die leefstylprogram Pasella.
“Ek het plekke gesien en dinge gedoen by Pasella wat ek nooit andersins sou nie en dit het my lewe verryk. En nie net die ‘glamorous’ dinge nie, die regtige spesiale oomblikke vir my was die stofdorpies se onverwagse bekoring, die eksentrieke kleindorp-karakters en die skoonheid van die platteland se eenvoud wat jou so onkant betrap. Dan was daar natuurlik die voorreg om ook met groot geeste van ons tyd te kon onderhoude voer – mense soos Aartsbiskop Desmond Tutu se warm natuur en lekker sin vir humor sal my altyd bybly.”
Sy het ook gedurende haar jare by Pasella haar vaardighede uitgebou en agter die skerms leer werk as TV-regisseur en -vervaardiger. Sy het onder andere regie en insetselvervaardiging gedoen vir Pasella, Top Billing en Expresso Ontbytprogram en Doctor’s Orders mediese joernaalprogram, en het toe in 2015 senior inhoudsvervaardiger geword van die geselsprogram Afternoon Express op SABC3.
Vicky het ook tyd gemaak vir verhoogwerk en toneelstukke en is betrokke by jeugontwikkelling en spesifiek die Nasionale Toneelspelkompetisie vir Hoërskoolleerders as hoofbeoordelaar en regisseur. Vir haar verhoogaanbiedings met jong leerders het sy ’n Woordfees Trofee in 2017 (Uniform) en ’n Fiesta Nominasie in 2011 (Hel op Hemel-en-Aarde) ontvang. Sedert 2017 is sy die programbestuurder van die Cape Town Music Academy (CTMA), ’n niewinsgewende maatskappy wat poog om geleenthede vir kontemporêre musikante en kunstenaars in die Wes-Kaap te skep – opvoedkundige en opvoergeleenthede, internasionale wisselwerkinge, vaaardigheidsontwikkeling en werkskepping. CTMA bied in 2019 twee opwindende produksies by die Woordfees aan – ’n isiXhosa kindertoneelstuk en musiekaande waar plaaslike kontemporêre musikante geleentheid kry om te speel. “Dit is vir my belangrik dat ek deur my werk en ervaring ook terugploeg in die industrie.”
Sy bied gereeld werkswinkels vir akademiese instellings en korporatiewe ondernemings aan in ‘Confident Public Speaking & Presentation Skills’. Sy het ook ’n opvoedkundige leer-leesboek, “A is vir Appel, My ABC boek” saam met NB Uitgewers uitgegee. Dit is ’n letter- en prenteboek wat ook rympies bevat vir kinders tussen 3 en 6 jaar en het die ABSA Vroeë Kinderontwikkelingsprys vir Publikasie van die Jaar gewen in 2014.
Hardwerkendheid, eerlikheid, vrygewigheid en die vermoë om in ‘n span te kan werk en die groter prentjie te kan sien ag sy hoog. “Hê altyd n sosiale gewete, besef dit gaan nie altyd oor jou nie, vra jouself af of wat jy doen dinge beter maak en besef jy leef nie in ‘n ‘bubble’ nie.”
- Deur Elbie Els -