Nagenoeg 40 voormalige Springbokrugbyspelers wat ook vir die Universiteit Stellenbosch (US) uitgedraf het, was gisteraand (5 Maart 2018) getuies van ? goeie oorwinning van die Maroen Masjien oor die Ikey Tigers van die Universiteit van Kaapstad in hul Varsitybeker derby-wedstryd.

Die Springbokke was gaste by ? spesiale funksie van die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumniverhoudinge. Jan Boland Coetzee, Morné du Plessis, Dawie de Villiers, Carel du Plessis, Mannetjies Roux, Dawie Snyman, Rob Louw, Tiaan Strauss, Pieter Rossouw, Breyton Paulse en Corné Krige was onder die oudstryders wat die funksie bygewoon het met die bekende Valiant Swart wat vir die vermaak gesorg het.

Die wedstryd het deel gevorm van die US se Eeufeesherdenking en Tuiskoms-naweek. Beskryf as die “wedstryd van die eeu“, is die wedstryd in ? volgepakte Danie Craven-stadion op Coetzenburg in Stellenbosch gespeel.

Die Maties het as oorwinnaars uit die stryd getree en hul opponente 33-14 geklop. Dit was ten minste die 106de keer dat die twee spanne kragte gemeet het.

Die eerste helfte was ? taamlike eensydige gedoente met die Maties wat teen die wind gespeel het, maar ? deurlopende stroom van drieë in winderige toestande aangeteken het. Die rustydtelling was 26-0. In die tweede helfte het die Ikeys met meer mening gespeel en vir die grootste deel van die helfte in die Maties se helfte gekuier. Twee drieë teenoor die een van die tuisspan is aangeteken. Die Maties se verdediging het egter lank genoeg gehou en ? vol sakkie Varsitybeker-punte is saam kleedkamer toe.

Die Maties beklee steeds die boonste plek op die Varsitybeker-punteleer en behoort sonder veel moeite die halfeindronde te haal.

? Hoogtepunt van die aand was prof Wim de Villiers, US-rektor en Visekanselier, en sy UK-eweknie, dr Max Price, Visekanselier, wat saam ? verjaarsdagkoek gesny het – simbolies van beide die US en die UK (as ? instelling wat grade kan toeken) wat amptelik in 1918 op dieselfde dag gestig is. Die Maties se gewilde gelukbringer, Pokkel, het ? ogie oor verrigtinge gehou.