Matie-stemme

Dr JD Kestell

US-kanselier 1939–1941

Dr John Daniel Kestell, of ‘Vader Kestell’ soos die teoloog deur sy hele lewe bekend was, is op 15 Desember 1854 in die Voortrekker-moederstad van Pietermaritzburg gebore. Op 15-jarige ouderdom het hy sy pa na die diamantvelde van Kimberley vergesel waar hulle twee jaar as delwers deurgebring het.

Geïnspireer deur die kerk en leraars soos Sarel Cilliers, Erasmus Smit, JN Boshoff en Gert Naudé, het Kestell na die Eikestad getrek om sy matriek te voltooi voor hy by die kweekskool in Stellenbosch ingeskryf het. Hy sou later sy tersiêre opleiding in Utrecht in Nederland voltooi. Toe hy in 1882 terugkeer na Kimberley, was dit as predikant van sy eie gemeente.

Kestell was nie alleen teoloog, predikant, leraar en Bybelvertaler met ’n ontsaglike liefde vir letterkunde nie – Shakespeare was een van sy gunstelinge naas Frans, Hebreeus, Nederlands en Grieks – maar hy het ook onder die skuilname Afrikanus Jr. en Leinad gepubliseer. Sy gedig Death is byvoorbeeld in 1877 in die Cape Monthly Magazine gepubliseer, terwyl sy treurspel van 99 bladsye en vyf bedrywe, The Struggle for Freedom of The Rebellion of Slagtersnek, ’n paar jaar later gereeld op die verhoog te siene was.

Terwyl sy loopbaan poste by ander akademiese instellings ingesluit het (hy het sewe jaar as rektor van Grey Universiteitskollege in Bloemfontein gewerk), het Kestell altyd Stellenbosch as sy ware alma mater beskou. Verskeie voetspore van sy invloed is vandag nog in die dorp te vinde, soos die Jan Marais Fonds – ’n inisiatief wat daarop gemik is om kulturele inisiatiewe en maatskaplike projekte te borg – waarvan hy een van die oorspronklike kurators was.

Dr Kestell het in 1939 die US se vyfde kanselier geword en het hierdie posisie tot sy afsterwe in 1941 beklee. Hy was gedurende sy lewe ’n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, die Maatschappij der Nederlandse Letteren in Leiden, asook die Historiese Genootschap van Utrecht.

– Deur Steyn du Toit