Matie-stemme

Dr TE Dönges

US-kanselier 1959–1968

Dr Theophilus Ebenhaezer (Eben) Dönges is op 8 Maart 1898 in Klerksdorp in die voormalige Transvaal gebore. Hy het aan die begin van 1916 by die Victoria Kollege, nou bekend as die Universiteit Stellenbosch (US), in Stellenbosch aangesluit om vir ’n BA-graad te studeer. Dit is gevolg deur ’n MA in filosofie in 1919.

In 1920, kort nadat hy die registrateur van regter-president Sir Etienne de Villiers in Bloemfontein geword het, het hy besluit om die regsgebied te betree en het ’n LLB-graad van die Universiteit van Londen verwerf. Hy het ook die eksamen van die Council of Legal Education, Middle Temple geslaag. Dönges het sy studies met ’n LLD aan die London School of Economics voltooi en is by sy terugkeer tot die balie van Pretoria én Kaapstad toegelaat.

Hy het buiten sy professionele regswerk ook ’n bestaan uit joernalistiek gevoer. Hy het gedurende sy leeftyd as joernalis, redakteur en assistentredakteur by verskeie dagkoerante gewerk, waaronder Die Burger en The South African Nation.

Dönges het ’n passie vir die Afrikaanse kultuur en taal getoon. Hy sou vir talle jaar dien as voorsitter van die skakelkomitee van Afrikaanse kultuurorganisasies, asook ondervoorsitter van die uitvoerende komitee van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK). Daarbenewens het hy vanaf 1953 op die raad van die US gedien voordat hy in 1959 as kanselier aangestel is.

Dönges se eerste toetrede tot die politiek was in 1941 toe hy as verteenwoordiger van die Volksraad vir die Fauresmith-kiesafdeling verkies is. Sewe jaar later is hy verkies as parlementslid vir Worcester, asook na die kabinet as minister van pos- en telekommunikasiewese. Hy het later dieselfde jaar ’n nuwe rol aanvaar, dié keer as minister van binnelandse sake.

Na die bedanking van dr DF Malan as Kaapse provinsiale leier in November 1953, het Dönges die Nasionale Party se nuwe provinsiale leier geword. Hy het ook tussen 1958 en 1966 as minister van finansies gedien. Hy is na die sluipmoord op eerste minister HF Verwoerd op 6 September 1966 as die waarnemende eerste minister aangewys, tot BJ Vorster deur die kongres van die Nasionale Party as die amptelike plaasvervanger aangekondig is.

Dönges is op 1 Junie 1967 as staatspresident van Suid-Afrika benoem, maar voor hy dié amp kon beklee, het hy ’n beroerte gehad en in ’n koma verval. Hy het nooit sy bewussyn herwin nie en is op 10 Januarie 1968 oorlede.

– Deur Steyn du Toit