Matie-stemme

Prof GG Cillié

US-rektor 1919–1925

Prof Gabriël Gideon (GG) Cillié is op 10 September 1870 op Rhebokskloof, ’n plaas aan die voet van die Paarlberg naby Wellington gebore. Sy sekondêre onderwys by die MJ Stucki Skool in Blaauwvlei is onderbreek toe sy pa oorlede is en hy ses jaar lank na die boerdery omgesien het. Hy het egter in 1892 na die skool teruggekeer en sy studies voltooi voordat hy in 1894 aan die Normaal Skool in Kaapstad gestudeer het. Die Middelklas Onderwysersdiploma is met sy vertrek aan hom toegeken.

Cillié het in Julie dieselfde jaar by die Victoria Kollege (vandag bekend as die Universiteit Stellenbosch) vir ’n B-graad in filosofie en opvoedkunde ingeskryf. Hy was in die intermediêre eksamens die topstudent in sy klas en het in 1897 sy graad met lof behaal. Dit is gevolg deur ’n kort tweejaartydperk as onderwyser by die Normaal Skool, voordat hy na die Verenigde Koninkryk is om ’n meestersgraad in Engels, filosofie en opvoedkunde aan die Universiteit van Edinburgh in Skotland te verwerf.

Nadat hy in 1900 sy MA ontvang het, het Cillié na Frankryk vertrek waar hy by die Universiteit van Straatsburg vir ’n doktorsgraad in Grieks, Latyn, ekonomie en antieke geskiedenis ingeskryf het. Hy het in 1904 sy PhD magna cum laude behaal voordat hy na Suid-Afrika teruggekeer het en die volgende paar jaar aan die Normaal Skool onderrig het. Hy het daarna ook die posisie van hoofonderwyser aan die Hoër Jongenskool in Cradock en Franschhoek Hoër beklee.

Cillié het in 1909 teruggekeer na tersiêre opleiding toe hy as professor in antieke tale (Latyn en Grieks) by die Victoria Kollege in Stellenbosch aangestel is. In 1911 het hy die instelling se eerste professor van onderwys geword, asook die eerste dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde toe die Victoria Kollege in 1918 amptelik die Universiteit Stellenbosch (US) geword het. Die daaropvolgende jaar het Cillié ook die Universiteit se eerste rektor geword, ’n amp wat hy tot 1925 beklee het.

Die Departement Ekonomie is onder Cillié se leierskap op die been gebring, asook die fakulteite Teologie en Regte wat onderskeidelik in 1920 en 1921 gestig is. Na sy aftrede as rektor het hy weer as professor by die Fakulteit Opvoedkunde aangesluit, en het tot en met sy aftrede in 1947 dié rol vervul.

Prof Cillié is tien jaar later op 1 April 1958 oorlede.

– Deur Steyn du Toit