Matie-stemme

Prof MJ de Vries

US-rektor 1979–1993 (en ook visekanselier vanaf 1981)

Prof Michiel Josias (MJ) de Vries is op 5 Mei 1933 in die Barrydale-distrik gebore en het op die plaas Kleindoringrivier in die Klein Karoo-distrik tussen Barrydale en Riversdale grootgeword. Nadat hy aan die Hoërskool Barrydale gematrikuleer het, het hy by die Universiteit Stellenbosch (US) vir ’n BSc-graad ingeskryf. ’n Beurs is na graduering aan hom toegeken om ’n meestersgraad by die Departement Landbou Tegniese Dienste te voltooi.

Nog ’n beurs het gevolg en ’n paar jaar later was De Vries op pad na Duitsland om ’n doktorsgraad aan die Albert Ludwig Universiteit in Freiburg te verwerf (hy het in 1959 met lof gegradueer). Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy in Julie 1961 ’n pos as lektor in fisiese chemie by die US aanvaar.

Ná 15 jaar in klaskamers is De Vries op 1 September 1976 tot viserektor bevorder. Hy is drie jaar later, in 1979, as rektor van die Universiteit ingehuldig – ’n amp wat hy vir die volgende 14 jaar beklee het. Toe die destydse visekanselier, ds Kosie Gericke, in 1981 oorlede is, is die pos van visekanselier in die pos van rektor opgeneem, ’n stap wat sedertdien gehandhaaf is.

Onder De Vries se rektorskap is die ou Bloemhof-skoolgebou in Ryneveldstraat opgeknap en as ’n kuns-en-kultuurruimte vir die Universiteit se studente bekendgestel, asook ’n galery/museum vir die tentoonstelling van die Universiteit se kunsversameling en kulturele artefakte wat sedert die bestaansjaar versamel is. Die Sasol Kunsmuseum is amptelik gedurende 1991 geopen.

Ander verwikkelinge wat by die Universiteit plaasgevind het terwyl De Vries aan die stuur was, behels onder meer vordering op die gebied van inligtingstegnologie, asook die rekenarisering van administratiewe stelsels en die biblioteekdienste en -katalogus.

Prof De Vries is op 5 Julie 2002 oorlede.

* Deur Steyn du Toit