Donderdag (1 Maart 2018) was die amptelike bekendstelling van die Universiteit Stellenbosch (US) se Eeufeespublikasie, Die Universiteit Stellenbosch 100: 1918-2018, en die amptelike opening van die Eeufeesuitstalling by die Universiteitsargief op die Stellenbosch-kampus.

Die boek gaan in Engels sowel as Afrikaans beskikbaar wees, en beslaan 536 volkleurbladsye. Die redakteurs is prof Albert Grundling (Deel 1) en mnr Hans Oosthuizen (Deel 2).

In Deel 1, ‘100 Jaar in Perspektief’, deel sewe skrywers hulle perspektief oor die US se geskiedenis van 100 jaar, onder meer die Universiteit se totstandkoming, die US se politieke en finansiële geskiedenis, en wat dit beteken om ‘n Matie te wees wat akademie, sport en studentelewe betref.

Deel 2 van die boek besin oor die akademiese werksaamhede van ‘n eeu, gesien vanuit die perspektief van die US se tien fakulteite. Die skrywers kom vanuit verskeie sektore van die akademiese gemeenskap om ‘n oorsig te bied van die pad wat die Universiteit geloop het, en hoe Stellenbosch uit ‘n dorpie ontwikkel het tot ‘n kosmopolitiese gemeenskap van meer as 30 000 studente en 3 000 personeellede.

By die bekendstelling van die Eeufeesboek het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, besin oor die mylpaal waaraan hierdie herdenking gestalte gee en oor die harde werk van diegene wat die grondstof opgelewer het waaruit die inhoud van die boek en die uitstalling saamgestel is. “Ons is dankbaar oor die harde werk en opofferings van soveel mense oor die dekades heen. Dít is wat die US in hierdie posisie gestel het – as ‘n toonaangewende hoëronderwysinstelling waarvan die akademiese uitnemendheid hoog aangeslaan word, en wat vasbeslote daarna streef om die gemeenskap in die geheel tot diens te wees. Die Eeufeesuitstalling en ons Eeufeesboek getuig van die toewyding van 100 jaar.”

Saam met die boekbekendstelling is ‘n uitstalling oor die Universiteit se geskiedenis ook by die US Argief geopen. Die fotomateriaal waaruit die muur-collages opgebou is, dek die era vanaf 2018 tot 1918.

“Die US Argief se Eeufeesuitstalling gedenk die mense, geboue, gebeure en groei in opvoeding in Stellenbosch wat uiteindelik die Universiteit wat ons vandag het, laat vorm aanneem het,” het prof De Villiers gesê.

Eeufeesboek

Die Eeufeesboek is in twee uitgawes beskikbaar: ‘n standaard-hardebanduitgawe en ‘n besondere versamelaarsuitgawe, wat in leer gebind en deur die US Rektor onderteken sal wees en waarin die ontvanger se naam kalligrafies ingeskryf sal word. Daar sal net 100 eksemplare elk in Engels en Afrikaans van die versamelaarsuitgawe gedruk word.

Slegs die Afrikaanse uitgawe is tans beskikbaar. Die Engelse uitgawe word binnekort gedruk en sal vanaf 16 April 2018 verkrygbaar wees.

As u meer inligting wil bekom of ‘n eksemplaar van die boek wil bestel, stuur asseblief ‘n e-pos na ccerasmus@sun.ac.za.

Foto deur Stefan Els.