My tyd in Majuba – Jean Dippenaar

Jean van der Walt (die nuutgekose HK-lid vir oud-Majubane) het gevra of ek ‘n artikel kan skryf waarin ek oor my tyd in Majuba besin. Ek het gou ja gesê, maar om eerlik te wees, dis ‘n gans onmoontlike taak om my tyd in ‘n enkele artikel vas te vang – veral as jy die blote feit in gedagte hou dat dit my ‘n dekade geneem het om my graad te voltooi … nietemin, hier’s dit nou …

Die vraag is, waar om te begin en waarop moet gefokus word?

Avonture met Ysbeer (Wild Child se keuse van vervoer); kaalbas in die laatnaag op Nemesia se dak; Pool is cool by Hoole, Pool is zef by Def en laterhand Pool is pret by Ed; Skellie se nimmereindende mosies tydens huisvergaderings wat tot die volgende oggend oorloop; die wraak van Die Nader on Prodgiday; die Sauer-saga; Combo 5s en gatsbys by De Vos; vark-ore uitdeel; nommerplate steel; aartappelgeweer-oorloë teen Dagbreek; die gevreesde Yogi; “wettigepakkamerinwoners; wanorde by Internationals; verontwaardiging rakende die aankondiging oor die Piccadilly Gang of the Year; Doc Simon wat nie in staat was om vir ‘n bottermissiel te koes, soos afgevuur deur Die Supersportman;Vuilhond Lounge by Koelewijn; Rippies & Riel; meisies in wasgoedmasjiene; bedenklike voorseisoen première episodes gelaai op DC++; dieSuper-Sosiale Komitee (SSK) en die sitplekbande wat ons nou nog voor wag (dankie Piet Spyker); ‘n R200-rekening van die Sportklub na ‘n Sauer-oorwinning (teen R6 ‘n bier, kan jy maar die somme maak); krieket in die quad, stort in die quad … ek het besluit om te fokus op die munt wat ek uit bogenoemde avonture geslaan het, en nog meer, in my tyd by Majuba. 

My aandag is deesdae gevestig op die waarde van en die deel in mense se stories – hoe ons baie oor onsself en ons medemens kan leer. Hoe meer divers die stories is, hoe beter die leer-ervaring. In ‘n klein gemeenskap soos Majuba, is storiedeel organies, of dit nou in gangvergaderings, gesprekke op die PAV (paviljoen), op die balkon of in die eetsaal, plaasvind.

Komende van Moorreesburg, en met ‘n ouer broer in Majuba, het ek geweet dat ek hier wil bly nog voor ek geweet ek wat ek wou studeer. Onlangs vertel ‘n vriend van my, in daai tyd het Moorreesburgers nie gestudeer of aansoek vir die Universiteit Stellenbosch gedoen nie, ons het na die Universiteit van Majuba gegaan.

Teen 18, het ek gedink die lewe is so eenvoudig soos rugby, krieket, braai, boer en die Moorreesburgfees – steeds die beste partytjie in Suid-Afrika. Ek’t gereken dit was almal se uitkyk op die lewe. Nou, as ek oor my tyd in Majuba besin, moet ek sê dat my grootste voordeel as student aan die Universiteit Stellenbosch, behalwe my graad, die mense is wat ek ontmoet het en die blootstelling aan verskillende maniere van dink en dinge doen.

Somtyds is ek spyt dat ek nie meer geleenthede geskep het om ons onderskeie agtergronde te deel nie, om daai moeilike gesprekke te hê en in die proses, meer van mekaar te leer nie. As hierdie gesprekke in ‘n plek soos Majuba plaasvind, kan ons die een wees wat by die werksplek soortgelyke gesprekke fasilliteer. Ek reken, ‘n onderwerp soos diversiteit kan dalk tydens die goeie tye verdamp, en alhoewel ek ‘n groot voorstander van goeie tye is, dink ek dat balans belangrik is. Die ouens wat vir ABB se slagspreuk verantwoordelik is, het ‘n punt beet: Let’s write the future .

Die lekker ding van koshuislewe is dat jy ‘gedwing’ word om lank genoeg saam met ander mense te bly sodat jy hulle leer ken en vriende raak. Mense wat jy nie noodwendig in ‘n ‘normale’ situasie vriende sal mee raak nie. Ek reken, die uitdaging in my huidige konteks is om die voordeel te onthou wat ek getrek het deur vriende met mense vanuit verskillende agtergronde te raak en dit as motivering te gebruik om die proses voort te sit.  

In die wêreld daar buite het ons nie die luuksheid van ‘gedwing’ word om saam met 150 ander mense te leef nie, maar dit moet ons nie verhinder om onsself bloot te stel aan verskillende maniere van dink deur betrokke met ander te raak nie. Is dit nie een van die groot voordele van leef in ‘n Reënboognasie nie? Noudat ek daaraan dink, het ek eintlik geen verskoning om nie deel te neem aan gesprekke wat gedagtes uitbrei nie; ‘gedwonge’ interaksie vind plaas by die werk, sosiale byeenkomste, sportklubs … die hele tyd.

Vir julle ouens by Majuba: maak asseblief seker jy gebruik die wonderlike geleentheid wat Majuba jou bied, misien meer as wat ek het.

Ons sal altyd Majuba hê en die ervaringe wat ons gedeel het – ‘n gemeenskaplikheid wat geskep word en ‘n platform vir openhartige besprekings oor moeilike onderwerpe sonder om te oordeel. Ek het onlangs ‘n voormalige Majubaan vir die eerste keer in 13 jaar ontmoet. Ek was verbaas dat ons kon dink aan die goeie tye wat ons gehad het, maar ook kon bespreek waar ons nou is en ons huidige manier van dink. Sodra die gesprekke te hewig raak, kan ons ‘n blaaskans neem en terugkeer na R6-biere by die Sportklub met ‘n Sauer-oorwinning in die sakkie. Watter voorreg is dit nie?

Ek sien baie uit na ‘n oud-Majubane kuier binnekort!

Witduif-groete, Jean Dippenaar (Die Melkman)