Hoofsprekers

Biografie van Dr Joy Mighty

Kliek hier vir Dr Mighty se konferensieredevideo

Dr Joy Mighty is ’n senior universiteitsadministrateur en professor aan die Carleton Universiteit in Ottawa, Kanada. Van 2012 tot 2018 dien dr Mighty as mede-visepresident (Onderrig en Leer) en beklee ’n gesamentlike aanstelling as volle professor in die Sprott Bestuurskool en die Pauline Jewett Instituut vir Vroue- en Genderstudie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe. Dr Mighty is tans op administratiewe verlof van een jaar en sal met haar terugkeer na Carleton in Julie 2019 die posisie van senior vakkundige vir innovasie in Onderrig en Leer opneem.

Dr Mighty het voorheen as direkteur van die Sentrum vir Onderrig en Leer aan die Queen’s Universiteit en as volle professor aan die Queen’s Bestuurskool gedien. Voor haar posisie by Queen’s was sy die koördineerder van die Onderrig- en Leersentrum en professor in die Fakulteit Sakebestuur aan die Universiteit van New Brunswick.

Dr Mighty, wat Georgetown Guyana gebore is, het ’n eklektiese akademiese agtergrond en uitgebreide ondervinding as administrateur, opleier, opvoedkundige ontwikkelaar, navorser en konsultant. Sy beskik oor ’n BA Hons (Engels), Nagraadse Onderwysdiploma, MA in Opvoedkunde en Nagraadse Diploma in Bestuurstudie aan die Universiteit van die Wes-Indiese Eilande in Jamaika. Sy behaal haar MBA aan die Howard Universiteit in Washington, DC, en haar PhD in Organisatoriese Gedrag aan die Schulich Bestuurskool van die York Universiteit in Toronto. Sy is ’n voormalige president van die Vereniging vir Onderrig en Leer in Hoër Onderwys, en die intreevoorsitter van die Opvoedkundige Ontwikkelaarskoukus, terwyl sy ook as die Kanadese verteenwoordiger in die Raad van die Internasionale Konsortium vir Onderwysontwikkeling dien.

Dr Mighty het toekennings vir uitnemendheid in onderrig, navorsing, asook buitengewone diens en professionele leierskap ontvang. Sy het ’n besondere belangstelling in organisatoriese ontwikkeling en verandering, sowel as billikheid, diversiteit en die vakkundigheid van onderrig en leer. Sy lewer konsultantdienste aan private en openbare organisasies, ingesluit organisasies sonder winsoogmerk, in Kanada, die Karibiese Eilande, China, Engeland, Duitsland, Japan, Saoedi-Arabië, Suid-Afrika en die VS. Sy is ’n gewilde spreker by streeks-, nasionale en internasionale konferensies, en het in verskeie konferensieverrigtinge, tydskrifte en boeke gepubliseer. Sy is die mederedakteur van die hoogs bekroonde 2010-publikasie Taking Stock: Research on Teaching and Learning in Higher Education.

Opsomming van Hoofrede
Deur Dr Joy Mighty

Konferensietema: “(Jou) Onderrig Maak Saak”

Waarom onderrig? Waarom gee JY onderrig? Sou dit saak maak as jy nie onderrig gegee het nie? Hoe jy hierdie vrae beantwoord, kan belangrike leidrade verskaf oor die manier hoe jy onderrig gee, hoe jy met jou studente omgaan, sowel as jou persepsies oor die rol wat onderrig in jou professionele identiteit en die heersende onderrigfilosofie van jou instelling speel.

Hierdie aanbieding spoor ons almal aan om oor ons motiverings vir onderrig na te dink. Dit nooi ons uit om ondersoek in te stel na hoe die ideologieë wat hierdie motiverings onderlê, sowel as ons sosiale identiteit, ons onderrig kan beïnvloed. Wanneer ons institusionele prioriteite boonop by ons persoonlike en professionele motiverings vir onderrig aansluit, kan die resultaat perspektiewe en onderriggedrag oplewer oor ’n kontinuum wat van algehele onverskilligheid tot ’n allesomvattende passie vir onderrig wissel. Ons besin oor waar ons ons langs hierdie “onderrigkontinuum” bevind en bespreek maniere om die naald te laat beweeg na al hoe meer betrokke, sosiaal-gevoelige gedrag wat daarop dui dat ons onderrig saak maak. Sodanige gedrag sluit in die voorsiening van uitkomsgebaseerde kurrikulums; die gebruik van hoë-impak- bewysgebaseerde, leergesentreerde pedagogiese praktyke; die skep van veilige, verrykende en inklusiewe leeromgewings; en betrokkenheid by die akademieskap van onderrig en leer. Dit verg egter meer as die pogings van individuele onderwysers wat op hulle eie werk om die onderrig te laat saak maak. Uiteindelik vereis dit ook veranderings op strukturele, institusionele vlak, waarvan nie die geringste nie leierskap op senior administratiewe vlakke behels, ten einde integrasie en samehang tussen die Universiteit se onderrig- en leeraktiwiteitestelsel te verseker. Maak (jou) onderrig aan die US saak?

Biografie van Prof Geo Quinot

Kliek hier vir Prof Quinot se konferensieredevideo

Geo Quinot is professor in regsgeleerdheid in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch (US); stigterdirekteur van die Afrika-verkrygingsregeenheid (APLU) en mededirekteur van die navorsingsprojek vir sosio-ekonomiese regte en administratiewe geregtigheid (SERAJ). Hy is ’n toegelate advokaat van die hooggeregshof van Suid-Afrika. Quinot doseer in administratiefreg, staatsreg en staatsverkrygingsreg aan die US se Fakulteit Regsgeleerdheid en die Skool vir Publieke Leierskap. Hy gee gereeld leiding aan publieke administrateurs in sowel administratiefreg- en staatsverkrygingsregulering.

Tussen 2013 en 2015 is Quinot ’n onderriggenoot aan die US en word daarna deel van die eerste groep vakkundiges in die land wat die universiteitsgenootskapsprogram vir nasionale onderrigbevordering in 2016 voltooi. In 2012 ontvang hy die Raad vir Hoëronderwys (CHE) en die Hoëronderwys Onderrig- en Leervereniging van Suider Afrika (HELTASA) se Nasionale Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig en Leer, en in 2016 die US Kanselierstoekenning vir Lewenslange Prestasie in Onderrig en Leer. In 2016 voltooi hy ’n tweejaar-genootskapprojek met befondsing van die Newton Fonds se Gevorderde Genootskapskema, geadministreer deur die Britse Akademie, oor kapasiteitbou in staatsverkrygingsreg in Suidelike Afrika.

Quinot se navorsing fokus op algemene administratiefreg, ingesluit ’n besondere fokus op die regulering van staatsbedryfsaktiwiteite soos publieke verkryging en regsopvoeding. Hy het 31 portuurbeoordeelde artikels (21 as enkelskrywer) en 16 hoofstukke in boekpublikasies gepubliseer. Hy is die outeur, mede-outeur en/of redakteur van ses boekpublikasies. Quinot is ’n oud-hoofredakteur van die tydskrif Stellenbosch Law Review en die stigterhoofredakteur van die nuwe ooptoegang-tydskrifte African Public Procurement Law Journal en Ukumela: Journal of legal reasoning, writing and education. Die laasgenoemde twee tydskrifte is die eerste van hul soort op die Afrika-vasteland. In 2013 en 2015 word Quinot erken as een van die top 50 mees produktiewe navorsers aan die US.

Quinot word dikwels gevra om te help met nasionalebeleid- en regulatoriese ontwikkeling in sy vakgebiede. In 2012/3 dien hy in ’n ministeriële taakspan in die Suid-Afrikaanse Nasionale Departement van Gesondheid, met die fokus op die hervorming van gesondheidverkrygingstelsels in Suid-Afrika. In 2014 voltooi hy ’n uitgebreide navorsingsprojek vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Tesourie oor die stigting van die Kantoor van die Hoofverkrygingsbeampte en staan daarna die Kantoor by met die hervorming van die Suid-Afrikaanse staatsverkrygingsreg. Tussen 2014 en 2016 is hy die Suid-Afrikaanse Raad vir Hoër Onderwys behulpsaam met die opstel van ’n kwalifikasiestandaard vir die LLB-graad, wat as akkrediteringsmaatstaf vir alle programme vir die LLB-kwalifikasie in Suid-Afrika dien. In 2014 adviseer hy die Suid-Afrikaanse Vereniging van Dekane in Regsgeleerdheid (SALDA) oor ’n gepaste pedagogie vir onderrig in regsgeleerdheid in Suid-Afrika ooreenkomstig die Grondwet van Suid-Afrika 1996.

As advokaat adviseer Quinot oor administratiefreg- en veral staatsverkrygingsregkwessies vir sowel publieke aankopers (staatsinstellings) as staatsleweransiers. Quinot behaal ’n BA (Regte) en LLB, albei cum laude, aan die US (en ontvang die kanseliersmedalje vir laasgenoemde); ’n LLM as Fulbright-genoot aan die Universiteit van Virginia se Skool vir Regsgeleerdheid in die VS; ’n MA (Hoëronderwysstudie) cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat; en ’n LLD (doktor in regsgeleerdheid) aan die US. Hy is tans besig met ’n MPA-graad aan die Universiteit van Birmingham in die Verenigde Koninkryk.

Opsomming van Hoofrede
Deur Prof Geo Quinot

Konferensietema: “(Jou) Onderrig Maak Saak”

Hierdie aanbieding handel oor ’n samewerkende onderrig-en-leerparadigma deur die verwantskap tussen die “JOU” en die “ONS” in onderrig te ondersoek. Die referaat verbind individuele onderrigpraktyk aan ’n praktykgemeenskap deur middel van die Afrikawaarde van ubuntu, en besin daaroor of so ’n samewerkende paradigma nie straks meer gepas is vir ’n universiteit met die visie om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit” te wees nie. Op ’n teoretiese vlak verken die aanbieding so ’n samewerkende onderrigparadigma wat op Afrikawaardes berus aan die hand van bestaande onderrigteorieë soos sosiale konstruktivisme, koöperatiewe teenoor samewerkende leer sowel as ’n sorg-etiek en -pedagogie. Dit ondersoek of ’n samewerkende paradigma dalk meer gepas is vir ons konteks as die hoogs individualistiese benadering wat die tradisionele liberale begrip van ’n universiteit kenmerk. Daarbenewens bestudeer die referaat die rol van identiteite in ’n samewerkende onderrigparadigma.

Hierdie temas word met verwysing na ’n aantal onderrigdimensies ondersoek:

  • Wat uitkomste betref, word daar gevra of uitkomste noodwendig met die individu in gedagte geformuleer moet word, met ander woorde met die klem op watter individuele vaardighede in ’n module ontwikkel word, en of dit moontlik is om uitkomste ’n meer samewerkende aksent te gee.
  • Met betrekking tot kurrikulum word daar gevra of die studie van ’n bepaalde gebied binne ’n bepaalde module binne ’n bepaalde program deur ’n individuele student enigsins samewerkende leeruitkomste kán oplewer.
  • In verband met pedagogie word daar gevra of die paradigma vir die ontwerp van onderrigaktiwiteite op die individuele student en die ontwikkeling van daardie individuele student se vaardighede ingestel is. Wat is ons bedoeling met onderrigaktiwiteite – om gewoon die een of ander vaardigheid of kennis te ontwikkel, of om ook samewerking en ’n gevoel van samehorigheid, deelname en waarde as lid van ’n gemeenskap aan te moedig, of dalk net om ’n positiewe ervaring van betrokkenheid te skep?
  • In die laaste en moontlik die uitdagendste vraag ondersoek die referaat of daar ’n meer samewerkende manier van assessering is, en of ons noodwendig beperk is tot assessering van die individuele student en sy/haar individuele pogings en ontwikkeling.