Natuurwetenskappe

Die Fakulteit Natuurwetenskappe beskik oor spesialiskennis oor 'n groot verskeidenheid navorsingsgebiede. Dit bring mee dat studente op hoogte bly van die jongste ontwikkelings in hulle gekose rigtings.

Tien van die drie jaar lange BSc-graadprogramme wat aangebied word, word verdeel in drie breë rigtings, naamlik biologiese, fisiese, en wiskundige wetenskappe. Hierdie breë rigtings word verder verdeel in programme met ’n meer spesifieke fokus. Wanneer ’n bepaalde program twee of meer verskillende opsies bied, word dit strome genoem. ’n Voorbeeld is die stroom Materiaaltegnologie, of die stroom Chemiese Biologie, of die stroom Chemie en Polimeerwetenskap wat almal lei tot die BSc-graad in Chemie. Ons bied ook twee interdissiplinêre graadprogramme aan, 'n BSc bestaande uit drie strome en 'n B in Datawetenskap met nege strome. Albei programme kan lei na interdissiplinêre nagraadse opsies.

Al die voorgraadse programme word ook as verlengdekurrikulumprogramme (VKP's) aangebied, maar slegs ’n beperkte aantal plekke is beskikbaar in die verlengdekurrikulumprogramme. Voorkeur word daarom verleen aan sosio-ekonomies benadeelde aansoekers. Hierdie programme duur hoogstens ’n jaar langer as die hoofstroomgraadprogramme. Gedurende hierdie jaar word voorbereidende modules aangebied vir toetrede tot hoofstroommodules vanaf die tweede jaar. VKP-studente behaal so dieselfde graad as hoofstroomstudente.

Benewens vakspesifieke kundigheid verwerf al ons studente ook noodsaaklike vaardighede deur die vak Wetenskap in Konteks, wat ’n verpligte eerstejaarsvak is. In hierdie vak leer studente om verskillende wetenskapsdissiplines te integreer. Terselfdertyd word wetenskaplike kommunikasievaardighede, basiese rekenaarvaardighede en graduandi-eienskappe ontwikkel wat nodig is vir ’n 21ste eeuse wetenskaplike.

Waar enigsins moontlik, word studente aangemoedig om hulle BSc-studie op te volg met 'n honneursgraad wat hulle in staat sal stel om erkenning en registrasies (waar van toepassing) as professionele wetenskaplikes te bekom en so hulle beroepsgeleenthede te verbeter.

Indien jy as hoërskoolonderwyser wil kwalifiseer nadat jy 'n BSc-graad verwerf het, kan jy die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) in die Fakulteit Opvoedkunde volg. Jy moet jou graadprogram se vakke dan egter só kies dat jy twee skoolvakke kan aanbied.

Die Fakulteit wil alle studente toerus met die nodige wetenskapskennis en -vaardighede in hulle gekose rigting om van hulle gesogte werknemers te maak.

   Keuring

Al ons programme is keuringsprogramme. Kyk toelating en keuring. Lees gerus ook die Fakulteit se keuringsriglyne vir meer inligting oor die keuringsproses.

   Nagraadse programme

Alle voorgraadse programme in die Fakulteit Natuurwetenskappe kan opgevolg word met honneurs-, magister- en doktorale programme.

   Navrae

Kliëntedienssentrum

Tel: 021 808 9111

Faks: 021 808 3822

E-pos

Webwerf