Programme in Biologiese Wetenskappe

Die Fakulteit Natuurwetenskappe bied vier graadprogramme in biologiese wetenskappe aan waaruit jy een kies.

In die eerste jaar van al bogenoemde programme neem alle studente modules in Chemie, Fisika, Wiskunde, Biologie en Wetenskap in Konteks. In die Menslike Lewenswetenskappe-program se Biologie met Sielkunde-stroom neem jy ook Sielkunde, terwyl jy in die Sportwetenskapprogram ook Kinesiologie neem.

In jou tweede en derde jaar spesialiseer jy verder in jou gekose program, wat ook kan lei tot nagraadse studie in een van jou hoofvakke.

Hierdie programme reflekteer moderne tendense in die biologie en laat jou toe om binne perke jou eie kurrikulum volgens jou belangstellings en behoeftes saam te stel.

Indien jy as hoërskoolonderwyser wil kwalifiseer nadat jy 'n BSc-graad verwerf het, kan jy die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) in die Fakulteit Opvoedkunde volg. Maak egter seker dat jy jou graadprogram se vakke so kies dat jy twee skoolvakke kan aanbied. Afhangende van jou voorgraadse vakkombinasie, sou jy die volgende skoolvakke kon aanbied: Lewenswetenskappe, Natuurwetenskappe, Wiskundige Geletterdheid en Lewensoriëntering.