Programme in Fisiese Wetenskappe

Hierdie breë studierigting sluit programme in Chemie, Fisika, Aardwetenskap en GeoInformatika in, wat tot 'n groot verskeidenheid wetenskapgebaseerde beroepsmoontlikhede lei.

In die eerste jaar van al die programme in Fisiese Wetenskappe neem alle studente modules in Wiskunde, Wetenskap in Konteks, en, afhangend van die program, ook Chemie en/of Fisika en ander toepaslike modules.

In jou tweede en derde jaar spesialiseer jy verder in jou gekose program, wat ook kan lei tot nagraadse studie in een van jou hoofvakke.

Indien jy as hoërskoolonderwyser wil kwalifiseer nadat jy 'n BSc-graad verwerf het, kan jy die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) in die Fakulteit Opvoedkunde volg. Maak egter seker dat jy jou graadprogram se vakke so kies dat jy twee skoolvakke kan aanbied. Afhangende van jou voorgraadse vakkombinasie, sou jy van die volgende skoolvakke kon aanbied:

  • Fisiese Wetenskappe
  • Natuurwetenskappe
  • Wiskunde
  • Wiskundige Geletterdheid
  • Geografie
  • Inligtingstegnologie