Die Erflatingsgilde | The Heritage Guild

Skenkerverhale

Bemaking beloop miljoene vir US

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n stewige finansiële hupstoot gekry vanuit 'n onverwagse oord. Anna Maria Kuchler, wat in Junie 2009 op die ouderdom van 92 oorlede is, het R1.7 miljoen in kontant en aandele ten bedrae van R14.3 miljoen aan die Universiteit bemaak. In Januarie vanjaar was dieselfde aandele portefeulje R18 miljoen werd.

Dit was Me Kuchler, of Marietjie soos sy alombekend was, se wens dat haar nalatenskap tot voordeel sal wees van 'n instansie waar dit 'n daadwerklike behoefte sal aanspreek. Soos bepaal in haar testament, sal die Universiteit hierdie vrygewige bemaking gebruik om 'n beurs op die been te bring wat tot voordeel sal wees van Afrikaanssprekende studente wat gematrikuleer het by skole in die Stellenbosch omgewing.

Me Kuchler was nooit 'n student aan die Universiteit nie, maar het 'n verbintenis met die Universiteit gehad deur haar jarelange vriendskap met Mev Liza van Staden. Mev Van Staden is die dogter van mnr AP du Preez, 'n oud-raadslid van die US. Me Van Staden se man, mnr Niel van Staden, het Me Kuchler geadviseer oor haar beleggings en ook haar boedel. Hy is ook die een wat haar vertel het van die groot behoefte vir beurse vir matrikulante in die Stellenbosch omgewing.

Me Kuchler, 'n immigrant uit Nederland, het in 1954 in Suid-Afrika aangekom toe werk na afloop van die Tweede Wêreldoorlog nog baie skaars in Europa was. Sy was destyds vergesel deur 'n vriend mnr Antonie (Toon) Blijenberg. Mnr Blijenberg is vyf jaar na hul aankoms in 1959 oorlede.

Me Kuchler, wat ongetroud gebly het, het haar in Seepunt in Kaapstad gevestig waar sy as 'n algemene kantoorbestuurder gewerk het tot haar aftrede sowat dertig jaar gelede. Me Kuchler, 'n kranige brugspeler, het as besigheidsvrou 'n voorliefde gehad om in aandele te belê en het so 'n aansienlike aandele-portefeulje opgebou.

"Die Universiteit is baie dankbaar vir hierdie groot bemaking. Dit is visionêre mense soos Me Kuchler wat hierdie instansie die geleentheid bied om uit te reik na belowende matrikulante. Ons beskou hierdie bemaking as a geskenk vir 'n volgende generasie," het prof Russel Botman, Rektor en Visie-Kanselier van Universiteit Stellenbosch gesê.

"Hierdie erflating het die potensiaal om matrikulante van die Stellenbosch omgewing, wie daarby gaan baatvind, se lewens te verander," het mnr Hugo Steyn, Koördineerder: Erflatings, gesê.

Vir meer inligting kontak mnr Steyn by tel: 021 808 3615, e-pos: hugos@sun.ac.za

Dogter van Victoria Kollege-oudstudent doen nuwe bemaking aan Universiteit Stellenbosch

Pauline Marguerite Groves, wat die Chisnall Trust gestig het om talentvolle agtergestelde universiteitstudente te ondersteun, het 'n bemaking aan die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen wat aangewend sal word om sy Instituut vir Wiskunde en Wetenskap Onderwys (IWWOUS) te sterk.

Dit is te danke aan prof Chris Brink, oud-Rektor van die US, dat mev Groves, 'n gegradueerde in Wiskunde aan die Universiteit van Kaapstad, 'n lang verbintenis met die US het. Dit is ook prof Brink wat haar bekendgestel het aan IWWOUS en die opwindende nuwe ontwikkelinge in die transformasie van wiskunde-onderrig om leerders en universiteitstudente doeltreffender vir Hoër Onderwys toe te rus. Mev Groves het die wens uitgespreek dat haar bemaking in skole aangewend sal word om die verbetering van wiskunde-onderrig te ondersteun en om stukrag aan dienende onderwysers se beroepsontwikkeling te verleen.

Haar gesin se verbintenis met Stellenbosch strek selfs verder terug. Mev Groves se vader, Gerrit Adam Chisnall, was een van die eerste gegradueerdes van die Victoria Kollege en 'n tydgenoot van die bekende Paul Roos. Mnr Chisnall het toentertyd nie oor die geldmiddele beskik om aan Victoria Kollege in te skryf nie, maar 'n studiebeurs wat aan hom toegeken is toe hy matriek in 1897 in die "eerste klas" geslaag het, het die pad vir hom oopgemaak. Uit erkentlikheid aan die studiebeurs wat haar vader meer as 100 jaar gelede in staat gestel het om te kan studeer aan die inrigting wat later die Universiteit Stellenbosch sou word, het mev Groves die Universiteit onder die begunstigdes in haar testament ingesluit.

Voor die stigting van die Chisnall Trust het mev Groves geldelikbehoeftige studente op informele wyse ondersteun. Haar filosofie dat geld uit bemakings aangewend word om sosiale kapitaal te genereer, het talle agtergestelde studente in die jare tussenin gehelp.