Matie-stemme

Dr Edward Turner

Alumnus van die Fakulteit Teologie


“Die oorgang van teologie na besigheid was op ’n manier ’n baie praktiese een.”

Dr Edward Turner beskryf homself as ’n verhoudingsmens—of dit nou met mense, woorde of syfers is.

Dit is ’n filosofie waaraan hy sy hele loopbaan lank al werk—eers as ’n teoloog, later in rekeningkunde, en vandag as uitvoerende hoof van korporatiewe beleggings by Nedbank in Namibië.

“Die oorgang van teologie na besigheid was op ’n manier ’n baie praktiese een, sê Edward, wat verskeie nagraadse grade aan die Universiteit Stellenbosch (US) behaal het.

“Annalien Moore en ek het in Desember 1997 getrou nadat ek my doktorsgraad in Ou Testament teologie voltooi het. Sy het haar finale jaar in dieetkunde aan die Tygerbergkampus in 1998 begin en dit was nie sinvol dat ek vir posisies buite Kaapstad aansoek doen nie en al die beskikbare posisies in die bediening was ver vanaf Kaapstad.

“Nog ‘n rede vir die skuif na besigheid hou verband met blootstelling wat ek in 1997 aan McKinsey & Company gehad het. Tydens onderhoude met McKinsey en Company het ek my aptyt vir besigheid en finansies ontdek. Toe ek ‘n geleentheid kry om by Boland PKS / Bank in 1999 aan te sluit na ‘n jaar by Old Mutual, het ek besluit om ‘n geoktrooieerde rekenmeesterskwalifikasie aan te pak. Aangesien getalle altyd een van my natuurlike vaardighede was, was dit ‘n maklike oorgang van sosiale tot finansiële wetenskap.”

Hy beskryf ook die wêreld van korporatiewe sake as onder meer een van mense, woorde, en syfers.

“Ek is geseënd met die vermoë om syfers meestal te verstaan, maar ek is ook nie gemaak om van die môre tot die aand syfertaal te praat nie.

“Dit is eerder die transaksies wat ek beklink en my tevrede kliënte waaruit ek my emosionele satisfaksie verkry. Verkope is ook een van my passies en ek kan dit in my huidige posisie inkorporeer.”

Sy daaglikse pligte sluit in om korporatiewe beleggingsgeleenthede te vind en ’n span beleggingsbankiers met ’n soortgelyke fokus te bestuur.

“Ek sou tipies belangstel in die finansiering van groot infrastruktuurontwikkelings, byvoorbeeld ’n vervaardigingsaanleg. My werk behels die opspoor van die transaksies, die prosesbestuur tot by die kredietgoedkeuring vir die transaksies en die kliëntverhoudings daarna.

“As hoofbewerker is ons tans betrokke by ’n aantal transaksies waarvoor ons aangestel word om bruto ekwiteit (of kapitaal) vir nuwe Namibiese projekte oor ’n uiteenlopende spektrum nywerhede te verkry en te struktureer.”

Deur die maatskappy het Edward die geleentheid gehad om by verskeie interessante maatskaplike en omgewingsprojekte betrokke te raak, soos die aanplant van bome en die bou van lae- en middelinkomste- residensiële behuising.

“Ek is ook die voorsitter van die skoolraad van die Laerskool Pionierspark in Windhoek, en is onlangs genader om betrokke te raak by ’n Namibiese entiteit sonder winsoogmerk wat volhoubare sosioëkonomiese impak op mense se lewe beklemtoon.”

Weg van sy korporatiewe persona beskryf hy homself as ’n man wat al 20 jaar gelukkig getroud is, en die pa van vier kinders.

“My kantoorwerk verloop teen ’n vinnige pas en behels lang ure, en daarom bestee ek graag my vrye tyd saam met my gesin, om kos te maak, te lees of om te skryf.

“As ’n gesin geniet ons dit om saam te gaan kamp. Trouens, ek het my vrou, Annalien, ontmoet op ’n staptog van die Berg- en Toerklub deur die Gamkaskloof (Die Hel).”

- Deur Steyn du Toit -