Matie-stemme

Matthew de la Hey

Alumnus van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“Mense is oor die algemeen oop om te help – dit is geen skande om uit te reik en om raad te vra nie!”

Op die platteland in KwaZulu-Natal het Matthew de la Hey van kleins af geweet watter rigting hy in sy loopbaan wou inslaan. Nietemin was hy nie onversetlik oor hoe die pad sou verloop nie.

Hy het vanaf 2008 tot 2012 aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer en sy BRek en BRek (hons) voltooi. “Ek het ’n wonderlike tyd op Stellenbosch gehad en ’n klomp lewenslange vriende gemaak, afgesien van die handjievol akademici wat ek ontmoet het en uiteindelik my mentors of vriende geword het. Hulle het my aangespoor om meer te bereik.”

Hy word gemotiveer deur die begeerte om sy volle potensiaal te behaal. “Ek besef dat ek wonderlike lewensgeleenthede gehad het en ek voel verplig om hulle te gebruik om ’n verskil te maak. Ek voel daar rus ’n groot taak op my skouers om my lewe relevant te maak, ek wil ’n blywende verskil in die wêreld maak. Daardie doel hou my gefokus en gee my dryfkrag.”

Matthew is in 2011 vir die Suid-Afrika-Washington Internasionale Program (SAWIP) gekies, en het ’n tyd lank in Washington DC bestee waar hy ’n internskap by die Wêreldbank gedoen het. SAWIP is ’n inisiatief van die Washington-Ierland-diens-en-leierskapprogram (WIP) wat daarop gemik is om ’n nuwe generasie etiese Suid-Afrikaanse diensleiers te inspireer, te ontwikkel en te ondersteun.

In 2012 is hy as ’n Mandela Rhodes-beurshouer vir sy finale honneursjaar op Stellenbosch gekies. Hy het die eerste professionele eksamen in 2012 as ’n geoktrooieerde rekenmeester afgelê, maar voor hy sy internskap kon begin, is die Weidenfeld-beurs van die Universiteit van Oxford aan hom toegeken. Daar het hy as lid van die New College vir ’n MSc in Afrikastudies ingeskryf. Sy navorsing fokus op die verandering van landbougedrag onder kleinboere in die eertydse tuislande, met die klem op die voormalige Transkei-dorpie Mbotyi. Nadat die Weidenfeld-beurs vir ’n tweede maal aan hom toegeken is, het hy by die Oxfordse Saïd-sakeskool ingeskryf waar hy ’n MBA behaal het.

Daarna het hy vir ’n rukkie by ’n privaat ekwiteitsfonds gewerk, voordat hy die medestigter van ’n tegnologie-beginnermaatskappy genaamd inploi (www.inploi.com) geword het. Dit is ’n aanlynmark wat werksoekers verbind met maatskappye wat op soek is na personeel via ’n reeks hulpmiddels wat dit vir hulle makliker maak om met mekaar in aanraking te kom en ’n professionele aanlyn netwerk te ontwikkel.

“Ek glo Stellenbosch het ’n baie blink toekoms. Die Universiteit hanteer die uitdagings om aan te pas by die 21ste-eeuse Suid-Afrika (en die moderne wêreld), en is ongetwyfeld goed op pad om erken te word as een van die top hoëronderwysinstellings in die wêreld,” sê hy.

Matthew probeer om moeilike situasies met moed en kalmte te hanteer en hy evalueer die situasie vir wat dit werklik is en nie vir wat hy dink of vrees dit is nie. Hy het wonderlike mentors en raadgewers wat hy om raad, leiding, menings en gedagtes nader en is dankbaar vir prof Stan du Plessis wat hom as student geïnspireer het.

“Ek is baie dankbaar vir hulle (my mentors) se vriendelikheid en hulp – om in die aansienlike wysheid en ondervinding van ander te kan deel, het my baie gehelp. Mense is oor die algemeen oop om te help – dit is geen skande om uit te reik en om raad te vra nie!”

- Deur Elbie Els -