Matie-stemme

Omphile Ramela

Alumnus van die Fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe


“’n Gehalte-opvoeding oorbrug daardie gaping en laat jou toe om te werk lank ná jou sportloopbaan verby is. Boonop het ek in my opvoeding belê omdat ek as boorling van Soweto nie net op krieket kon staatmaak nie. In my gemeenskap word opvoeding gesien as die hoeksteen om armoede en werkloosheid te ontsnap en ek is aangemoedig om die meeste te maak van die geleenthede wat ek deur my studies gekry het.”

Wanneer die Highveld Lions-kolwer en Universiteit Stellenbosch (US)-alumnus Omphile Ramela oor krieket praat, beskryf hy dit as ’n voertuig – die vervoerband wat hom na plekke geneem het waarheen hy dalk nie andersins sou gegaan het nie en wat ’n loopbaanweg in sport gebied het.

Hierdie krieketspeler, wat in Soweto gebore is, se talent is deur die Bakers Minikrieket-program ontdek toe hy nog in die laerskool was, en hy het die geleentheid gekry om St Peter’s Seunskool in Johannesburg van graad 5 tot graad 7 by te woon. Van daar is hy na St. John’s Kollege, weer eens danksy krieket.

In 2008 het krieket Omphile na Stellenbosch gebring, waar hy ’n lid en later kaptein van Maties Krieket se eerste span geword het.

Gedurende sy professionele krieketloopbaan het hy ook die Cape Cobras en Suid-Afrika A verteenwoordig. Die finale stap vir hom sal wees om die Proteas te verteenwoordig – die hoogtepunt vir enige krieketspeler.

Maar Omphile se fokus was nie net op krieket nie. Hy het sy BA-graad en twee honneursgrade, een in filosofie en een in ekonomie, aan die US verwerf. In 2015 het hy vir ’n meestersgraad in ekonomie ingeskryf met ’n fokus op ekonomiese geskiedenis. Hy het sy tesis in November 2017 ingedien.

Omphile was altyd baie bewus van die feit dat ’n loopbaan in sport van korte duur is.

“Die verdienstepotensiaal van atlete verskil afhangend van die vlak waarop jy speel. As jy nie vir minstens vyf tot tien jaar op die hoogste vlak van jou sportkode gespeel het nie, sal jy doodeenvoudig nie genoeg verdien het om van te leef wanneer jy ophou speel nie.

“’n Gehalte-opvoeding oorbrug daardie gaping en laat jou toe om te werk lank ná jou sportloopbaan verby is. Boonop het ek in my opvoeding belê omdat ek as boorling van Soweto nie net op krieket kon staatmaak nie. In my gemeenskap word opvoeding gesien as die hoeksteen om armoede en werkloosheid te ontsnap en ek is aangemoedig om die meeste te maak van die geleenthede wat ek deur my studies gekry het.”

Hy onthou veral die gasvryheid wat hy in sy eerste maand by die US van die beurskantoor, krieketbestuurder André du Toit en die krieketgemeenskap ontvang het, sowel as die geleentheid om tydens sy nagraadse studies na Spanje te reis.

Omphile sal talentvolle sportmense aanmoedig om by ’n tersiêre inrigting in te skryf, as hulle daarvoor kans sien. Alternatiewelik sal hy hulle aanmoedig om hulself beter toe te rus in watter opsig hulle ook al kan.

“Selfs om by Tegniese en Beroepsonderwys- en Opleidings- (TBOO) kolleges in te skryf om vaardighede aan te leer, is ’n waardevolle opsie. Daar is baie geleenthede vir studente-atlete wat ’n diverse denkpatroon na die korporatiewe ruimte bring.”

- Deur Pia Nänny -