Hoofredes

1.   HOOFSPREKER

Emeritus Professor Chrissie Boughey

Emeritus Professor van Hoër Onderwys

Vorige Adjunk Vise-Kanselier: Akademie en Studentesake (Rhodes Universiteit)

Onderrig in ‘n onseker tyd

Klik hier vir die isiXhosa weergawe

Akademiese onderrig het die afgelope jare deurspek geraak met onsekerhede. Groeiende getalle jongmense wat kwalifikasies wil bekom, het diversiteit meegebring – nie slegs wat studente se sosiokulturele en taalkundige ervarings betref nie, maar ook in hulle verwagtings van wat ’n universiteit is en wat hulle sal moet doen om sukses te behaal. Dit alles beteken dat ervarings van onderrig ontvang en van leer hedendaagse onderriggewers nie noodwendig sal baat nie.

Onderrig aan Suid-Afrikaanse universiteite verg dat ons ons geskiedenis in ag neem, uit die era voor sowel as na die eerste demokratiese verkiesing. Wat beteken dit vir ’n Suid-Afrikaanse akademikus wat in ’n groot lesingsaal staan om die realiteite te hanteer van die jongmense wat voor hulle sit, as hulle eie ervaring van universiteit – inderdaad, van ‘die lewe’ – soveel anders was? Wat beteken dit vir kundiges wat in vakgebiede opgelei is om om te gaan met oproepe om dekolonisering van die kurrikulum vanaf studente self sowel as diegene wat kurrikulumverandering op institusionele vlak bestuur?

My eie ervaring en akademieskap het my tot die gevolgtrekking laat kom dat, wanneer ’n mens oor sulke vrae besin, jou vertrekpunt moet setel in die besef dat onderrig ’n meganisme is om toegang tot die ‘goedere’ in die wêreld te reguleer. Dit is duidelik dat veral hoër onderwys hierdie funksie vervul, aangesien die toekenning van ’n kwalifikasie waarskynlik die pad na beter betaalde werk en hoër sosiale aansien baan. Onderrig is egter op geen vlak neutraal nie, want dit bevoordeel sommige bo ander op grond van hulle voorafgaande sosiale en kulturele ervarings.

Wanneer onderriggewers eenmaal hierdie punt ingesien het, kan dit hulle beskouing van studente transformeer, asook van wat hulle as opvoeder te doen staan. Vir talle onderriggewers verg dit ’n ‘pedagogie van vermensliking’ (‘humanizing pedagogy’; Salazar, 2013) om so ’n transformasie te bewerkstellig en, uiteindelik, die kurrikulum te dekoloniseer. Die vraag is dan hoe dekolonisering kan plaasvind sonder dat dit ’n impak het op die vermoë van akademiese kennis en maniere van kennis dra om die wêreld om ons te verduidelik, nou en in die toekoms (Bernstein, 2000; Young, 2007; Wheelahan, 2010; Muller, 2012).

Hierdie hoofrede wil sommige van die onsekerhede ondersoek waarvoor akademiese onderriggewers aan hedendaagse Suid-Afrikaanse universiteite te staan kom, en ’n weg vorentoe karteer deur die waarde van akademiese vorme van kennis en maniere van kennis dra te bepleit; en om terselfdertyd te erken dat baie wat tans aan universiteite waardevol geag en onderrig word met die ‘kennis van dié met die mag’ in die Globale Noorde saamval. Hierdeur wil die referaat ’n uitdaging rig aan alle akademici en onderriggewers wat hopelik tot ’n sosiaal regverdiger bestel kan bydra.

Bronnelys

Bernstein, B. 2000. Pedagogy, Symbolic Control, and Identity: Theory, Research, Critique. Rowman & Littlefield: Lanham, Maryland.

Muller, J. 2012. Reclaiming knowledge: Social theory, curriculum and education policy. Routledge: Londen.

Salazar, M. 2013. ‘A humanizing pedagogy: Reinventing the principles and practice of education as a journey toward liberation’. Review of Research in Education, 37(1):112-148.

Young, M. 2007. Bringing knowledge back in. Routledge: Londen.

Wheelahan, L. 2010. Why knowledge matters in curriculum. Routledge Londen.


2. HOOFSPREKERSPANEEL

Die Hoofsprekerspaneel bied verskillende universiteitstemme ter reaksie op die insigte van die Hoofspreker.

Prof Faadiel Essop – Fisiologiese Wetenskappe

ResearchGate

Prof Vasti Roodt – Filosofie

ResearchGate

Dr Albert Strever – Wingerd en Wynkunde

ResearchGate

Dr Rhoda Malgas – Bewaringsekologie en Entomologie

ResearchGate


3. CIRCORE SPREKERSPANEEL

Die Khampepe-verslag se aanbevelings het die US se aandag gevestig op die rol wat die voorgraadse kurrikulum speel om studente te help om dwepery te identifiseer en te konfronteer, of dit nou van jouself kom of van die omgewing waarbinne jy beweeg.

’n Werkstroom is gestig om te ondersoek of en hoe kritiese burgerskap by die US se fakulteite onderrig word en om aanbevelings te maak oor die beste manier om te werk te gaan om gegradueerdes op te voed wat in staat is om onreg en ongelykheid in die werkplek en hul sosiale omgewing te konfronteer.

Ons nooi graag alle deelnemers aan die AvOL konferensie na ’n hoofrede gespreksessie om die werk wat tot dusver deur die Kurrikulumwerkstroom van die CIRCORE gedoen is te bespreek en verdere perspektiewe oor die saak in te win. Die werk sal in ‘n paneelformaat aangebied word deur Dr Lis Lange (Voorsitter van die Werkstroom), Prof Karin Wolff en Prof Bradley Slade.