Mikrobiologie

Vir meer inligting:

Tel: +27 (0)21 808 5847

E-pos

Webwerf

Nagraadse programme

Om die programme se leerplanne te sien, volg die skakels hieronder. Vir nadere inligting, kyk ons Jaarboek.

HonsBSc in Mikrobiologie

MSc in Mikrobiologie

PhD in Mikrobiologie

DSc in Mikrobiologie

Oor die Departement

Die Departement Mikrobiologie het meer as 50 jaar gelede tot stand gekom en handhaaf reeds ruim drie dekades 'n hoë navorsingsprofiel met 'n fokus op bakteriologie, mikologie en omgewingsnavorsing, met toepassings in die voedsel-, farmaseutiese en bio-energienywerhede. Die navorsing op industrieel belangrike giste het reeds internasionale erkenning verdien en plaaslik ontwikkelde wyngiste word alreeds internasionaal geproduseer. Navorsing op die produksie van bakteriosiene deur melksuurbakterieë geniet ook internasionale erkenning en EntiroTM, 'n kommersiële probiotiese produk is reeds in die plaaslike mark gevestig en word ook internasionaal bemark. Daar is ook 'n sterk navorsingsbelangstelling in waterverwante mikrobiologie, mikrobiese ekologie, veral die studie van biofilms en interaksies, sowel as die identifikasie van belangrike mikrobiese taxa in die fynbosbioom.

Die Departement Mikrobiologie is gasheer vir twee navorsingsleerstoele:

  • 'n Navorsingsleerstoel in Biobrandstof en Ander Skoon Alternatiewe Brandstowwe as deel van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoelinisiatief (SARChI); en
  • die ERWAT-leerstoel in Afvalwaterbestuur.

Navorsingsrigtings

Bakteriële navorsing: In hierdie breë veld onderneem ons projekte oor die molekulêre biologie van bakterieë en hulle plasmiedes; melksuurbakterieë, hulle taksonomie, hulle gebruik in gefermenteerde voedsel, die bakteriosiene wat hulle produseer en die aanwending daarvan in die nywerheid en op mediese en veterinêre gebied.

Fungi- en gisnavorsing: Ons ondersoek die diversiteit en heteroloë uitdrukking van ensieme wat gebruik word vir die afbraak van plantmateriaal in fungi en giste, met 'n breër fokus op die produksie van biobrandstowwe en die aanwending van ensieme in voedselprosesse. Ander projekte fokus op die ontdekking en manipulering van ensieme en verbeterde geenuitdrukking in fungi en giste. Daar is 'n groot mate van oorvleueling in die bestudering van die aktiwiteite van plantafbraakensieme, die aanwending van ander ensieme van belang vir die nywerheid, gisfisiologie en genetika.

Omgewingsnavorsing: Ons doen navorsing oor mikrobiese gemeenskappe van fynbosgrond, met die klem op geselekteerde genera soos Cryptococcus, Mucor, Fusarium en Penicillium.

Waterverwante navorsing: Hierdie navorsing fokus op die monitering en optimering van huishoudelike reënwateropvangtenks, die profielsamestelling van wateroordraagbare patogene vir antibiotika- en metaalweerstand, watersuiwering en sanitasie, sowel as waterbrongebruik en -bestuur. Laasgenoemde strek tot by omgewingswetenskap, spesifiek om die vraag na natuurlike hulpbronne (vir o.a. voedselproduksie, en energie) vas te stel.