Plant- en Dierkunde

Vir meer inligting:

Tel: +27 (0)21 808 3236

E-pos

Webwerf

Vir meer inligting:

Tel: +27 (0)21 808 3236

E-pos

Webwerf

Nagraadse kwalifikasies

Om die programme se leerplanne te sien, volg die skakels hieronder. Vir nadere inligting, kyk ons Jaarboek.

HonsBSc in Biodiversiteit en Ekologie

MSc in Plantkunde

PhD in Plantkunde

DSc in Plantkunde

MSc in Dierkunde

PhD in Dierkunde

DSc in Dierkunde

Oor die Departement

Die Departement doen navorsing en gee onderrig op nagraadse vlak in 'n verskeidenheid van internasionaal kompeterende navorsingsprogramme. Dit is 'n leier op die gebied van evolusionêre biologie, met 'n spesifieke fokus op die unieke geleenthede wat Afrika se biodiversiteit bied.

Dis ook die tuiste van die DWT/NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB). Hier word wetenskaplike kennis gebruik om die vermoë te verbeter om indringerspesies te verstaan, te beheer en te bestuur, en sodoende die lewenskwaliteit van alle Suid-Afrikaners te verbeter.

Navorsingsrigtings

Evolusionêre ekologie en fisiologie van diere: Dit fokus op die funksionering van organismes in hul geheel en hoe dit beïnvloed word deur veranderinge in die omgewing. Dit sluit drie hoofonderwerpe in:

- eienskappe wat noodsaaklik is vir die funksionering van die organisme;

- die omgewing wat deur die organisme waargeneem word en in hoe 'n mate die omgewing varieer; en

- die strategieë of aanpassings wat organismes gebruik om die veranderlike of suboptimale omgewings te kan hanteer en wat gedrag, aanpasbare fisiologiese response en evolusie insluit.

Evolusionêre ekologie: Hierdie navorsing gebruik 'n geïntegreerde benadering wat perspektiewe vanaf molekulêre vlak tot op gemeenskapsvlak insluit, om twee breë temas te dek:

- die evolusie en ekologie van interaksies tussen plante en hulle simbionte; en

- die diversifikasie van die Kaapse biota en die gevolge hiervan op hulle saambestaan.

Spesifieke onderwerpe sluit in die evolusie van spesialisasie, blomdiversifikasie, plantvoortplantingstelsels, gemeenskapsamestelling, ko-evolusie, plant-insek diversiteitsverhoudings, insek/voël-gedrag, saadverspreiding, spesiasie, hibridisering, poliploïdie, plant-insek-fungus-bakterieë interaksies, diversitiet van plantgroeivorme, plantsistematiek en taksonomie.

Dier-plant interaksies: Hierdie navorsing dek 'n verskeidenheid van onderwerpe en gebruik 'n geïntegreerde benadering tot die bestudering van blomdiversifikasie, plant-insek-interaksies, plant-insek-diversiteitverhoudings, insekgedrag en hoe dit verband hou met blomevolusie, die kleur van blomme, verspreidingsevolusie, die oorsprong en voorbestaan van spesies, die saambestaan van spesies en die diversifikasie van die Kaapse fauna en flora.

Gedragsekologie: Hier is die fokus hoofsaaklik op dierekommunikasie, in die besonder die evolusie van diereseine, of hulle nou olfaktories, akoesties of visueel van aard is. Een aspek van die navorsing is die analise en identifikasie van die seinsisteme wat gebruik word deur sosiale insekte vir die handhawing van koloniekoördinering en -funksionering, wat essensieel is om die evolusie van sosialisering in die diereryk te ontrafel. Nog 'n fokus is op verskeie kommunikasiestrategieë wat deur voëls en soogdiere gebruik word met betrekking tot mimikrie, paringskeuse, paringsmaatbeskerming, territorialiteit en hulpgedrag.

Kaapse flora navorsingsgroep: Hierdie navorsing fokus hoofsaaklik op DNS-gebaseerde filogenetiese rekonstruksie en die algemene biologie van die organisme (bv. morfologie, palinologie, kariologie en voortplantingstelsels) om die evolusie van 'n aantal Kaapse ontwikkelingslyne te rekonstrueer. Dit is gefokus op die evolusie van alternatiewe groeivorme, die evolusie en verval van die tristylie voortplantingstelsel, die evolusie van nie-rustende sade en wisselende saailing-aanwasstrategieë, die rol van hibridisasie as dryfveer van die waargenome diversiteit en die mutualistiese interaksies tussen fynbosplante, ophiostomatoïede fungi en insekte.

Indringerbiologie: Lede onderneem navorsing oor die gevolge wat biologiese indringing vir biodiversiteit inhou. Die hoofdoelwitte van die Sentrum se werk is om die tempo en impak van biologiese indringing te verminder deur die bevordering van wetenskaplike begrip en voorspellingsvermoë, asook die ontwikkeling van navorsingskapasiteit.

Ekofisiologie: Die huidige en voornemende navorsingsaktiwiteite van hierdie groep val in twee basiese belangstellingsvelde:

- Herpetologie en omgewingsgesondheid (endokriene ontwrigting) wat ons in staat stel om basiese beskrywende navorsing te onderneem en om hipoteses te toets wat verband hou met ons navorsingsprogram.

- Ons fokus sterk op praktiese vraagstukke soos chemikalieë wat endokriene ontwrigting in die wateromgewing veroorsaak. Die meeste van ons huidige projekte sluit visse, amfibieë en reptiele as modelsisteme in.

Evolusionêre genomika: Lede van die Evolusionêre Genomika-groep kombineer hulle uiteenlopende velde van kundigheid in molekulêre analise om die evolusionêre geskiedenis van land- en mariene fauna en flora te bestudeer. Die navorsing is nie taksonspesifiek nie en is daarop gemik om konseptuele, eksperimentele, analitiese en berekeningskundigheid in molekulêre ekologie, bewaringsgenetika, vergelykende sitogenetika, populasiegenetika, filogeografie, vergelykende genomika en molekulêre filogenetika te versterk.

Marienenavorsing: Hierdie navorsingsgroep het vier hoof fokusareas: Die biogeografie en voortplanting van borselwurms, mariene indringingsekologie, molekulêre mariene ekologie, en die volhoubare kweking van weekdiere. Hierdie groep gebruik moderne navorsingsmetodes om Suider- Afrika se dinamiese mariene gebied beter te verstaan. Navorsingsprojekte is divers en varieer van die toepassing van genetika in mariene bewaringsgebiede, tot die vasstelling van die impak van uitheemse mariene spesies.

Plantvoedingsfisiologie: Die navorsing fokus op die molekulêre plantfisiologie van fosforvoeding gedurende plant-mikrobe-interaksies. Die werk is gerig op die fosforvoeding van peulgewasse in simbiose met mikorisas en stikstofbindende bakterieë. Dit behels die integrasie van klassieke plantfisiologiese metodes met moderne hulpmiddels soos transkriptomika en proteomika. Verskeie peulgewasse word gebruik in spesifieke projekte, wat modelpeulgewasse insluit soos: (Medicago truncatula, Lupinus spp; Phaseolus vulgaris) inheemse peulgewasse (Virgilia spp, Aspalathus spp, Cyclopia spp) en indringerpeulgewasse (Acacia spp).

Funksionele biologie van werweldiere en herpetologie: Die groep vir die funksionele biologie van werweldiere poog om basislyn biologiese data oor die laer werweldiere van Suider-Afrika te genereer deur die bestudering van:

- vuurekologie van laer werweldiere;

- fisiologiese biomerkers as indikators van omgewingsverandering,

- energiebalanse en termoregulering: akkedisse as wagte vir globale klimaatsverandering;

- voortplantingsbiologie van Suider-Afrikaanse reptiele; en

- evolusionêre biologie van gordelakkedisse.

Globale veranderingsekologie: Die fokus is hoofsaaklik op klimaatsverandering en gekoppelde impak op unieke en dikwels hoë-biodiversiteit Suider-Afrikaanse land-ekosisteme, insluitend sub-Antarktiese eilande.Eksperimentele ekofisiologiese en sisteem-ekologiese benaderings word toegepas om die meganistiese begrip onderliggend tot biodiversiteitsresponse op klimaatveranderingtendense en tot ander wêreldwye veranderingsdryfvere te ontwikkel, asook die strukturele en funksionele impak van sulke veranderinge op die ekosisteme. Hierdie begrip word gekombineer met bioklimatiese nisgebaseerde modelleringsbenaderings (NBM: bioclimatic niche-based modelling), hibriede NBM/demografiese benaderings, en dinamiese wêreldwye plantegroei modelleringsbenaderings (DGVM: global vegetation modelling) in samewerking met die voorste groepe wêreldwyd. Voorspellingstoepassings dek 'n wye reeks van ruimtelike skale van sublandskapvlak tot op kontinentale vlak. Hierdie navorsing het potensiële beleidswaarde en implikasies vir biodiversiteit- en ekosisteembestuur.

Medisinale plantbiotegnologie: Hierdie groep fokus op die gebruik van plante deur inheemse mense vir medisinale doeleindes. Die doel is om 'n beter begrip te verkry van die invloede van die omgewing op medisinale plante en die gepaardgaande sekondêre metaboliete spesifiek in die regulerende meganismes wat betrokke is in sekondêre metabolietproduksie. Biotegnologie word toegepas in 'n bewarings- en kommersialiseringsstrategie. Die groep fokus hoofsaaklik op medisinale plante wat belangrik is in die groter Kaap en omstreke.

Molekulêre plantekologie: Hierdie navorsing is hoofsaaklik gerig op die evolusionêre biologie en molekulêre ekologie van beide inheemse en indringer-plantspesies. Die hooffokusareas van die navorsing sluit in:

- 'n begrip van die demografiese prosesse onderliggend tot indringerplantpopulasies;

- die historiese biogeografie van inheemse plantpopulasies en die prosesse wat hulle gevorm het;

- landskapgenetika van indringerplantpopulasies; en

- die gevolg van ekstreme langafstandsverspreiding in die verduideliking van die historiese verspreiding van disjunkte populasies plantspesies.