Skip to main content

Corvin Matei

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

corvin@sun.ac.za

Die dirigent, fluitis en gerespekteerde leermeester, Corvin Matei, is Professor in Fluit en Dirigeerkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die stigter en Musiekdirekteur van die Kaapstadse Konsertorkes en die Musiekdirekteur van die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes.
Matei, ‘n Roemeniër van geboorte, het ‘n meestersgraad in uitvoerende musiek (fluit) aan die Boekarestse Musiekkonservatorium behaal. Gedurende sy studie het hy ook orkesdirigeerkursusse en meesterklasse onder vooraanstaande Roemeense dirigente bygewoon en aan internasionale feeste in Duitsland (insluitende Bayreuth), TsjeggoSlowakye, Bulgarye, Frankryk, Spanje en Italië deelgeneem.

Nadat hy sy graad verwerf het, het Matei ‘n oudisie by die George Enescu Filharmoniese Orkes afgelê, waar hy vervolgens aangestel is en vir sewe jaar onder dirigente soos Celibidache en Mazur gespeel het. In die sewe jaar by hierdie orkes het hy ook as solis saam met ander prominente orkeste in Roemenië opgetree en meer in die dirigeerkuns begin belangstel. Dit het hom Witold Rovitscki se Somermeesterklasse in Wenen en Sergiu Celibidache se Meesterklasse in Boekarest laat bywoon. Verder het hy verskeie opnames vir die Roemeense Radio en Televisie gedoen, terwyl die eerste prys in die Roemeense Nasionale Kompetisie van 1976 en 1983 aan hom toegeken is.
In 1983, nadat hy Roemenië verlaat het, het hy dirigeerkuns by professor Erich Kluge aan die Cologne Konservatorium studeer. Met die Cologne Kamerorkes se toer na die suide van Frankryk het hy beide as solis en dirigent opgetree.

In 1985 is Corvin Matei as eerste fluitis van die Kaapstadse Simfonieorkes aangestel, waar hy vir twaalf jaar uitvoerings gelewer het. In hierdie tydperk het hy ook in solokonserte saam met die Kaapstadse Simfonieorkes, die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) se Kamerorkes en die Bloemfonteinse Simfonieorkes opgetree. Vanaf 2001 was hy meer as ‘n jaar lank die eerste fluitis van die nuwe Kaapse Filharmoniese Orkes. Hy het ook opnames vir die SABC gedoen, en sy eerste CD, Music for Flute and Harp, was ‘n groot sukses. In dieselfde jaar het hy ‘n PhD aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Vanaf 1997, nadat hy onder Bernard Gueller (een van Celibidache se beste studente) gestudeer het, het Matei met ‘n druk dirigeerskedule begin. In SuidAfrika het hy die Johannesburgse Filharmoniese Orkes; die Kaapse Filharmoniese Orkes; die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (wat in 2004 onder sy leiding die kategorie beste simfonieorkes uit 46 orkeste in die invloedryke Tygerbergse kompetisie verower het); die Kaapse Sinfonia; die Beau Soleil Simfonieorkes (waar hy van 2001 tot 2004 die hoof van die Departement Houtblaasinstrumente aan die Beau Soleil Musieksentrum was); en die Sans Souci Orkes (welke orkes onder sy leiding met die gesogte SAMROtrofee in die 1999 Eisteddfod bekroon is) gedirigeer.

In 2004 is dr Matei in die Departement Musiek aan die Universiteit Stellenbosch en as Musiekdirekteur van die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes aangestel. In dieselfde jaar het hy sy internasionale loopbaan as dirigent begin toe hy uitgenooi is om drie van Roemenië se voorste professionele orkeste te dirigeer. Sedertdien het hy al die groot Roemeense orkeste, sowel as orkeste in die Oekraïne en Bulgarye, gedirigeer. Corvin Matei is tans met ‘n druk dirigeerskedule in SuidAfrika en in die buiteland besig.

Close Menu