US Jazz-Orkes

In Stellenbosch gebaseer, is die Stellenbosch Universiteit Jazzorkes (SUJB) een van die Sertifikaatprogram se ensembles wat deur die Konservatorium se Musiekdepartement aangebied word. Die Sertifikaatprogram is geskep om ‘n veelsydige rol te vervul om lede van die breë gemeenskap die vaardighede te gee om ‘n instrument te bespeel en ook om hul kennis en insig omtrent bladlees en die begrip van musiek te verbreed.

Die Jazz-jeugorkes is daargestel vir studente wat lief is vir jazz en bestaan uit graadstudente, sertifikaatprogramstudente en hoërskoolleerders. Dit skep ‘n lewenskragtige vloei van energie en kruisbestuiwing van vaardighede tussen lede. Die SUYJB het sy eerste uitvoering as amptelike universiteits-jazzensemble in 2009 in die Endlersaal gegee met dawerende sukses. Tot op hede het die orkes opgetree by die Kaapse Jazzfees, in die Baxterteater, die Nasionale Jeug-jazzfees en die Oude Libertasteater in Stellenbosch. Die orkes het onlangs by ‘n fondsinsamelingsgeleentheid vir die Bethesda Hospies in George opgetree. In 2011 het die SUJB regstreeks opgetree op Good Hope FM tydens Nigel Pierce se program, asook by die openingseremonie van die Assosiasie van Afrika-universiteite (AAU), met Stellenbosch Universiteit as gasheer.

In 2012 het die SUJB beide hul eie kategorie asook die Nasionale Ensemblekompetisie in geheel gewen. Die afgelope tyd het die orkes se gewildheid aansienlik toegeneem met optredes by die Woordfees saam met kunstenaars soos Jannie Moolman, Gloria Bosman, Louis Loock, PJ Powers, Corlea Botha en Tete Mbambisa.

facebook