Skip to main content
All Posts By

Fiona

Féroll-Jon Davids

By Uncategorized @afNo Comments
fjd@sun.ac.za

Féroll-Jon Davids is tans die eerste klarinettis van die Kaapstadse Filharmonie. Hy beskik oor ‘n meestersgraad in Klarinetvoordrag (cum laude) va die Universiteit van Stellenbosch, en was ‘n student van twee vorige hoofklarinettiste, Daniel Prozesky en Maria du Toit. Gedurende sy studies het Féroll-Jon twee semester-uitruilings in die VSA gehad, nl. aan die Universiteit van Georgia (2018) en Montana State University (2020). Hy het meesterklas-onderrig by die Julliard-dosent Jon Mannasse, Killian Herold (Duitsland), Harri Mäkki (Finland), László Kuti (Duitsland), en Rupert Fankhauser (Oostenryk) ontvang.

Féroll-Jon het etlike toekennings ontvang, insluitend die eerste prys tydens die Mabel Quick Internasionale Beurskompetisie (2017); derde prys tydens die Unisa Beurskompetisie (2017); finalis by die ATKV-Muzik-kompetisie (2016), en kategoriepryse as solis in die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugmusiek-kompetisie (2015). Hy  het ook tydens jeug-concertofeeste oor die land heen opgetree.

In 2017 was Féroll-Jon ‘n deelnemer aan Disa, ‘n nuwe kamermusiekprogram in die Carnegie Hall in New York. Gedurende 2019 was hy deel van ‘n houtblaaskwintet wat in Payerbach (Oostenryk) die prys vir die beste vertolking van ‘n werk van Antonín Reicha ontvang het.

Annien Shaw

By Uncategorized @afNo Comments

Annien Shaw is ‘n Kaapstadgebaseerde solis, kamermusikus, barokviolis en onderwyser. Sy was ‘n student van Suzanne Martens, Jan Repko, Farida Bacharova en Louis van der Watt. Sy het ‘n PhD-graad in Voordrag aan die Universiteit van Kaapstad behaal, asook die PGDip en FRSM in solo-voordrag van die Royal Northern College of Music in Manchester, en ‘n Meestersgraad in Kamermusiek aan die Universiteit van Stellenbosch.

Tydens haar betrokkenheid by die Jeunesses Musicales World Orchestra, die KZN en Kaapstadse Filharmonie het sy waardevolle ondervinding van die orkespraktyk opgedoen. As kamermusikus het sy die Universiteit van Stellenbosch se pryswenner Nagraadse Strykkwartet op twee buitlandse konsertreise gelei. Sy is ook lid van die Juliet Strykkwartet, as aktiewe bevorderaar van nuwe plaaslike komposisies, en het eerste uitvoerings van musiek van Feder, Harley en ander, behartig.

Sy is nou betrokke in die Kaapstadse Barokmusiekveld saam met die Kaapstadse Consort en solis met die Camerata Tinta Barocca. Haar belangstelling in die barokviool is aangevuur deur Darragh Morgan en sy betrokkenheid by die Durbanse  Baroque 2000-groep. Tydens haar studies in Manchester het sy barokvioollesse van  Pauline Nobes ontvang, en meesterklasse van Antoinette Lohmann. Annien is ‘n gereelde student van die Tafelmusik Baroque SomeriInstituut, waar sy onder die leiding van Julia Wedman studeer.

Annien is ‘n stigterslid van die Flat Mountain Projek, en het ‘, lewendige belangstelling in kunstenavorsing. Sy het in 2012 ‘n FRSM-Diploma van die ABRSM ontvang vir haar illustrasie van die neo-klassisisme in die musik van Strawinski en Prokofjef. Haar PhD-navorsing oor vingertegniek in die werk van Louis Spohr kan gesien word as riglyne vir die uitvoeringspraktyk, en word aangevul met vier voordragte, insluitende drie concertos. Annien het by beide die Rhodes en Kaapstad repertoriumstudies, onderwysmetodiek, kamermusiek, orkesstudies, viool en altviool gedoseer, en is tans deeltydse dosent aan die Universiteit van Stellenbosch.

Die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees is terug!

By NuusNo Comments

Te midde van die Covid-19-pandemie, maar met `n positiewe uitkyk op die toekoms, het die  bestuur van die SIKMF begin om uitnodigings vir vanjaar se fees aan alle belangstellendes te rig. Die 17de SKIMF sal van 1 tot 10 Julie 2022 by die Konservatorium, die tuiste van die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement, plaasvind.

Oor 16 agtereenvolgende jare was die SIKMF `n belangrike gebeurtenis op die opvoedkundige en kunstekalender van die Wes-Kaap.  Die Covid-19-pandemie het ongelukkig meegebring dat die kamermusiekfeeste van 2020 en 2021 afgestel moes word. Voor dit het die fees jaarliks ongeveer 300 studente na Stellenbosch gelok, waarvan ongeveer 80% uit die verskillende provinsies van Suid-Afrika en 20% vanuit die buiteland afkomstig was. Die fees se Artistieke Direkteur, Nina Schumann, nooi jaarliks `n keur van die wêreld se mees vooraanstaande musici uit om op die fees se personeel te dien.

Planne is nou op koers om hierdie ware fees van klassieke musiek met die deelname van `n aantal beminde kunstenaars van vorige jare van stapel te stuur. Hulle is almal gretig om te onderrig, te inspireer en op ons plaaslike verhoë op te tree. Madeline Adkins, Alissa Margulis en Nicholas Dautricourt (viool), Gareth Lubbe (altviool), Marco Silva (trompet), Demarre McGill (fluit) en Weston Sprott (tromboon) is van die kunstenaars uit die VSA, Frankryk, Duitsland en Portugal wat in Suid-Afrikaanse studente en gehore se harte ingekruip het. Saam met `n nuweling soos Knut-Erik Sundquist (kontrabas) en Kyril Zlotnikov (tjello), het hulle reeds hul vaste onderneming gegee om aan die opkomende fees deel te neem.

Studente word uitgenooi om aanlyn te registreer by www.sicmf.co.za.  Die program en besonderhede omtrent kaartjieverkope sal oor ‘n paar maande bekend gemaak word.

 

 

Hanneke Zwamborn-Basson

By Uncategorized @afNo Comments

Hanneke Zwamborn-Basson het haar BMus-, HonsBMus- en MMus (Voordrag)-studies (Performance), – almal cum laude –  aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, met klavieronderrig van wyle Juliana de Villiers. Sy was die ontvanger van etlike beurse en pryse vir akademiese studies sowel as klavierspel, insluitende die Mabel Quick voorgraadse prys en die Mabel Quick Buitelandse studie, sowel as die Konservatorium-Stipendium vir die beste student. In 1994 het sy die UNISA-Voordraglisensiaat (cum laude) voltooi, en was die wenner van die klavierafdeling van die ATKV Forte-kompetisie. Sy het solis met etlike plaaslike orkeste opgetree. Na gevorderde studies in Nederland met Jan Wijn aan die Sweelinck Konservatorium in Amsterdam, het sy ‘n pos as klavieronderwyse aan die Hoërskool at Stellenbosch aanvaar, waar sy ook aan die hoof staan van die Kultuurafdeling. Hanneke is ‘n vryskut begeleier, en tree gereeld op as kamermusikus.

David Wolfswinkel

By Uncategorized @afNo Comments

David Wolfswinkel het sy studies in dirigering en repertoriumstudies cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi, en is tans dosent in koorleiding en Gehooropleiding aan beide die Universiteite van Stellenbosch en Kaapstad. Hy is die amptelike leier van Koorinsident en het reeds ensembles soos die Camerata Academia in Freiburg, die Duitse Ensemble AmaCantus, die US Camerata en Schola Cantorum afgerig. Hy het meestersklasse van Bradley Allred, Cecilia Martin-Löf, en Victor Yampolsky meegemaak, en het etlike plaaslike en internasionale konserttoere na Nederland, Litoue, Duitsland, Spanje, Hongarye en Hong Kong onderneem.  David is ook aktief as komponis, verwerker, musiekdireksie, en nou betrokke by teaterproduksies soos Orphea (2021), tot stof | tot stilte (2018), 4.48 Psychosis (2019), Donkievel (2019), and Konigin Lear (2019).  Hierbenewens het hy bekendheid verwerf as kopiis en musiekgraveur – soos in die voorbereiding van kritiese uitgawes van werke van Philip Miller, Roelof Temmingh, Arnold van Wyk en Winfried Lüdemann.

Elsabé Richter

By Uncategorized @afNo Comments

Elsabé Richter verwerf ’n M. Mus-graad in Uitvoerende Sang aan die Noordwes-universteit, onder leiding van bariton Werner Nel. Gedurende haar studies is sy verskeie pryse en beurse toegeken, mees noemenswaardig ’n beurs wat haar in staat stel om ’n jaar van haar meesterstudie aan die Noorweegse Akademie vir Musiek onder leiding van Svein Bjørkøy, Håkan Hagegård en Mona Julsrud te behartig. Sy ontvang meestersklasse van verskeie sangers en musici insluitend Kobie van Rensburg, Marcel Beekman, Maarten Koningsberger, Albie en Hanna van Schalkwyk, Mimi Coertse, Erica Eloff, Eric Müller, Patricia Misslin, Paul Kiesgen en Lawrence Zazzo.

Haar repertorium omvat ’n wye verskeidenheid vroeë musiek, kunsliedere en opera, sowel as oratorio en ander kerklike musiek. Prominente operarolle sluit Susanna (in Mozart se ‘Le Nozze di Figaro’); Galatea (in Handel se ‘Acis and Galatea’) en Purcell se Belinda uit sy ‘Dido en Aeneas’ in. Sy het ook in ‘Lamento’ gesing – ’n pastiche Monteverdi-opera deur Kobie van Rensburg verwerk, wat op die voorblad van die Januarie 2017-weergawe van die Opern Welt-tydskrif verskyn het en vir die 2017 YAMawards genomineer is. Haar kerklike repertorium sluit o.a. Handel se Messias, Vivaldi se Gloria, J.S. Bach se passies en motette, Pergolesi se Stabat Mater, Keiser se Markuspassie, Charpentier se Te Deum, Haydn se Orrelmis, sowel as Mozart se Exsultate Jubilate, Regina Coeli (K127) en verskeie misse in. In 2021 sing sy saam met Cape Town Opera en Cape Town Baroque Orchestra in ‘n verfilmde produksie van Monteverdi se ‘Vespro della Beata Vergine’ wat op KykNET en DStv uitgesaai is.

Elsabé is in 2017 tesame met Cape Town Baroque Orchestra vir hul Kunstefees-program getiteld ’Handel in die Voorkamer’ genomineer vir ’n kykNET Fiësta-toekenning, asook vir ’n 2017 WOORDtroFEE as deel van die Kaapstad Camerata se produksie, ’Boerneef sing Palissandertaal’. Sy is ook deel van die SU Vokale-ensemble wat in ‘Bloed en Rose: Die Lied van Jeanne en Gilles’ sing. Die produksie is in 2015 by die kykNET Fiësta-toekennings as die beste Suid-Afrikaanse produksie gekroon. Die Ensemble is genomineer vir die unieke ‘Blou Stoel’-toekenning vir artistieke uitnemendheid.

Elsabé tree gereeld saam met verskeie ensembles, kore en orkeste op.

Sipho Fubesi

By Uncategorized @afNo Comments

Sipho Fubesi is afkomstig van die klein dorpie Centane in die Oos-Kaap. As sanger het hy sy debuut gehad aan die Royal Opera House/Covent Garden in 2013, in Wagner se laaste musiekdrama, Parsifal. Ander optredes aan die Koninklike Operahuis sluit in die eerste opvoering van Tarik O’Regan se Heart of Darkness, en in die rol van Hassan in Judith Weir se Miss Fortune.

Fubesi was ‘n musiekstudent aan die Kaapstadse Musiekkollege, onder die leiding van Prof Angelo Gobbato en Sarita Stern. In 2008 het hy na Engeland verhuis, vir studies aan die Royal Northern Musiekkollege, een van mees vooraanstaande instansies ter wêreld. In 2013 het hy die rol van Fenton in Verdi se Falstaff tydens die Glyndebourne Fees vertolk, en in 2012 dié van Machado in Philips se The Yellow Sofa.

Terug in sy vaderland het hy in Januarie 2019 saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, onder die leiding van Richard Cock opgetree, tydens die Kaapstadse Nuwejaarskonsert en die Starlight Konsert, en daarna in Engeland saam met die Kaapstadse Opera getoer.

 

Sipho is ‘n stigterslid van die Mzansi Tien Tenore, en is tans ‘n deeltydse sangdosent aan beide die Kaapstadse Musiekkollege en die Universiteit van Stellenbosch.

Lunathi Ncamini

By Uncategorized @afNo Comments

Lunathi Ncamini is gebore in Mdantsane, naby Oos-Londen. As gevolg van die afwesigheid van formele opleiding het hy aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf ten einde ‘n musiekseritifkaat aan die plaaslike Musiekdepartement te verwerf. Sy vordering was sodanig dat hy aangewys is as die ontvanger van die ATKVAlbert Engel-beurs en die GGM Gordon-trofee vir uitstaande resultate in die Inleidende Musieksertifikaat. Na voltooiing hiervan het hy ook die Diploma in Praktiese Musiek verwerf – met spesialisering in vokale voordrag. In 2014 is Lunathi toegelaat tot BMus-studies, met Musiekopvoeding en Koorleiding as spesialisasieveld, wat in 2016 suksesvol voltooi is. In dieselfde jaar is ‘n Erasmus-uitruilbeurs aan hom toegeken vir verdere musiekopvoeding- en koorleidingstudies aan die  Ludwig Maximilian Universiteit in München.

As deel van hierdie studietyd in Duitsland het hy opgetree as gas-koorleier van die departementele koor, sowel as Engelse onderwyser van Duitssprekende studente. Hierbenewens het hy op privaat-grondslag sanglesse aangebied en in München en Berlyn werkswinkels aangebied oor die inheemse swart Suid-Afrikaanse koortradisies. Hy is in 2018 aangewys as leier van die Xiquitsi Klassiekemusiekprojek  in Maputo, Mosambiek.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy onderrig gegee aan verskeie skoolkore, koorbewerkings van inheemse musiek gemaak en lesings oor inheemse musiek aan die plaaslike Stellenbosse Musiekdepartement aangebied, asook deltydse dosent in Musiekteorie vir sertifikaatstudente. Benewens hoof van die musiekdepartement aan die Monumentpark Hoërskool in Kraaifontein was hy ook deel van die African Music Ensemble waarin die marimba en Afrika-instrumente soos die Umrhubhe (‘n booginstrument van die amaXhosa) onder die leiding van Ncebakazi Mnukwana gebruik word. As koorleier was hy nou betrokke by die nie-winsgewende organisasie, Jamestown Sounds, en ander koorprojekte in behoeftige areas in die Stellenbosch-area, en het ook opgetree as beoordelaar in die ABC Motsepe koor-eisteddfod.

Lunathi is vanjaar (2021) aangestel as dosent vir Afrika-koormusiek aan die Universiteit van Stellenbosch, en het ook begin met nagraadse studie in musiekopvoeding en koorleiding, onder die leiding van Dr Martin Berger (hoof van die afdeling koormusiek), oor die tema van  Kultuurgedrewe opvoeding in Suid-Afrikaanse skoolkore.

Annelize de Villiers

By Uncategorized @afNo Comments

Annelize de Villiers is ‘n oud-student van die Universiteit van Kaapstad. Sy het onder leiding van Becky Steltzner die graad BMus (Hons) met onderskeiding geslaag. In 2013 het sy, onder leiding van die bekende klarinetspeler Frédéric Rapin, die graad MA in Musiekuitvoering aan die Haute Ecole de Musique de Lausanne in Switserland behaal. Onder leiding van onderskeidelik Antoine Marguier en Cindy Lin, het Annelize aan dieselfde musiekskool in Switserland ook in basklarinet en historiese klarinet gespesialiseer.

Annelize was vanaf 2014-2017 mede-hoofklarinetspeler van die KwaZulu-Natal Filharmoniese Orkes. Vanaf 2017-2020 was sy onderhoofklarinetspeler van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes. Sy is sedert 2019 lid van die Intonga Reed Quintet. Annelize is klarinetonderwyseres by Rustenburg Girls’ High School en Wynberg Boys’ Junior School, en dosent aan die Universiteit van Kaapstad.

2021 SIKMF gekanselleer weens Covid-19

By NuusNo Comments

Na intensiewe beraadslaging het die bestuurskomitee van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees besluit om vanjaar se fees te kanselleer.  Dit is die tweede keer dat so `n besluit geneem moes word.

Terwyl daaar uitgesien is na die 17de SIKMF, wat soos `n feniks sou verrys uit die as van die Covid-19-pandemie se verwoesting, is die werklikheid dat Covid-19 nog nie verby is nie.

Die Feesdirekteur, Peter Martens, sê:  “Terwyl ons almal hoop op `n verbetering van die situasie wêreldwyd teen Julie en Augustus, kan ons op die oomblik eenvoudig nie `n veilige omgewing waarborg vir meer as 300 studente nie, om nie eers te praat van die omslagtige kwarantynvereistes vir ons internasionale personeellede nie. Ons moet ook in ag neem dat daar tans nog geen betroubare vooruitspelling is vir wanneer openbare konserte weer sal mag plaasvind nie.”

Studente wat reeds vir die SIKMF 2021 ingeskryf en betaal het kan die Fees se Logistieke en Finansiële Bestuurder, Brent Reynolds, skakel vir `n volle terugbetaling by brent@sun.ac.za.

In `n mededeling aan die personeel van die SIKMF 2021 het die Artistieke Direkteur, Nina Schumann, gesê: “Ons is almal verpletter deur hierdie besluit, maar ons hoop dat julle begrip daarvoor sal hê.  Ons is dankbaar vir julle volgehoue ondersteuning en ons hoop vir `n dawerende terugkeer in 2022.”

Close Menu