Breë graadprogramme met verskeie beroepsfokusse

Die Fakulteit se breë graadprogramme bied voornemende studente die geleentheid om self te besluit watter vakke hul wil kombineer of die fokusarea (voorgestelde vakkombinasie) wat hulle wil kies. Elke vakkombinasie of fokusarea in 'n breë program rus jou vir die spesifieke beroep wat jy eendag gaan volg toe.

As jy nog onseker is oor die presiese rigting waarin jy in die ekonomiese en bestuurswetenskappe wil studeer, skryf in vir die BCom (Bestuurswetenskappe), want dit gee vir jou die wydste keuse moontlik.

Die breë programme het min of meer dieselfde vakke vir die eerste jaar. Dit beteken dat jy na jou eerste jaar van studie, op grond van jou ervaring van die studievelde van ekonomiese en bestuurswetenskappe, meer vryheid het om van graadprogram te verander of om 'n vakkombinasie (fokusarea) van jou eie keuse te volg vanaf die tweede jaar.