Skip to main content

Felicia Lesch

By September 14, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

fsmlesch@sun.ac.za

Felicia Lesch matrikuleer aan Hoërskool Livingstone en verwerf die grade BMus (Ed) aan die Universiteit van Kaapstad en MMus aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar onderwysloopbaan strek vanaf primêre skool tot onderwysopleidingskollege en sluit ’n lang skof by Heathfield Hoërskool in waar sy ’n sterk musiekdepartement vestig. Terwyl sy hierdie posisie beklee, is sy verantwoordelik vir die organisasie van talle uitreikaktiwiteite, onder andere toere en geleenthede vir musiekleerders regoor Suid-Afrika en Namibië. In 2000, op uitnodiging van die Indonesiese regering, reis sy na Java om die kuns van die onderrig en spel van die angklung, ’n tradisionele Indonesiese instrument, te bestudeer. Hierbenewens is sy ook aangestel as hoofeksaminator vir die Wes-Kaap Onderwysdepartement se standaardgraad geskrewe eksamen (harmonie en teorie) vanaf 2000-2003.

Felicia was nog altyd betrokke by gemeenskapsinteraksie en sedert 1999 onderrig sy by die Wes-Kaap Musiekonderwysprojek wat gelei is deur Ronnie Samaai en nou deur haar bestuur word. In 2003 word sy by die Universiteit van Stellenbosch aangestel en is tans die hoof van die Sertifikaatprogram, die grootste uitreikaktiwiteit van die US Musiekdepartement. Onder haar leiding het die Sertifikaatprogram gegroei en sluit nou satellietkampusse soos die kampus by die Weermagbasis in Youngsfield, Wynberg in. Verskeie betekenisvolle gemeenskapsvennootskappe is ook gevestig, onder meer die Elgin Learning Foundation, Mitchells Plain Akademie vir Musiek en Kuns en die Athlone Musiekakademie.

Felicia is ook passievol oor jazzonderrig en neem sedert 1999 studente na die Nasionale Jeugjazzfees. Haar betrokkenheid by die fees het gegroei tot onderrig en nou is sy ook lid van die keuringspaneel van die Nasionale Skole Big Band, waarvoor sy in 2009 as dirigent gekies is. Haar aanstelling as lektor in Gemeenskapsmusiek gee erkenning aan die betekenisvolle bydrae daarvan tot ons musikale landskap en sein nuwe rigtings in navorsing en onderrig aan die US Musiekdepartement. Hoogtepunte van haar loopbaan aan die US sluit in die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid wat sy in 2010 en 2014 ontvang en die stigting van die US Jazzorkes (kategorie- en algehele wenner van die Nasionale Ensemblekompetisie 2012), waarvan sy die dirigent is. Sy is ook direksielid van die Kaapse Filharmoniese Orkes en het as beoordelaar by verskeie eisteddfodau en kultuurfeeste gedien, onder andere die Unisa Graad 8 Beurskompetisie, Tygerbergse Internasionale en Kaapse Afrikaanse eisteddfodau, Kaapse Maleierkoorkompetisie, Samro Oorsese Beurskompetisie en die Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie. Sy is passievol oor musiek as werktuig vir sosiale verandering en bly ten volle toegewy aan daardie ideale.

Close Menu