Skip to main content

Louis van der Watt

By September 15, 2016May 21st, 2021Uncategorized @af

lvdw2@sun.ac.za

Louis van der Watt is sedert 2000 verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch en is tans senior lektor in viool en altviool en hoof van die strykersdepartement. Hy begin sy vioolstudies op 10-jarige ouderdom onder Jack de Wet en speel vanaf ’n jong ouderdom in orkeste. Hy behaal die grade BA en BA Hons(Filosofie) albei cum laude aan die Universiteit van die Vrystaat. Tydens sy studiejare aan die UVS was hy lid van die Vrystaatse Simfonieorkes, lid en voorsitter van die universiteitskoor sowel as lid van die studenteraad. Hy ontvang in sy honneursjaar die Dux-toekenning vir hoogste akademiese prestasie aan die universiteit.

Louis sit sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voort waar hy sy BTh-graad en die Lisensiaat in Teologie, albei cum laude, verwerf. Hy gaan voort met sy vioolstudies onder Eric Rycroft en slaag die UNISA Onderwyslisensiaat en die Royal Schools Voordraers- en Onderwyslisensiate met onderskeiding. Hy slaag ook die UNISA finale eksamen in orrel met onderskeiding. Aan die US speel hy in die Stellenbosse Strykorkes en is konsertmeester van die US Simfonieorkes (USSO) – hy tree verskeie kere as solis saam met hierdie orkeste op. In hierdie tyd was hy ondervoorsitter van die universiteitskoor, primarius van Majuba Manskoshuis en lid van die Teologiese Studenteraad.

Vanaf 1971-1984 was hy lid van die SA Nasionale Jeugsimfonieorkes; daarna word hy voltydse lid van die destydse KRUIK-orkes, ekstra speler in die Kaapstadse en NARUK Simfonieorkeste en konsertmeester van die Kaapstad Kamerorkes. Hy was ook lid van die Libertaskoor.

Hy was van 1986-1998 Departementshoof: Strykers aan die Hugo Lambrechts Musieksentrum, waartydens sy leerlinge al die groot kompetisies in Suid-Afrika wen. Hy stig die Hugo Lambrechts Strykorkes wat groot welslae by kunswedstryde behaal en ook saam met die Libertaskoor optree in ses uitvoerings van Handel se Messias toe die gemiddelde ouderdom van die orkeslede 13 jaar was. Hy verwerf in hierdie tyd ook die grade BMus aan UNISA en BMus (Hons) (cum laude) deur die Universiteit van Stellenbosch.

Louis was van 1996 tot 2018 dirigent van Canticum Novum Koor, wat in April 2015 op uitnodiging deelgeneem het aan ’n uitvoering van Mozart se Kroningsmis in Carnegie Hall, New York. Hy is gasdirigent van die USSO en was vir baie jare gasdirigent van die strykorkes by die jaarlikse Suid-Afrikaanse Jeugorkeskursus. Hy is ’n voormalige dirigent van die Stadskoor Tygerberg, en het waargeneem as dirigent van Schola Cantorum, die akademiese koor van die US Musiekdepartement.

Danksy sy belangstelling in kerkmusiek – hy is sedert 1981 voltyds kerkorrelis – voltooi hy in 2012 ’n MMus in kerkmusiek (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy ontvang sy PhD van die Universiteit Stellenbosch in 2020.

Louis tree gereeld op as lid van die US Camerata en speel ook barokviool en barokaltviool as lid van die US Baroque Ensemble en as ad hoc-lid vir Camerata Tinta Barocca. Hy tree op as UNISA-eksaminator (alle instrumente) en as eksterne eksaminator vir talle universiteite regoor Suid-Afrika sowel as die Windhoek Konservatorium. Hy word gereeld gevra om te beoordeel tydens verskeie kunswedstryde landswyd en talle vooraanstaande nasionale musiekkompetisies.

Close Menu