Skip to main content

Lunathi Ncamini

By March 30, 2021April 6th, 2021Uncategorized @af

Lunathi Ncamini is gebore in Mdantsane, naby Oos-Londen. As gevolg van die afwesigheid van formele opleiding het hy aan die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf ten einde ‘n musiekseritifkaat aan die plaaslike Musiekdepartement te verwerf. Sy vordering was sodanig dat hy aangewys is as die ontvanger van die ATKVAlbert Engel-beurs en die GGM Gordon-trofee vir uitstaande resultate in die Inleidende Musieksertifikaat. Na voltooiing hiervan het hy ook die Diploma in Praktiese Musiek verwerf – met spesialisering in vokale voordrag. In 2014 is Lunathi toegelaat tot BMus-studies, met Musiekopvoeding en Koorleiding as spesialisasieveld, wat in 2016 suksesvol voltooi is. In dieselfde jaar is ‘n Erasmus-uitruilbeurs aan hom toegeken vir verdere musiekopvoeding- en koorleidingstudies aan die  Ludwig Maximilian Universiteit in München.

As deel van hierdie studietyd in Duitsland het hy opgetree as gas-koorleier van die departementele koor, sowel as Engelse onderwyser van Duitssprekende studente. Hierbenewens het hy op privaat-grondslag sanglesse aangebied en in München en Berlyn werkswinkels aangebied oor die inheemse swart Suid-Afrikaanse koortradisies. Hy is in 2018 aangewys as leier van die Xiquitsi Klassiekemusiekprojek  in Maputo, Mosambiek.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika het hy onderrig gegee aan verskeie skoolkore, koorbewerkings van inheemse musiek gemaak en lesings oor inheemse musiek aan die plaaslike Stellenbosse Musiekdepartement aangebied, asook deltydse dosent in Musiekteorie vir sertifikaatstudente. Benewens hoof van die musiekdepartement aan die Monumentpark Hoërskool in Kraaifontein was hy ook deel van die African Music Ensemble waarin die marimba en Afrika-instrumente soos die Umrhubhe (‘n booginstrument van die amaXhosa) onder die leiding van Ncebakazi Mnukwana gebruik word. As koorleier was hy nou betrokke by die nie-winsgewende organisasie, Jamestown Sounds, en ander koorprojekte in behoeftige areas in die Stellenbosch-area, en het ook opgetree as beoordelaar in die ABC Motsepe koor-eisteddfod.

Lunathi is vanjaar (2021) aangestel as dosent vir Afrika-koormusiek aan die Universiteit van Stellenbosch, en het ook begin met nagraadse studie in musiekopvoeding en koorleiding, onder die leiding van Dr Martin Berger (hoof van die afdeling koormusiek), oor die tema van  Kultuurgedrewe opvoeding in Suid-Afrikaanse skoolkore.

Close Menu