Skip to main content

Philippus Hugo

By October 27, 2016October 30th, 2016Uncategorized @af

Philippus Hugo behaal die grade BMus, BMus (Hons) en MMus (cum laude) in klavier aan die Universiteit Stellenbosch onder leiding van Juliana de Villiers. Hy maak sy solodebuut met die Kaapse Filharmoniese Orkes op sestienjarige ouderdom en tree tydens sy studentejare verskeie kere saam met die KFO, Natal Filharmoniese Orkes en Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes op.

In 1992 word hy aangestel as amptelike begeleier by die Hugo Lambrechts Musieksentrum. Ná 5 jaar aanvaar hy ’n pos as musiekonderwyser by Rustenburg Primary School en in 2001 word hy as begeleier aangestel by die Universiteit Stellenbosch, waar hy steeds werksaam is.

Hy is sedert 1994 een van die amptelike begeleiers vir die ABSA Nasionale Kompetisie vir hoërskoolleerlinge en ’n gereelde begeleier van die Sanlam Laerskoolkompetisie, ATKV Musique, Artscape-kompetisie en Unisa Oorsese Beurskompetisie, asook vryskutbegeleier by verskeie nasionale kunstefeeste soos Klein Karoo Klassique (KKK), Darling Voorkamerfees, Die Vryfees, Fynarts Hermanus Fees en die Greyton Genadendal Classics For All. Vanaf 2012 tot 2015 tree hy as amptelike begeleier vir die ATKV Muziqanto-kompetisie op.

In 2011 word hy gevra om by die Maputo Internasionale Musiekfees saam met die Amerikaanse sangers Kennethia Mitchell en Lawrence Craig Jr. op te tree. Hy word voorts genooi om deel te neem aan die Harare Musiekfees wat gedurende September 2012 in Zimbabwe plaasgevind het. Philippus keer gedurende Mei 2014 weer terug na Maputo as gaskunstenaar vir hulle klassieke musiekseisoen, waar hy die sang en instrumentale begeleiding behartig. Vir die 2016 Maputo Internasionale Musiekfees tree hy op as samesteller en begeleier van twee opera-uitvoerings met plaaslike sangers saam met die Maputo Jeugkoor.

Sedert 2013 word hy deur die ATKV aangestel as programsamesteller en koördineerder vir die konserte wat die onderskeie wenners van Muzique en Muziqanto as deel van hul wenstatus moet uitvoer. Dit sluit in die Galakonsert as deel van die Greyton Genadendal Classics for All, 2014 en 2016 US Woordfees, Oude Libertas Konsertreeks, Nederburg en La Motte se konsertreekse, asook die soirées vir die Sandton Summerplace-konsertreeks. Verder was hy verantwoordelik vir die samestelling en begeleiding vir die openingskonserte vir 2013 tot 2015 se KKK. Vir die openingskonsert van die 2013 KKK word Philippus, saam met Minette du Toit-Pearce en die US Perkussie Duo, benoem vir ’n kykNET Fiesta vir die beste klassieke konsert gedurende ’n nasionale fees.

Philippus is deur Unisa genader om as eksaminator op te tree. Hy is aangestel om die George Loerie Eisteddfod in 2014 en 2016 te beoordeel, so ook die Riversdal en die Tygerberg eisteddfods. In 2016 tree hy op as beoordelaar van die klavierafdeling tydens die Stellenbosch Kunswedstryd. Hy is ook ’n bedrewe sjef en die mede-eienaar van die restaurant Driefontein en 254 Catering op Caledon in die Overberg.

Leave a Reply

Close Menu