Elke skenking, hetsy groot of klein, help bou ’n toekoms waar uitnemendheid, toegang en impak binne bereik is van almal wat hulle op ons kampusse bevind. Met hierdie skrywe vertel ek jou graag van sommige van die dinge wat jou ruimhartigheid moontlik gemaak het.
Open deure: Toegang en beurse
Bydraes soos joune het direkte bystand verleen aan DUISENDE studente wat andersins dalk nooit die geleentheid sou hê om aan ons universiteit te studeer nie. Danksy beurse wat deur skenkers gefinansier is, het vele eerstegenerasiestudente en diegene uit onderverteenwoordigde gemeenskappe hier ’n plek gevind. Hierdie beurse gaan oor meer as blote finansiële bystand. Dit simboliseer ’n verbintenis tot die bou van ’n diverse en inklusiewe gemeenskap, een waarin studente uit alle omstandighede hulle talente kan uitleef en hulle drome kan bewaarheid.
Met jou hulp het ons ook aansienlike vordering gemaak met die ontwikkeling van beter steundienste om alle studente se sukses te verseker, vandat hulle tersiêre reis begin totdat hulle in hulle eerste betrekking staan, en ook in elke loopbaanskuif daarná. In haar jongste book, Long Life Learning, beskryf Michelle Weise die tipe omvattende (wraparound) steun wat volgens haar deurslaggewend kan wees om sosio-ekonomiese struikelblokke te bowe te kom. Sy skryf: “Om op hulle onderwys- en loopbaandoelwitte ingestel te bly, het leerders omvattende steun nodig, hetsy van aangesig tot aangesig of deur middel van tegnologie, wat hulle help om struikelblokke te oorkom en verskillende verpligtinge en wedywerende prioriteite te hanteer.”
Weise reken dat doeltreffende omvattende steun ook die soort sosiale kapitaal moet voorsien wat dikwels noodsaaklik is om die poste los te slaan wat ons graag vir ons studente wil hê. Sosiale kapitaal is weliswaar ewe veel van ’n bate as finansiële of mensekapitaal. Juis hiér is ons wêreldwye alumni-netwerk so belangrik om ons studente se sukses te verseker.
Bevorder kennis: Navorsing en innovasie
Jou ondersteuning is ’n hoeksteen van die US se opgang as ’n navorsingsleier op die vasteland – van ons ultramoderne laboratoriums en baanbrekerprojekte, tot ons interdissiplinêre skole in datawetenskap en rekenaardenke sowel as klimaatstudie.
Ons Biomediese Navorsingsinstituut dien byvoorbeeld as ’n kern van gesondheidsinnovasie. Die navorsing wat hier onderneem word, help soek na oplossings vir van Afrika se ernstigste gesondheidsuitdagings, waaronder MIV, malaria, Ebola, tuberkulose en Covid-19.
Ek dink ook aan die verskeidenheid navorsingsleerstoele wat tot stand gebring is en/of ondersteun word. Dít sluit in die Ton en Anet Vosloo-leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk, die Regsfakulteittrust se Navorsingsleerstoel in Sosiale Geregtigheid, die Gys Steyn-leerstoel in Finansiële Reguleringsreg, die Leerstoel in Afrikaanse Skeppende Skryfwerk, die Leerstoel in Gewelddadige Geskiedenisse en Transgenerasietrauma, en die Standard Bank Lab-navorsingsleerstoel, wat navorsing oor datawetenskap en rekenaardenke stimuleer.
Danksy ondersteuners soos jy, is ons aan die voorpunt van ontdekkings wat lewens kan verander, nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Bydraes soos joune stel ons wetenskaplikes in staat om ’n verskeidenheid kwessies te takel, van veerkragtigheid teen klimaatsverandering tot sosiale geregtigheid; van die Internet van Dinge, energie-oplossings soos sonkrag en groenwaterstof, en die oorgang na water- en voedselsekerheid, tot vroeëkinderontwikkeling. Sodoende bevorder ons kennis wat ons toekoms sal bepaal.
Bou wêreldklaskampusse: Infrastruktuur en fasiliteite
Jou ruimhartigheid het ons kampus hervorm en ons moderne ruimtes help skep waar leer en samewerking floreer. ’n Paar voorbeelde hier sluit in nuwe lesinglokale soos die Jan Mouton Leersentrum, navorsingsentrums soos die Allan Gray Sentrum vir Afrika-entrepreneurskap, die inspirerende THINK Bench voor die Ingenieurswese-kampus, en die Masiphumelele-sentrum verder af in Banghoekweg, wat ons groot beursskenkers se werk ondersteun om studentetoegang en -sukses by die US te bevorder. Elke skenkergefinansierde gebou of struktuur vertel ’n verhaal – verhale van studente wat tussen hierdie mure leef, leer en groei, en talentvolle akademici wat ongelooflike oplossings vir die knellendste probleme van ons tyd skep.
Hierdie fasiliteite verbeter nie net die kampuservaring nie, maar sorg ook dat ons universiteit nog geslagte lank ’n lewendige, verwelkomende ruimte bly.
Skep ’n impakryke gemeenskap: Alumni-skakeling en wêreldwye vennootskappe
Buite ons fisiese kampus het jou ondersteuning ons ook ons bande met alumni en vennote plaaslik én verder help versterk. Die program Gewaardeerde Matie-ouer, waardeur ons studente se ouers as vennote betrek, het ’n nuwe dimensie aan ons gemeenskap verleen, en eweknie-fondswerwingsprojekte, waar US-mense geld insamel deur deelname aan byeenkomste soos die Kaapstad-fietstoer, die Comrades-marathon en die fietswedren tussen Londen en Brighton, laat alumni saamstaan vir sake waarvoor hulle diep omgee.
Op dié manier bou ons ’n wêreldwye netwerk ondersteuners en ambassadeurs vir die US – individue soos jy wat net so passievol is oor waarheen ons op pad is as waar ons vandaan kom.
’n Nalatenskap van transformasie: Die Universiteit Stellenbosch se rol in die samelewing
Straks die heel belangrikste is dat jou ondersteuning die US se rol as ’n fasiliteerder van maatskaplike en ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika en verder onderstreep. As ’n skenker, is jy deel van ’n nalatenskap van transformasie wat ver buite ons kampusse strek. Skenkings soos joune het ons ’n universiteitsgemeenskap help bou wat op ons studente se behoeftes reageer, hetsy deur die verbetering van voedselsekerheid via #Move4Food of die hantering van die krisis van bekostigbare verblyf.
Verskeie ander skenkerondersteunde inisiatiewe voorsien in algemener gemeenskapsbehoeftes. Die Suid-Afrikaanse regstelsel kan byvoorbeeld slegs doeltreffend wees indien gewone burgers dit as toeganklik en geloofwaardig beskou. Met jou hulp bied die Universiteit Stellenbosch Regskliniek arm en gemarginaliseerde mense toegang tot regsbystand oor kwessies soos uitsettings, skuldverligting en gesinsgeweld. Op sy beurt gee ons SciMathUS-program leerders uit opvoedkundig benadeelde omstandighede ’n tweede kans om hulle matriekuitslae in sekere vakke te verbeter sodat hulle met sterker punte kan aansoek doen vir die universiteitsprogramme van hulle drome.
’n US-proefprojek met etanolkookstowe as ’n alternatief vir tradisionele praktyke in arm huishoudings, soos paraffienstowe en oop vure, is ’n eerste stap in die skep van ’n ekosisteem vir hernubare skoon energie vir verhitting en kosbereiding. Die Bewegingslaboratorium by die Departement Sportwetenskap ontwikkel en bestudeer oefening-intervensies vir bewegingsteurings wat dikwels by seniors en persone met neurologiese toestande soos rugmurgbeserings, beroerte, Parkinsonsiekte en Alzheimersiekte voorkom. En dan is daar die Iimbovane-uitreikprogram – ’n kurrikulumgebaseerde inisiatief wat die jeug oor biodiversiteit en wetenskap opvoed en hulle terselfdertyd noodsaaklike praktiese wetenskapvaardighede help bou. Die lys is lank.
Ons instelling se sosiale impak is enorm – danksy jou. Saam rus ons nie net toekomstige leiers toe nie, maar hanteer ons ook die maatskaplike en ekonomiese uitdagings wat ons gemeenskappe raak.
’n Kykie vorentoe: ’n Toekoms wat op ons gemeenskaplike visie berus
Die verhaal van R3 miljard se skenkings is ’n verhaal van drome wat bewaarheid is, uitdagings wat oorwin is, en die impak van elke persoon wat tot hierdie reis bygedra het. Ons gaan die toekoms tegemoet in die wete dat jou ondersteuning steeds die grondslag sal wees waarop ons bou.
Dankie dat jy in die Universiteit Stellenbosch glo. Saam het ons al soveel bereik, en saam sal ons voortgaan om ’n toekoms te skep wat getrou bly aan ons gemeenskaplike visie en die merkwaardige nalatenskap van ruimhartigheid wat jy help skep het.
Karen Bruns
Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge