Tshedza is oorspronklik van Tshiawelo in Soweto, ʼn plek waar “mense doen wat hulle moet om te oorleef”, en word nie maklik deur teenspoed ondergekry nie.
Dis ook maar goed so, want al sy oorlewingsinstinkte is op die proef gestel toe NSFAS die mat onder hom uitgeruk het net nadat hy sy matriek by die Hoërskool Vorentoe in Auckland Park geslaag en in 2019 by die Universiteit Stellenbosch vir ʼn ingenieursgraad ingeskryf het.
“In my eerste jaar het ek ʼn NSFAS-beurs ontvang en alles het vlot verloop tot en met 2020, toe ek nie ʼn sent uit hulle kon kry nie. Toe ek hulle daaroor konfronteer, is daar vir my gesê dat hulle die saak sou ondersoek en dat ek geduldig moes wees. Wel, as ek hulle raad gevolg het, het ek nou nog gewag en sou my lewe louter hel gewees het.”
Tshedza sê dat die Universiteit hom gelukkig bygestaan het en met donateursfinansiering gehelp het, wat ʼn deel van sy klasgeld en handboeke gedek het. Hy het ook elke vier maande ʼn voedselkoopbewys van R1 000 ontvang.
“Ek het geweet dat ek hierdie R1 000 verstandig moes gebruik, omdat ek eers maande later weer geld vir kruideniersware sou kry. Dit was ook nie moontlik om vir my ouers om geld te vra nie, aangesien my ma weens haar gestremdheid nie kan werk nie.”
Verskeie verhuurders het hom ook met uitsetting gedreig omdat hy maande lank nie huur betaal het nie.
“Die gevoel van lesings bywoon en eksamen skryf op ʼn leë maag, terwyl jy stres oor of jy dalk enige oomblik uit jou woonplek gesit sal word, is nie ʼn aangename ervaring nie. Jy leef elke dag sonder enige hoop en oorweeg dit om op te skop. Eerlikwaar, al wat ek kon doen, was om aan te hou veg vir my graad en te bid dat God my daardeur sou dra.”
Alles het egter verander toe die Masakh’iSizwe (MiS) Beursprogram vanjaar vir hom ʼn beurs aangebied het. Die MiS is in 2006 deur die regering van die Wes-Kaap ingestel om opgeleide beroepslui op die gebied van ingenieurswese en die beboude omgewing te ontwikkel. Die beurs dek alles, van klasgeld, akademiese uitgawes, tutordienste, rybewysgelde en woonkoste, tot voedsel.
“Hierdie beurs het my toegelaat om weer ʼn student te wees, sonder om te moet stres oor kosgeld of met verhuurders te hoef baklei,” sê Tshedza.
Vir die eerste keer in vyf jaar kon hy voel hoe dit voel om al sy handboeke splinternuut aan te koop.
“In my eerste jaar het ek nie handboeke nodig gehad nie, omdat ek die jaar as deel van die verlengde graadprogram gedoen het. Ek het egter van 2020 af handboeke nodig gehad, en dit was die jaar toe NSFAS my in die steek gelaat het. Ek was dus baie bly toe ek al my handboeke so vars uit die winkel kon kry. Voorheen moes ek staatmaak op uitverkope en afslag en tweedehandse boeke. Nou kan ek net my studentekaart tik. Ek was altyd afgunstig op studente wat dit kon doen. Ek is so geseënd dat ek dit minstens een keer as ʼn student kon ervaar.”
Hy sê dat hy baie dankbaar is teenoor sy donateur en almal wat oor die jare heen die potensiaal in hom raakgesien en hom gehelp het.
“Ek wil my opregte dank uitspreek teenoor almal wat my gehelp het. Ek glo waarlik dat ek nie sonder hulle ondersteuning hier sou wees nie. My raad aan studente wat voor soortgelyke uitdagings te staan kom, is om opreg te bid. As jy jou in ʼn situasie bevind waar jy hulpeloos en alleen voel, keer jou na God. Hou aan bid en fokus op die handhawing van goeie punte en jy sal niks hê om oor bekommerd te wees nie.”
Maar wat hom die gelukkigste maak, is dat sy ma nie meer hoef te stres oor hom wat sukkel om te oorleef en ʼn dak oor sy kop te hê nie.
“My ma is baie bly oor die beurs. Sy was siek van bekommernis oor my, veral omdat daar nie veel was wat sy kon doen om die probleem te help oplos nie. Maar nou is sy baie meer ontspanne en die hele tyd op my spoor oor hoe ek nie moet rondspeel met die seëning wat ek ontvang het nie en dat ek moet seker maak dat ek goed doen in my studies. Ek het dit my missie gemaak om haar wense te vervul,” sê hy.