Digitale Skenkersnuusbrief | Herfs 2024

Die ingewikkelde hoëronderwyslandskap word onbewustelik uit verskeie oorde beïnvloed. Een so ’n kwessie is die persepsie oor toenemende skenker- en alumni-invloed op institusionele beleid en waardes. Hierdie invloed, ofskoon dikwels goed bedoel, kan die pad na betekenisvolle transformasie bemoeilik.

Tydens die 2022-ondersoek na rasseverhoudinge aan die Universiteit Stellenbosch (US) het afgetrede regter Sisi Khampepe en haar kollegas ’n beduidende uitdaging blootgelê: Elke skuif deur die US word noukeurig dopgehou en regsgeldig deur invloedryke alumni, skenkers, en spesiale belangegroepe getoets.

Volgens die ondersoekverslag dryf hierdie entiteite ’n politieke agenda en gebruik hulle hul invloed en middele om die Universiteit se ontwikkelingspogings te belemmer. Waardevolle tyd en middele word só weggelei van konstruktiewe inisiatiewe wat die Universiteit se algehele landskap wil verbeter, sê die verslag.

Hierdie verskynsel is nie alleen tot die US beperk nie; dit weerspieël die breër persepsies en neigings in die hoër onderwys wêreldwyd. Onlangse gevalle, soos skenkers wat fondse van universiteite terughou vanweë meningsverskille oor institusionele reaksies op geopolitieke konflikte, beklemtoon die komplekse wisselwerking tussen filantropie en akademiese vryheid.

Harvard-universiteit in die VS is onlangs in omstredenheid gedompel toe skenkers ontevrede was met die instelling se standpunt oor ingewikkelde kwessies soos die Hamas-Israel-konflik. Terwyl sommiges hierdie optrede as onbehoorlike skenkerinvloed beskou, terwyl ander nie, behoort dit binne die breër raamwerk van skenker-aktivisme bekyk te word–as ’n soort sosiale beweging waar finansiële hulpbronne gebruik word om maatskaplike verandering te bewerk.

Wanneer skenker-aktivisme deur hierdie lens beskou word, word die narratief in ’n ander lig geplaas. Ooreenkomste met ander vorme van kollektiewe aksie in die hoër onderwys kom te voorskyn, onder meer studenteverset, waar individue hul invloed gebruik om ’n persoonlike visie oor institusionele vooruitgang te dryf. Alhoewel die magsdinamika kan verskil, volg hierdie aksies dikwels op ’n gedeelde verbintenis om hul persepsie van die openbare belang te bevorder.

Uitdagings ontstaan wanneer die instellings se waardes van dié van hul alumni en skenkers verskil. Namate die US se transformasiereis ontvou, bly die handhawing van die ooreenkoms tussen institusionele waardes en die aspirasies van die US se uitgebreide alumni- en skenkerbasis ’n formidabele dog kwalik onoorkomelike taak. Ons skenkers se steun vir die Universiteit se visie, missie en strategiese raamwerk is ongelooflik, omdat ons “saam vorentoe” beweeg.

Kom ons voor die genoemde kompleksiteite in ons landskap te staan, is die fundamentele beginsels van universiteitsbestuur van groot belang. Universiteite funksioneer volgens ’n rolspelerbestuursmodel, waar besluite nie net deur finansiële belang gedryf word nie, maar ook deur die kollektiewe insette van verskeie belanghebbendes soos fakulteite, studente, administrateurs, en ja, die skenkers en alumni.

Alhoewel beleid- en besluitneming hierdeur vertraag kan word, verseker die model dat die instelling se missie en waardes gehandhaaf word op ’n manier wat die diverse perspektiewe in die universiteitsgemeenskap respekteer.

Soos prof Noah Drezner ’n paar maande gelede in ’n blog-plasing gesê het, “Skenkers se waardes, persoonlike missies, belangstelling en wie hulle is, is dikwels die belangrikste oorwegings by grootskaalse filantropiese skenking. Die behoefte om hierdie oorwegings te vervul en identiteit te erken vorm die grondslag vir stewige, blywende filantropiese huwelike.”

Die kern van skenker-aktivisme lê in die krag van ’n gedeelde sosiale identiteit. Of dit nou op ras, gender, of ander sosiale konstrukte gegrond is, kollektiewe aksie spruit gewoonlik voort uit algemene ervarings en aspirasies. Deur hierdie kollektiewe identiteit span individue saam om sistemiese kwessies aan te pak en geregtigheid te laat seëvier.

Onlangse gebeure soos die oplewing in skenker-aktivisme in die VS ná die moord op George Floyd, beklemtoon die potensiaal van filantropie as ’n stukrag vir maatskaplike verandering. In die hoër onderwys ondersteun skenkers toenemend inisiatiewe wat diversiteit, gelykheid, en insluiting aanmoedig en ’n verbintenis tot die aanspreek van sistemiese ongeregtighede weerspieël.

Uiteindelik kan skenker-aktivisme gesien word as ’n vorm van betrokke burgerskap–’n manifestasie van die universiteitsgemeenskap se gedeelde verantwoordelikheid, ingesluit alumni, skenkers, fakulteite, administrateurs en studente, in die openbare belang. Sowel filantropie as die hoër onderwys is op die openbare belang ingestel.

Deur die aanmoediging van oop dialoog en deursigtige besluitnemingsprosesse hanteer ons die kompleksiteite van skenker-aktivisme terwyl ons ons institusionele kernwaardes en die beginsels van akademiese vryheid handhaaf. Met die regte benadering, kan ons verskille 'n positiewe effek hê op dit wat ons saam kan bereik. 

Karen Bruns

Senior Direkteur: Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge