"As Dell-jongleierstudente, hou julle 'n sleutel wat die deure oopsluit na 'n toekoms vol geleenthede. Hierdie beurs is nie net 'n toekenning nie; dit is 'n bewys van ons geloof in jou potensiaal om te lei, innoveer en verandering teweeg te bring. Met uitgebreide ondersteuning gefokus op jou akademiese sukses en loopbaanvoorbereiding vir die toekoms - omhels hierdie reis, pak elke geleentheid en uitdaging aan, en maak 'n verskil nie net in jou lewe nie, maar in die lewens van diegene rondom jou.”
Dit was die boodskap van prof Deresh Ramjugernath, die inkomende Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, by 'n onlangse geleentheid om die 2024-groep studente in die Dell-jongleiersprogram te verwelkom. Dit is die Program se vyfde en grootste groep nóg, met meer as 300 eerstejaarstudente wat gekies is - van wie baie die eerste in hul families is wat universiteit bywoon. Die studente studeer professionele en gesogte grade oor sewe fakulteite: AgriWetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Opvoedkunde, Ingenieurswese, Regte, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en Natuurwetenskappe.
Die Dell-jongleiersprogram beoog om universiteitstudente, van wie baie die eerste in hul families is om universiteit toe te gaan, te bemagtig om hul doel te bereik om suksesvol af te studeer en 'n betekenisvolle loopbaan te begin. Die program sluit persoonlike advies en hulpbronne vir studente se akademiese, finansiële, persoonlike en loopbaanwelstand in.
Al die Dell-jongleierstudente is in hul eerste studiejaar aan die US en studeer vir gesogte en professionele grade in die Universiteit Stellenbosch se fakulteite.
Jayden Musset, 'n eerstejaar MBChB-student, beskou dit as 'n deurslaggewende oomblik om deel van die Dell-jongleiersprogram te wees.
"Geld was nog altyd 'n groot probleem vir my gesin en ek het geweet dat my mediese studies tot daardie stres sou bydra. Danksy die Dell-jongleiersprogram kan ek nou op my studies fokus sonder om my voortdurend oor geld te bekommer. Dit is asof hulle sê: ‘Ons is aan jou kant – gaan doen nou jou ding!’ Boonop laat die ondersteuning wat ek van die program kry – die mentorskap, hulpbronne en net die wete dat daar mense is wat vir my omgee – my regtig voel asof ek deel is van iets groter. Ek weet dat ek nie alleen hierdie paadjie loop nie en dat ek deel is van 'n span wat my elke stap van die pad bystaan!”
Hy voeg by dat hy verskriklik trots is om 'n Dell-jongleier te kan wees.
“Hierdie Program is nie net 'n finansiële reddingsboei nie – dit is 'n gemeenskap wat werklik die hoogte- en laagtepunte van 'n student met groot doelwitte verstaan. Ek is opgewonde om die beste te maak van wat ek hier leer en om hopelik eendag terug te gee, hetsy deur medisyne of selfs om ander op dieselfde manier te mentor. Om deel te wees van hierdie program het my laat glo dat enigiets moontlik is en ek is elke liewe dag dankbaar daarvoor.”
Mbali Anthony, 'n eerstejaarstudent in die BEd Grondslagfase, sê om vir die Program gekies te word beteken die wêreld vir haar.
"Ek kon nie die Universiteit se openingsweek bywoon nie en het gevoel dat ek nie eintlik deel is van die vriendskapskringe wat gedurende daardie week gevorm is nie. Maar sedert ek by die Dell-jongleiersprogram aangesluit het, het ek egter vriende gemaak met studente in my koshuis wat ook deel is van die Program.
“Die Program het my ook deur moeilike tye gehelp toe ek nie eers kon bekostig om kos te koop nie. Ek ontvang nou 'n kostoelaag wat my in staat stel om net op my studies te fokus en om my universiteitservaring te geniet. Dit neem ook die druk van my ma af wat 'n enkelouer is. Nou hoef sy nie te stres oor geld of of ek honger ly nie. Daarbenewens het ek nou ook 'n plek waarheen ek my kan wend wanneer ek met probleme worstel en waar ek weet dat ek hulp sal ontvang.”
Anthony, wat uitblink in hokkie en die Maties se eerstespan verteenwoordig, sê sy kan nou ook ten volle daarop fokus om alles vir haar span te gee.