Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2024

In wese is #Move4Maties ’n inspirerende gemeenskapsinisiatief wat Maties-alumni, ouers, personeel, studente, en vriende verenig.

“Vir ons gaan dit als daaroor om aktief te wees, fiks te bly en pret te hê terwyl ons ’n betekenisvolle impak maak,” sê Alwin Mabuza, ’n fondswerwer van die Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die Universiteit Stellenbosch.

“Die inisiatief is nie tot ’n bepaalde aktiwiteit beperk nie, maar moedig deelnemers aan om deel te neem deur aktiwiteite soos draf, fietsry, swem, of enige ander sport- of fiksheidsuitdaging wat hul entoesiasme aanvuur. Of dit nou ’n marathon of ’n fietsrit is, ons missie is duidelik: om gesond te bly, ’n aktiewe gemeenskap te bou, en terselfdertyd ons mede-Maties te ondersteun.”

Die #Move4Maties-inisiatief geniet ’n noemenswaardige voordeel deurdat dit steun op die beginsel dat fiksheid en terugploeg in ander hand aan hand gaan. Deur die energie en passie van die Universiteit se uitgebreide gemeenskap in te span, omskep #Move4Maties fisiese aktiwiteit in ’n kragtige instrument om broodnodige fondse in te samel vir studente wat finansiële uitdagings ervaar. Die inisiatief gee deelnemers die geleentheid om bande met hul alma mater te behou, ou vriendskappe te verstewig, en by die breër US-gemeenskap betrokke te raak, terwyl dit terselfdertyd ’n blywende impak op die lewe van huidige studente het.

Die behoefte aan so ’n inisiatief is duidelik. Die #Move4Maties-inisiatief pak hierdie behoefte aan deur die kollektiewe energie van deelnemers te kanaliseer vir die insameling van fondse wat studente direk ondersteun. Dit gaan nie net oor fondsinsameling nie, maar ook oor terugploeg in die instelling wat baie alumni krediet gee vir hul sukses.

“Heelwat studente aan die Universiteit Stellenbosch sukkel om hul studies, etes en verblyf te bekostig as gevolg van finansiële uitdagings,” vervolg Mabuza. “Deur aktiewe deelname te gebruik om fondse in te samel, wil ons ander Maties ’n kans op die toekoms bied, nes ons gehad het.”

Sedert die totstandkoming van #Move4Maties het dit ’n betekenisvolle impak gehad. Die inisiatief het reeds meer as R1.2 miljoen ingesamel, wat verskeie student-gerigte projekte ondersteun. In 2024 alleen het verskeie fondsinsamelingsinisiatiewe hul gestelde teikens oortref, wat dui op die gemeenskap se toewyding om ’n verskil te maak. Die Marching 4 Days for the Future of Polymer Science-veldtog, wat R30 000 wou insamel, het die gestelde teiken oortref en R40 250 ingesamel. Net so het die Comrades Marathon-span R92 812 ingesamel, en hul teiken van R60 000 ver oorskry.

Ander noemenswaardige veldtogte sluit in die Wheels of Opportunity Cycling-inisiatief, wat R76 708 ingesamel het, en die Kaapstad-fietstoer vir die #Move4Food-veldtog, wat ’n merkwaardige R134 093 ingesamel het, heelwat meer as die aanvanklike R100 000-teiken.

Elkeen van hierdie ondernemings weerspieël die krag van gemeenskapsgedrewe fondsinsameling en die toewyding van die Matie-familie om medestudente te help.

Wanneer ons vorentoe kyk, wil #Move4Maties steeds momentum bou deur opkomende byeenkomste soos die Kaapstad-marathon en die 947 Ride Joburg in November. Hierdie byeenkomste bied selfs meer geleenthede vir deelnemers om betrokke te raak, hetsy as atlete hetsy as ondersteuners.

Mabuza vervolg: “Jy’s welkom om aan te sluit en die geleentheid te kies wat by jou pas. Dit gaan daaroor om te kies hoe jy ’n verskil wil maak.”

Vir diegene wat nie aan die sportbyeenkomste kan deelneem nie, is daar nog vele maniere om die saak te ondersteun. Van die verspreiding van inligting oor die inisiatief tot ’n direkte skenking, die #Move4Maties-gemeenskap verwelkom almal wat die visie van fiksheid, pret, en ’n betekenisvolle impak deel.

#Move4Maties is meer as net ’n fondsinsamelingsveldtog, dit is ’n viering van wat dit beteken om ’n Matie te wees. Hierdie inisiatief gaan oor die herinneringe wat die US bied, die vriendskapsbande wat gesmee word, die lesse wat geleer word, en die geleentheid om deur die herinneringe ’n nuwe generasie studente te inspireer.

“Ons beweeg nie net vir onsself nie. Ons beweeg vir ’n saak, en daardie saak is om ’n blywende impak op die lewe van US-studente te maak.”

Soos Mabuza dit stel, “Saam beweeg ons vir Maties en maak ons ’n blywende verskil in hul lewe.” Met elke tree, elke fietsrit, of swemslag, bewys die Matie-gemeenskap dat fiksheid, samehorigheid, en terugploeg in ander, ’n beter toekoms vir almal kan skep.”

Enigiemand wat belangstel om by die inisiatief betrokke te raak, kan eenvoudig met die #Move4Maties WhatsApp-gemeenskap in verbinding tree deur hier te klik.