Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2023

Die oorkoepelende visie van die Allan & Gill Gray Philanthropies in Afrika is 'n Afrika‑burgerskap wat in etiese samelewings met waardigheid en hoop gedy. Die belangrikste meganisme om hierdie visie te verwesenlik is die kragtige hefboom van verantwoordelike entrepreneurskap in die openbare belang.

Die Sentrum sal toegespits wees op maniere om 'n bemagtigende omgewing vir hoë‑impak‑entrepreneurskap te skep. Die vooruitsig met die Sentrum is 'n Pan‑Afrika‑ intellektuele projek wat oor Suid‑Afrika, Ghana, Kenia, Rwanda en Ethiopië strek – lande waar die Allan & Gill Gray Philanthropies reeds oor deurlopende beleggings met bestaande vennote in entrepreneurskap‑ekosisteme beskik. Strategiese vennootskappe word ondersoek met die Ashesi Universiteit (Ghana), die Strathmore Universiteit (Kenia), die ministerie van IKT en innovasie (Rwanda), die ministerie van innovasie en tegnologie (Ethiopië), en die Global Entrepreneurship Monitor (Suid‑Afrika).

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, sê “Die Universiteit Stellenbosch het die afgelope paar jaar opnuut die klem op entrepreneurskap en innovasie laat val. Hierdie Sentrum sal die Universiteit op vele maniere help met die verwesenliking van die instansie se visie om werklik 'n maatskaplike impak te hê. Met navorsingswerk wat tot die verligting van werkloosheid, armoede en ongelykheid bydra, sal die Sentrum meehelp om Afrika se groot aantal jongmense van 'n demografiese aanspreeklikheid na 'n menslikehulpbron‑dividend te transformeer."

Prof Ingrid Woolard, Dekaan van die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, sê “Entrepreneurskap is 'n kernaandrywer vir ekonomiese groei en werkskepping. Dit is dwarsdeur die wêreld waar, maar is veral relevant vir Afrika vanweë die groot getalle jongmense wat elke jaar die arbeidsmark betree. Maar soveel nuwe besighede misluk. Hierdie Sentrum sal op die wetenskap en praktyk van entrepreneurskap fokus – dinge wat gedoen kan word om die regte toestande te skep om entrepreneurs te laat gedy."

Anthony Farr, uitvoerende hoof van Allan & Gill Gray Africa, sê “Hierdie sentrum is 'n goeie geleentheid om groter intellektuele veerkrag op die gebied van entrepreneurskap in Afrika te ontwikkel. Ons is opgewonde oor die vooruitsig om dieper insig te verkry in die realiteite van entrepreneurskap op die vasteland, veral entrepreneuriese ekosisteme, en hoe dit beter ingespan kan word om groter vooruitgang en voorspoed vir almal te bereik."

Volgens prof Woolard sal die Sentrum aanvanklik navorsing doen en nagraadse navorsingstudies onderneem, en die bedoeling is dat dit binne die volgende paar jaar ook formele gedoseerde programme sal aanbied.

Aan die stuur van die Sentrum is twee mededirekteure, dr Phumlani Nkontwana en prof Erik Stam, wat 'n magdom kennis en ervaring in die entrepreneuriese sektor met hulle saambring.

Dr Nkontwana is 'n spesialis in entrepreneurskap, wat prominente entrepreneurskapsfondse vir top maatskappye plaaslik en internasionaal bestuur het. Sy werk moedig Pan‑Afrika‑entrepreneurskap onder jongmense uit verskillende dele van Afrika aan.

Prof Stam, 'n buitengewone professor aan die US en professor by die Utrecht Universiteit Skool vir Ekonomie, is 'n toonaangewende vakkundige op die gebied van entrepreneuriese ekosisteme gemoeid met die wetenskap en praktyk van entrepreneurskapsgeleide ontwikkeling, plaaslik sowel as internasionaal.

Dr Nkontwana sê “Ons wil die aantal en die konsentrasie van hoë‑impak‑ondernemings, hetsy as hoofkwartier hetsy as medestigter in Afrika, bevorder."

Volgens prof Zwelinzima Ndevu, direkteur van die Skool vir Publieke Leierskap (SPL), is die Sentrum – wat na verwagting teen Augustus 2023 in werking sal wees – strategies binne die SPL geleë. “Die doel is om die koppelvlak tussen openbare en privaat rolspelers meer effektief te fasiliteer vir die ontwikkeling van 'n vars groep entrepreneurs in Afrika wat die ekonomie sal transformeer en laat groei."

“In alle erns, ons wil uiteindelik gegenereerde kennis, en daarby verteerbare kennis, beskikbaar stel aan plaaslike innovasiehubs en ‑ondernemings wat dit die nodigste het," sê dr Nkontwana ter afsluiting.

Meer oor Allan & Gill Gray Philanthropies: https://allangillgrayfoundation.org/philanthropy