Digitale Skenkersnuusbrief | Lente 2024

Dit was nie sommer ’n los gedagte nie; dit was ’n dieper roeping, gebou op die fondasie van sy kinderdae in Carnarvon in die Noord-Kaap, waar sy pa, Jan Mouton, eienaar van die algemenehandelaarswinkel, ’n betekenisvolle rol in die gemeenskap gespeel het. Hierdie winkel het veel meer as brood en melk verkoop, dit was ’n eenstopwinkel wat die dorpie Carnarvon goed gedien het.

Volgens Deidré Mouton, Jannie se vrou, het haar man se jeugjare ’n volgehoue impak op sy lewe gehad.

“Sy pa het baie mense gehelp wat gesukkel het,” sê Deidré. “Hierdie voorbeeld van diens aan ander het Jannie as jong seun gevorm, en dit was iets wat hy nooit vergeet het nie. Die vroeë ervarings het gelei tot Jannie se diep verantwoordelikheidsin teenoor Suid-Afrika. Sy begeerte om ’n stigting te begin was daarop gerig om ’n beter toekoms vir die land se jeug te bou en geleenthede te skep soos dié wat hy geniet het.”

Deidré is ’n kampvegter vir die #EndPeriodPoverty-veldtog aan die Universiteit Stellenbosch waar die Jannie Mouton-stigting tot op datum nagenoeg R200 000 vir hierdie inisiatief geskenk het.

Deidré, ’n merkwaardige vrou met ’n agtergrond in politieke wetenskap, het in Pretoria grootgeword as die oudste van drie kinders. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria en ontmoet Jannie later nadat al twee hul vorige eggenote verloor het. Hulle is in 2010 getroud en het ’n groot, uitgebreide gesin – sy het kinders uit haar eerste huwelik, terwyl Jannie drie van sy eie het.

Die Universiteit Stellenbosch het ’n spesiale plek in hul harte. “Jannie het in Simonsberg gewoon, en die kinders is ook Maties-alumni,” voeg sy by. “Hierdie sterk bande met die universiteit maak die Jannie Mouton-stigting ware vennote in die bevordering van jongmense se opvoeding en ontwikkeling.”

Die Jannie Mouton-stigting is ook een van die US se jarelange skenkers.

Die #EndPeriodPoverty-inisiatief is deel van die Universiteit se Bridge the Gap-jaarfonds. #EndPeriodPoverty het dit ten doel om fondse in te samel om sanitêredoekie-masjiene aan te koop en die stigma rondom maandstonde-armoede aan te pak sodat studente waardige toegang tot vroulike higiëneprodukte kan hê. Bridge the Gap is die Universiteit se jaarlikse fondsinsamelingsveldtog wat in 2021 van stapel gestuur is. Die veldtog nooi alumni, die studentegemeenskap, personeel, ouers, en vriende van die Universiteit uit om US-studente te ondersteun met die oorkoming van finansiële struikelblokke wat hul pad na sukses versper. Die oogmerk met die veldtog is om die gaping tussen talent en finansiële behoefte te verklein en ’n tasbare verskil in die lewe van Matie-studente te maak.

“Higiëneprodukte is ’n maandelikse uitgawe waarvoor daar nie altyd geld is nie, en die projek bied ’n broodnodige diens aan die studente. Menstruasie is ’n natuurlike siklus van ’n vrou se lewe. Dit behoort nie ’n hindernis vir sukses of welstand te wees nie.

“Deur maandstondearmoede aan te pak kan ons gelykheid, waardigheid, en welstand vir elke jong vrou bevorder, en verseker dat hulle die nodige hulpbronne en ondersteuning het om te kan floreer.”

Die Jannie Mouton-stigting ondersteun hoofsaaklik projekte in die Boland-omgewing, en Deidré is vol lof vir die werk wat gedoen word. “By elke vergadering word ons trustees nogmaals geïnspireer deur die wonderlike werk wat soveel mense in die land doen om ander te help. Die Stigting is deurentyd op praktiese, gemeenskapsgedrewe oplossings ingestel. Ons doen jaarlikse besoeke aan die instansies wat ons ondersteun om te verseker dat die bydraes ’n wesenlike verskil maak.”

Die #EndPeriodPoverty-projek lê Deidré besonder na aan die hart. Sy moedig potensiële skenkers aan om hierdie inisiatief te ondersteun en werklik ’n verskil in die lewe van jong vroue te maak.

“Daar is tans twee masjiene op die hoofkampus, maar weens die omvang van die kampus moet die vroue ver loop om daarby uit te kom. Ons doelwit is om nog drie masjiene te installeer, by die Ingenieursgebou, die Biblioteek onder die Jan Marais-plein, en by die Letteregebou op die hoek van Merrimanlaan en Ryneveldstraat. Daar is reeds ’n masjien op die Tygerbergkampus.”

Deidré se passie vir hierdie projek spruit uit haar begrip van die daaglikse uitdagings wat vele jong vroue in Suid-Afrika in die gesig staar. “Die #EndPeriodPoverty-inisiatief is ’n eerste op ’n universiteitskampus en voorsien in ’n dringende behoefte. Deur met die universiteit saam te werk kan ons hierdie basiese behoefte aanpak en werklik ’n verskil maak.”

Deur die Jannie Mouton-stigting en projekte soos #EndPeriodPoverty wat hulle ondersteun, bou hulle nie alleen ’n nalatenskap nie, maar stel hulle ook ’n voorbeeld van ware diens aan die gemeenskap.

“Neem asseblief die universiteit se hand en help ons om die slagspreuk #EndPeriodPoverty ’n werklikheid te maak vir die jong vroue wat op Stellenbosch studeer,” sluit Deidré af. “Dis ’n oproep tot aksie wat ons herinner aan die volle krag van samewerking om ’n volgehoue impak te kan hê.”