Skip to main content
All Posts By

US Music

Martin Berger

By Uncategorized @af

maberger@sun.ac.za

Martin is een van die gewildste, veelsydigste en suksesvolste Duitse koordirigente en kombineer artistieke praktyk en akademiese onderrig op ’n hoë vlak. Ná baie jare in diens as musiekdirekteur van die Würzburg-katedraal en professor in koorpedagogiek aan die Robert Schumann Musikhochschule in Düsseldorf, Duitsland, aanvaar Martin ’n aanstelling aan die Universiteit van Stellenbosch in 2013.

Martin studeer in Düsseldorf en Saarbrücken en verwerf grade in kerkmusiek, musiekopvoeding, musiekwetenskap, Duitse letterkunde en koorleiding. Deur meesterklasse en artistieke samewerking is hy blootgestel aan vooraanstaande Skandinawiese koordirigente soos Eric Ericson, Anders Eby en Gary Graden, wat sy benadering tot koormusiek betekenisvol beïnvloed het.

As musiekdirekteur aan die Würzburg-katedraal (2002-2013), het hy die katedraalmusiek ontwikkel tot een van die voorste instellings van sy soort in Duitsland. As professor in koorpedagogiek aan die Robert Schumann Hochschule in Düsseldorf vanaf 2008-2013, ontwikkel en leer hy moderne onderrigtegnieke vir koormusiek.

’n Besondere fokus van sy werk is op die gebied van kontemporêre en vroeë musiek.

Martin is verskeie kere vir sy prestasies bekroon. Met die kamerkoor wat hy aan die Würzburg-katedraal gestig het, wen hy die internasionale koorkompetisies in Malta (2007) en die gesogte Schubert-kompetisie in Wene (2008).

Martin is internasionaal gesog as gasdirigent, aanbieder van meesterklasse, gasdosent, beoordelaar en akademikus. Konserttoere, gaslesings en meesterklasse het hom al na byna alle Europese lande, Australië, China, baie Afrika-lande en die Verenigde State van Amerika geneem.

Sedert April 2013 doseer hy aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy ’n nuwe konsep vir opleiding in koorleiding ontwikkel en ook aan die hoof staan van die nuutgestigte Eenheid vir Vroeë Musiek.

Hy is onlangs as besoekende dosent aan die Ludwig Maximilian Universiteit se Instituut vir Musiekopvoeding in München aangestel en dien as adviseur vir die Internasionale Vereniging van Jeug- en Kinderkoorkunstenaars (WYCCAA).

Vir meer inligting oor Martin, besoek: www.martinberger.eu

Vir meer inligting oor Koorleiding aan die US: https://www.facebook.com/Choral-Conducting-at-Stellenbosch-University-432956236798449/?fref=ts

PUBLIKASIES

Berger, M. 2015. Nkosi sikelel’ iAfrika – Südafrika 20 Jahre nach Ende der Apartheid. Lehrer und Schule heute – Zeitschrift des Saarländischen Lehrerinnen und Lehrerverbandes, 66(5), May: 94-97. (ISSN 2190-5878)

Albrecht, C. & Berger, M. 2013. Todesnachrichten – Siegfried Koesler (1937-2012), Domkapellmeister in Würzburg von 1971 – 2002. Musik & Liturgie, 138(1), 49. (ISSN 1420-5409)

Sperling, O., Berger, M., Kiefer, T., Leenen, F., Schnell, J., Sichler-Karle, G. (eds). 2011. Singen von Gottes Wegen – Chorbuch Pueri Cantores III. Stuttgart: Carus-Verlag.

Berger, M. 2010. Architektur des Klanges – Die neuen Räume der Würzburger Dommusik, in J. Lenssen (ed). Architektur der Gegenwart in der Diözese Würzburg . Würzburg: Bau- und Kunstreferat der Diözese. 44-45

Gabriel, T. & Berger, M. 2006. Cantemus in viis Domini für Solostimme, Chor SATB, Oboe, Sopransaxophon, Fagott, Trompete in C, Posaune, Pauken, Vibraphon, 2 Violinen, Viola, Violoncello, Kontrabass und Rhythmusgruppe. Stuttgart: Carus-Verlag

Strauß-König, R. & Berger, M. 2002. Zeige uns den Weg für Chor SATB und Klavier. in: Chorbuch Unterwegs. München: Strube-Verlag

Strauß-König, R. & Berger, M. 2002. Zeige uns den Weg für Chor SATB und Klavier. in: Chorbuch Unterwegs. München: Strube-Verlag

Jansens, P. & Berger, M. 2002. Mit Maria preist den Herren für Chor SATB und Klavier. in: Chorbuch Unterwegs. München: Strube-Verlag

Stimmer-Salzeder, K., Reuß, A. & Berger, M. 2002. Wenn wir unsre Gaben bringen für Chor SATB und Klavier. in: Chorbuch Unterwegs. München: Strube-Verlag

Inge Engelbrecht

By Uncategorized @af

iaengelb@sun.ac.za

Inge Engelbrecht voltooi die grade BMus in 2002 en BMus (Hons) in Musiekopvoeding in 2010 aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy is sedert 2009 deel van die personeelkorps aan die US Konservatorium en is tans besig met haar meestersgraad in musiekwetenskap.

Sy is deeltydse dosent vir die Sertifikaat-, Hoër Sertifikaat-, Diploma- en BMus-programme en onderrig musiekgeskiedenis, gehooropleiding, musiekteorie en musiekwetenskap aan die BMus I-studente.

Felicia Lesch

By Uncategorized @af

fsmlesch@sun.ac.za

Felicia Lesch matrikuleer aan Hoërskool Livingstone en verwerf die grade BMus (Ed) aan die Universiteit van Kaapstad en MMus aan die Universiteit van Stellenbosch. Haar onderwysloopbaan strek vanaf primêre skool tot onderwysopleidingskollege en sluit ’n lang skof by Heathfield Hoërskool in waar sy ’n sterk musiekdepartement vestig. Terwyl sy hierdie posisie beklee, is sy verantwoordelik vir die organisasie van talle uitreikaktiwiteite, onder andere toere en geleenthede vir musiekleerders regoor Suid-Afrika en Namibië. In 2000, op uitnodiging van die Indonesiese regering, reis sy na Java om die kuns van die onderrig en spel van die angklung, ’n tradisionele Indonesiese instrument, te bestudeer. Hierbenewens is sy ook aangestel as hoofeksaminator vir die Wes-Kaap Onderwysdepartement se standaardgraad geskrewe eksamen (harmonie en teorie) vanaf 2000-2003.

Felicia was nog altyd betrokke by gemeenskapsinteraksie en sedert 1999 onderrig sy by die Wes-Kaap Musiekonderwysprojek wat gelei is deur Ronnie Samaai en nou deur haar bestuur word. In 2003 word sy by die Universiteit van Stellenbosch aangestel en is tans die hoof van die Sertifikaatprogram, die grootste uitreikaktiwiteit van die US Musiekdepartement. Onder haar leiding het die Sertifikaatprogram gegroei en sluit nou satellietkampusse soos die kampus by die Weermagbasis in Youngsfield, Wynberg in. Verskeie betekenisvolle gemeenskapsvennootskappe is ook gevestig, onder meer die Elgin Learning Foundation, Mitchells Plain Akademie vir Musiek en Kuns en die Athlone Musiekakademie.

Felicia is ook passievol oor jazzonderrig en neem sedert 1999 studente na die Nasionale Jeugjazzfees. Haar betrokkenheid by die fees het gegroei tot onderrig en nou is sy ook lid van die keuringspaneel van die Nasionale Skole Big Band, waarvoor sy in 2009 as dirigent gekies is. Haar aanstelling as lektor in Gemeenskapsmusiek gee erkenning aan die betekenisvolle bydrae daarvan tot ons musikale landskap en sein nuwe rigtings in navorsing en onderrig aan die US Musiekdepartement. Hoogtepunte van haar loopbaan aan die US sluit in die Rektorstoekenning vir Uitnemendheid wat sy in 2010 en 2014 ontvang en die stigting van die US Jazzorkes (kategorie- en algehele wenner van die Nasionale Ensemblekompetisie 2012), waarvan sy die dirigent is. Sy is ook direksielid van die Kaapse Filharmoniese Orkes en het as beoordelaar by verskeie eisteddfodau en kultuurfeeste gedien, onder andere die Unisa Graad 8 Beurskompetisie, Tygerbergse Internasionale en Kaapse Afrikaanse eisteddfodau, Kaapse Maleierkoorkompetisie, Samro Oorsese Beurskompetisie en die Samro Hubert van der Spuy Nasionale Musiekkompetisie. Sy is passievol oor musiek as werktuig vir sosiale verandering en bly ten volle toegewy aan daardie ideale.

Erik Dippenaar

By Uncategorized @af

Erik Dippenaar

erikdip@gmail.com

Erik Dippenaar het die graad BMus (cum laude) in 2003 aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. In 2007 is ’n MMus (cum laude) deur die Royal College of Music (RCM) in Londen aan hom toegeken. Daarna het hy die Kunstenaarsdiploma in Uitvoeringskuns aan die RCM onder Jane Chapman (klavesimbel) en Geoffrey Govier (fortepiano) in 2008 behaal.

As student in Suid-Afrika het Erik as orrelis die meeste van die belangrikste nasionale musiekkompetisies gewen, waaronder die ABSA- Nasionale Jeugmusiekkompetisie (2000), die UNISA- Nasionale Orrelkompetisie (2001), die Mabel Quick-beurskompetisie (2001), die ATKV se Musiq-kompetisie (2002), die orrelkategorie van die Distell-musiekkompetisie (2002) en die UNISA- Oorsese Musiekbeurskompetisie (2003).

Erik het van 2005 tot 2011 in Londen gewoon waar hy in verskeie voorste vroeëmusiekfeeste gespeel het, soos die Greenwich Early Music Festival, die London Handel Festival, die Brighton Early Music Festival en die Trigonale Festival der Alten Musik. Hy werk hoofsaaklik as kamermusikus en het gereeld saam met Florilegium, The London Handel Players, l’Avventura London, Amaranthos en Spirituoso opgetree.  Deur sy werk saam met Florilegium kon hy optree saam met sangers soos dame Emma Kirkby, Robin Blaze, Johanette Zomer en Gillian Keith. Hy het ook gereeld vir die English Touring Opera, die Little Baroque Company en Ensemble Serse gewerk.

Onder sy gereelde solo-uitvoerings was ’n konsert vir die British Harpsichord Society, en hy het gereeld in BBC Radio 3 se uitsendings gespeel. In 2010 het hy sy Concertgebouw-debuut gemaak. Hy is twee keer as die wenner van die RCM Early Music Competition aangewys en in 2008 is die begeleiersprys by die 7de Handel Singing Competition aan hom toegeken. Erik was ook lid van die kamermusiekgroep Musici Infaticabili, wat in 2008 die Broadwood Early Keyboard Ensemble Competition by die Fenton House- historiese instrumentversameling gewen het.

Gedurende 2008 en 2009 het Erik die posisie van Mills/Williams Junior Fellow aan die RCM beklee. Hy was een van die gereelde begeleiers vir die London Handel Singing Competition en was ’n klavesimbeldosent aan die Centre for Young Musicians, London.

Erik is tans die Artistieke Direkteur van die Kaapse barokorkes Camerata Tinta Barocca en ’n lid van die periode-ensemble die Cape Consort, sowel as ‘n deeltydse dosent in musiekgeskiedenis en historiese uitvoeringspraktyk aan die Universiteit van Kaapstad. Hy is ingeskryf by die UK vir ’n PhD in musiek wat fokus op die rol wat historiese huishoudelike klawerbordinstrumente in die koloniseringsproses in Suider-Afrika gespeel het. ’n Navorsingsgenootskap is onlangs deur die Universiteit van Kaapstad aan hom toegeken.

Close Menu