Skip to main content
All Posts By

Fiona

Antoni Schonken

By Uncategorized @af

antoni@sun.ac.za

Antoni Schonken (1987-) was ’n komposisiestudent aan die Universiteit Stellenbosch onder Hans Roosenschoon. Hy verwerf die graad BMus cum laude in 2009, BMus (Hons) cum laude in 2011 en MMus cum laude in 2013. Na aanleiding van sy doktorale navorsing, waarin hy fokus op die ontwikkeling van ʼn algemene teorie vir orkespraktyk, word ʼn PhD-graad aan hom toegeken. Hy het die gesogte Harry Crossley-beurs vir nagraadse navorsing twee keer ontvang, en in 2014 word Antoni aangewys as die ontvanger van die Samro Oorsese Beurs vir Komponiste. Sy musiek vir instrumente, stem, verhoog en film is plaaslik sowel as internasionaal bekroon.

Schonken se komposisies, wat elemente van minimalisme, impressionisme en inheemse Suider-Afrikaanse style weergee, het reeds lof uit verskeie oorde ontvang. In onlangse resensies is sy musiek beskryf as delikaat gechoreografeer met ʼn gretige fokus op die ontwikkeling van stemkwaliteite binne instrumentale genres, terwyl sy seldsame deernis vir die Afrika-klanklandskap sy musikale idioom ’n diep, roerende geloofwaardigheid gee.

Schonken het opdragwerke vir ʼn aantal professionele ensembles en instellings soos die Goethe Instituut en Oxford Universiteit gekomponeer, en tans verteenwoordig hy Afrika as een van ses komponiste regoor die wêreld wat werk aan die Wêreld Mis- projek. KOMPOS (Komponiste van Stellenbosch), ’n projek wat Schonken in 2010 van stapel gestuur het, is daarop gerig om jong komponiste te help om uitvoerings van nuwe komposisies te realiseer. Sedertdien het KOMPOS daartoe bygedra dat meer as tweehonderd werke van studente uitgevoer is.

Mario Nell

By Uncategorized @af

mdn@sun.ac.za

Mario Nell word erken as een van Suid-Afrika se vooraanstaande uitvoerende kunstenaars en onderwysers en is ‘n Senior lektor aan die Univeriteit van Stellenbosch. Hy studier aan die universiteite van Port-Elizabeth en Stellenbosch voordat hy ‘n MMus behaal aan die Universiteit in Kaapstad asook ‘n PhD aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy behaal twee Voordraeslisensiate van Unisa en word ook aangewys as wenner van die Unisa Oorsese Musiekbeurskompetisie. Vanaf 1999-2001 studeer hy aan die Staatliche Hochschule für Musik in Freiburg, Duitsland, en vanaf 2006-2007 studeer hy aan die Zürich Universiteit vir die Kunste waar sy hoof fokus op Historiese Uitvoeringsprakyk was.

Hy ontvang eerste pryse by al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika. Dit sluit in die Nasionale Jeugmusiek-,, die ATKV Prelude and Forte-, Mabel Quick-, Oude Meester- and Unisa Oorsese Musiekbeurs Kompetisies. Gedurende sy studies in die buiteland ontvang hy pryse tydens verskeie internasionale kompetisies, waaronder ‘n eerste prys tydens die Calgary internasionale orrelkompetisie met optredes in Duitsland en Hong Kong.

Sedert hy sy debuut gemaak het met die SAUK simfonie Orkes in 1993, het hy as solis opgetree met al die vernaamste simfonie orkeste in Suid-Afrika. Sedert 1999 het hy konsert optredes gehad in Duitsland, Switzerland, Frankryk, Nederland, die Tsjeggiese Republiek, Italië, Engeland en Suid-Korea. Hy was ook uitgenooi as gas-professor aan die Universiteit vir Kunste in Seoul, Suid-Korea, in 2002 en 2003.

Benewens sy optredes as solis, begeleier en kamermusiekspeler, is hy aktief as onderwyser en sy studente is reeds as algehele wenners van al die vernaamste musiekkompetisies in Suid-Afrika aangewys, onder andere die Sanlam-, Artscape-, Artstrust Klavier-, Mabel Quick-, Samro -, Grahamstad Nasionale-, Unisa Nasionale Orrel-, ATKV Muziq and Unisa Oorsese Musiekbeurs Kompetisie. Vanaf 2010-2014 ontvang hy jaarliks die Universiteit van Stellenbosch se Rektorstoekenning as uitstaande dosent. Hy word gereeld genooi om meestersklasse aan te bied, om as beoordelaar op te tree en tree op as eksaminator vir Unisa musiekeksamens.

Pieter Grobler 

By Uncategorized @af

pjcgrobler@sun.ac.za

Die Suid-Afrikaanse pianis Pieter Grobler is al beskryf as ‘n uitvoerder met “finesse, sensitiwiteit en ‘n foutloosheid van die klassieke styl” (The Star, Johannesburg). Grobler was ‘n student van veteraan-dosent Joseph Stanford aan die Universiteit van Pretoria. Nagraadse studies met Joseph Banowetz (Universiteit van Noord-Texas), waar hy beide MM- en DMA-klaviervoordrag-kwalifikasies verwerf het. Gedurende sy jare in Texas het hy ook gereelde onderrig van die Poolse pianis Adam Wodnicki, asook Elvia Puccinelli en Harold Heiberg ontvang.  Pieter Grobler is die ontvanger van etlike beurse en pryse – beide in Suid-Afrika en die VSA.

Hy beklee ‘n pos aan die Universiteit van Stellenbosch University sedert 2010, en doseer klavievoordrag, kamermusiek, begeleiding en repertoriumstudies, asook nagraadse studieleiding in pedagogiek en repertoriumstudies.  Hy tree gereeld op as beoordelaar en eksaminator in Suid-Afrika, en is ook die organiseerder en voorsitter van die jurie vir die Hennie Joubertklavierkompetisie, wat tweejaarliks plaasvind as deel van die Stellenbosch Internasionale Klaviersimposium, en vorm deel vn die susterprojek – die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees sedert 2011.  Hierbenewens het hy ook al diens gedoen as voorsitter van die Musiekdepartement.

Pieter is ‘n aktiewe solis en kamermusikus, en het uitvoerings in Suid-Afrika asook in die VSA, Kanada, Europa en China gelewer, en saam met die violis Annette-Barbara Vogel.  . Noemenswaardig was sy lewendige uitsending as deel van die Dame Myra Hess Konsertreeks by die Chicago Kultuursentrum. Pieter is reeds ‘n bekende vir plaaslike konsertgangers. Hy het deel gehad aan etlike eerste uitvoerings van Suid-Afrikaanse werke, soos Alexander Johnson se 3 Incantations for Piano (opgedra aan Grobler), Peter Klatzow se Tjellosonate (sam met tjellis Peter Martens), en Bongani Ndodana-Breen se Safika – Three Tales of African Migration.

Voorbeelde van Pieter se spel is te vinde by :

https://www.youtube.com/channel/UC4qeezgthrTe69W-5DcaWwA/videos

Karin Maritz

By Uncategorized @af

km2@sun.ac.za

Karin Maritz doseer blokfluit, kamermusiek, vakdidaktiek, musiekopvoeding en besigheidsetiek op voor- en nagraadse vlak.

Haar loopbaan in musiek is geïnspireer deur Thelmay Linde en Irmgard Winkler-Haller. Sy studeer blokfluit (BMus solo-uitvoering) onder dirigent en komponis dr. Paul van Zuilenberg aan die Universiteit Stellenbosch, asook fluit onder Dianne Mitchell-Baker en klassieke kitaar onder Dietrich Wagner. Sy ontvang haar lisensiate in blokfluit by Unisa onder prof. Niel Geldenhuys. In 2002 verwerf sy haar MMus (cum laude) by die Universiteit Stellenbosch, met die metodologie, interpretasie en uitvoering van die Franse barokstyl as onderwerp.

Maritz bespeel koper- en houtblaasinstrumente, maar spesialiseer uiteindelik in blokfluit. Hoewel sy aanvanklik beter bekend was as kitaarbegeleier, spesialiseer sy later al hoe meer in blokfluit, sowel as historiese uitvoeringspraktyk van barokmusiek en die kuns van ornamentasie. Sy het ʼn aktiewe loopbaan as solis gehad en ook verskeie opnames vir die SAUK gemaak. Sy gee aanvanklik by drie skole asook by die Universiteit van die Wes-Kaap les, waarna sy by die Universiteit Stellenbosch aangestel word. Die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch het tans waarskynlik die grootste aantal studente in die land wat in blokfluit spesialiseer en óf as soliste óf in ensembles en kamerorkeste optree. Sommige van haar studente het hul studies en loopbane in Europa en Amerika as suksesvolle soliste, kamermusici en onderwysers voortgesit.

Karen Maritz is ʼn bekende beoordelaar by eisteddfods en musiekgeleenthede landwyd, en is ʼn Unisa-eksaminator. Sy bied gereeld slypskole en meesterklasse aan oor uitvoeringspraktyk, kamermusiek, barokornamentasie en die Franse barokstyl in die algemeen.

Corvin Matei

By Uncategorized @af

corvin@sun.ac.za

Die dirigent, fluitis en gerespekteerde leermeester, Corvin Matei, is Professor in Fluit en Dirigeerkuns aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is die stigter en Musiekdirekteur van die Kaapstadse Konsertorkes en die Musiekdirekteur van die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes.
Matei, ‘n Roemeniër van geboorte, het ‘n meestersgraad in uitvoerende musiek (fluit) aan die Boekarestse Musiekkonservatorium behaal. Gedurende sy studie het hy ook orkesdirigeerkursusse en meesterklasse onder vooraanstaande Roemeense dirigente bygewoon en aan internasionale feeste in Duitsland (insluitende Bayreuth), TsjeggoSlowakye, Bulgarye, Frankryk, Spanje en Italië deelgeneem.

Nadat hy sy graad verwerf het, het Matei ‘n oudisie by die George Enescu Filharmoniese Orkes afgelê, waar hy vervolgens aangestel is en vir sewe jaar onder dirigente soos Celibidache en Mazur gespeel het. In die sewe jaar by hierdie orkes het hy ook as solis saam met ander prominente orkeste in Roemenië opgetree en meer in die dirigeerkuns begin belangstel. Dit het hom Witold Rovitscki se Somermeesterklasse in Wenen en Sergiu Celibidache se Meesterklasse in Boekarest laat bywoon. Verder het hy verskeie opnames vir die Roemeense Radio en Televisie gedoen, terwyl die eerste prys in die Roemeense Nasionale Kompetisie van 1976 en 1983 aan hom toegeken is.
In 1983, nadat hy Roemenië verlaat het, het hy dirigeerkuns by professor Erich Kluge aan die Cologne Konservatorium studeer. Met die Cologne Kamerorkes se toer na die suide van Frankryk het hy beide as solis en dirigent opgetree.

In 1985 is Corvin Matei as eerste fluitis van die Kaapstadse Simfonieorkes aangestel, waar hy vir twaalf jaar uitvoerings gelewer het. In hierdie tydperk het hy ook in solokonserte saam met die Kaapstadse Simfonieorkes, die Kaaplandse Raad vir die Uitvoerende Kunste (Kruik) se Kamerorkes en die Bloemfonteinse Simfonieorkes opgetree. Vanaf 2001 was hy meer as ‘n jaar lank die eerste fluitis van die nuwe Kaapse Filharmoniese Orkes. Hy het ook opnames vir die SABC gedoen, en sy eerste CD, Music for Flute and Harp, was ‘n groot sukses. In dieselfde jaar het hy ‘n PhD aan die Universiteit van Kaapstad behaal.

Vanaf 1997, nadat hy onder Bernard Gueller (een van Celibidache se beste studente) gestudeer het, het Matei met ‘n druk dirigeerskedule begin. In SuidAfrika het hy die Johannesburgse Filharmoniese Orkes; die Kaapse Filharmoniese Orkes; die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes (wat in 2004 onder sy leiding die kategorie beste simfonieorkes uit 46 orkeste in die invloedryke Tygerbergse kompetisie verower het); die Kaapse Sinfonia; die Beau Soleil Simfonieorkes (waar hy van 2001 tot 2004 die hoof van die Departement Houtblaasinstrumente aan die Beau Soleil Musieksentrum was); en die Sans Souci Orkes (welke orkes onder sy leiding met die gesogte SAMROtrofee in die 1999 Eisteddfod bekroon is) gedirigeer.

In 2004 is dr Matei in die Departement Musiek aan die Universiteit Stellenbosch en as Musiekdirekteur van die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes aangestel. In dieselfde jaar het hy sy internasionale loopbaan as dirigent begin toe hy uitgenooi is om drie van Roemenië se voorste professionele orkeste te dirigeer. Sedertdien het hy al die groot Roemeense orkeste, sowel as orkeste in die Oekraïne en Bulgarye, gedirigeer. Corvin Matei is tans met ‘n druk dirigeerskedule in SuidAfrika en in die buiteland besig.

Suzanne Martens

By Uncategorized @af

martens@sun.ac.za

Suzanne Martens studeer aan die Universiteit van Pretoria onder prof. Alan Solomon waar sy die grade BMus Uitvoerend en BMus Honneurs verwerf, albei cum laude. Sy sit haar studies in Holland voort onder Jan Repko (Academie Minerva, Groningen) en in Oostenryk onder Lavard Skou-Larsen (Mozarteum, Salzburg), waar sy lid was van die Salzburger Musici Kamerorkes. Sy het intussen ’n MMus-graad in kamermusiek (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, en is tans ingeskryf vir DMus aan die Universiteit van Pretoria.

Suzanne se eerste blootstelling aan ensemble- en orkesspel was onder wyle Betty Pack. Later was sy lid van Harmonia Juventia en Pro Musica, onder leiding van Alan Solomon en Weiss Doubell onderskeidelik. As student tree sy op as konsertmeester van die UP Simfonieorkes en die Nasionale Jeugorkes. Suzanne ontvang verskeie pryse, onder andere die Universiteit van Natal se 75ste Herdenkingsprys (1988) en die algehele eerste plek in die ATKV Forté-kompetisie (nou die Musiq-kompetisie) in dieselfde jaar. In 1991 is sy deel van die wentrio in die Oude Meester Kamermusiekkompetisie. Akademiese erekleure word op universiteit aan haar toegeken.

Benewens haar optredes as solis saam met al die vernaamste orkeste in die land, is Suzanne ’n aktiewe kamermusikus wat saam met verskeie ensembles verskyn het, ingesluit die Rosamunde Kwartet, die Allegri Trio, Schwietering Kwartet, Lyric Trio, die Amici Kwartet en die oorspronklike Kwartet vir Vrede. Sy tree by verskeie feeste in suidelike Afrika saam met hierdie ensembles op, en werk saam met gevierde kunstenaars soos Leslie Howard, Juliette Bausor en Steven Prutsman. Suzanne het ook al as deel van klavierduette en –trio’s gewerk saam met die pianiste Nina Schumann, Luis Magalhaes, Pieter Grobler, José Dias en Elna van der Merwe.

Vanaf 1994-2000 was Suzanne assistent-konsertmeester van die New Arts Philharmonic Orchestra Pretoria, en ook stigterslid van die Kamerorkes van Suid-Afrika. Sy tree op as konsertmeeter van die Kaapse Filharmoniese Orkes in 2001/2002 en sedert 2005 is sy gaskonsertmeester vir ongeveer die helfte van elke simfonieseisoen, en werk saam met dirigente soos Arjan Tien, Bernhard Gueller, Yasuo Shinozaki en Jonas Alber. Sy is ad hoc-lid van Camerata Tinta Barocca op barokviool.

Suzanne word in 2002 by die Universiteit van Stellenbosch aangestel en is tans senior lektor in viool. Saam met die tjellis, Peter Martens, lei sy die Stellenbosch Camerata, en is ook koördineerder van kamermusiek aan die US Musiekdepartement. Sy is fakulteitslid van die jaarlikse Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, en het ook al as fakulteitslid by verskeie ander kamermusiekfeeste opgetree. Sy was verskeie kere op die beoordelaarspaneel van die Artscape Jeugmusiekkompetisie en tree as eksterne eksaminator vir die universiteite van die Vrystaat en Pretoria op. Sy word gereeld gevra om by kunswedstryde te beoordeel. Waar moontlik probeer Suzanne haar studente aanmoedig om hulle studies en musikale ervaring oorsee voort te sit.

Bennie van Eeden

By Uncategorized @af

bhve@sun.ac.za

Bennie van Eeden verwerf die Onderwysdiploma in Musiek, die grade BMus and HonsBmus cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch.As student ontvang hy verskeie toekennings,onder andere die FAK-beurs (twee keer), die Konservatorium Stipendium, asook die Meriete prys vir die beste vierdejaarstudent aan die universiteit. Hy verwerf ook die LTCL en UVLM diplomas. Hy begin sy onderwysloopbaan as dosent aan die Wellington Onderwyserskollege, en word in 1988 aangestel as Lektor in Klavier aan die Universiteit van Stellenbosch, in die pos van sy eertydse klavierdosent, Betsie Cluver.

Mnr van Eeden sit sy klavierstudies voort onder vermaarde pianiste soos Lamar Crowson en Laura Searle (UK) asook John Antoniadis, wie as mentor optree vir sy praktiese M-eksamens. Hy neem ook aan internasionale klavierkompetisies in Bolzano (Italië) en Pretoria deel.

As veelsydige kunstenaar, is Van Eeden bekend vir solo- en kamermusiekuitvoerings, asook as lid van die hoogaangeskrewe Collage en Taffanel Ensembles, vir wie komponiste soos Hendrik Hofmeyr en Alexander Johnson spesiaal trio’s komponeer het. Hy is ook n gesogte begeleier en het o.a. saamgewerk met Marita Napier, Andre Howard, Sabina Mossolow en Julia Bronkhorst.

Mnr Van Eeden tree ook gereeld by die belangrikste kunstefeeste in Suid-Afrika op. Hy dien ook op gereelde basis in die Fakulteit van Internasionale klaviersimposia en kamermusiekfeeste op Stellenbosch. Hy is n stigterslid van die Hennie Joubert Nasionale Klavierkompetisie en is steeds intens betrokke by hierdie prestige musikale geleentheid as organiseerder en beoordelaar.

Alistair McDonald

By Uncategorized @af

alimcd@sun.ac.za

Alistair McDonald se professionele loopbaan, wat oor meer as 30 jaar strek, is grotendeels gewy aan diens in die simfonie-, opera- en balletorkeste van Suid-Afrika, naamlik die voormalige KRUIK-orkes, Kaapse Simfonieorkes en Kwazulu-Natal Filharmoniese Orkes. Hy sluit hom in 2006 by die voltydse personeel van die Suid-Afrikaanse Kollege Hoërskool in Kaapstad aan, hoofsaaklik as koperblaasonderwyser en ensemble-afrigter vir die konsert- en jazzorkeste. In 2011 word hy by die musiekdepartement van die Universiteit Stellenbosch aangestel, waar hy voorgraadse trompetstudente onderrig. Hierbenewens onderrig hy sowel gemeenskapsmusikante as orkeslede van die SANW asook SAOG militêre orkeste wat ingeskryf is vir die Sertifikaatprogram in Musiekgeletterdheid by die kampusse van Stellenbosch en die SA Weermagorkes, Kaapstad. Hy tree steeds op ad hocgrondslag saam met sowel verskeie plaaslike as nasionale orkeste op. Hy glo dat musikante moet voortgaan om musiek te maak so lank as wat hulle wil en kan.

Lee-Roy Simpson

By Uncategorized @af

simpson_leeroy@yahoo.com

Lee-Roy Simpson se vormingsjare in musiekopleiding begin op die ouderdom van 12 in die Nuwe Apostoliese Kerk, op blokfluit. Gedurende sy sekondêre skoolloopbaan, skryf hy in by die Beau Soleil Musieksentrum waar hy tromboononderrig ontvang van Pamela Kierman en Nick Green, en hooftromboonspeler in die Senior Simfoniese Blaasorkes en Verhoogorkes was.

Hy het aanvanklik ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch studeer, maar skakel oor na musiek ná bywoning van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees in 2005. Na voltooiing van die Gevorderde Sertifikaat in Musiekgeletterdheid, skryf Lee-Roy in vir ‘n BMus met spesialisasie in kamermusiekuitvoering, wat hy in 2009 voltooi. Hy gaan voort met nagraadse musiekstudie en voltooi in 2010 ‘n BMus Hons in Repertoriumstudies, waar hy spesialiseer in die tenoor- en bastromboon en tuba.

Deur die loop van sy musiekstudies het hy talle musiekkursusse en feeste bygewoon en in 2009 ook na Duitsland en Oostenryk getoer saam met die MIAGI-orkes. Hy was ook ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkes en het die Grahamstadse Nasionale Jeug-jazzfees in 2011 bygewoon waar hy as lid van die Noordsee Alumni Big Band opgetree het.

As kamermusikant het Lee-Roy al saam met baie koperblaasensembles regoor die Wes-Kaap op bastromboon en tuba opgetree. Hy is lid van die T-bone Trombone Quartet wat kategoriepryse in die Nasionale Ensemblekompetisie in sowel 2012 as 2014 verower het. As ad hoc-tromboonspeler het Lee-Roy saam met baie orkeste in Suid-Afrika gespeel, hoofsaaklik op bastromboon en tuba. Dit sluit in die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes en Simfoniese Blaasensemble, die Namibiese Simfonieorkes, die Con Spirito Simfonieorkes, WindWorx Simfoniese Blaasensemble, Kaapstadse Simfonieorkes en Kwazulu-Natal Filharmoniese Orkes.

Lee-Roy geniet dit om les te gee, en onderrig tans deeltyds koperblaasstudente by Bridge House (Franschhoek), Hoërskool Bellville, Wynberg Boys’ Junior School en Kronendal Musiekakademie in Houtbaai – ʼn gemeenskapsmusiekskool. Hy is in 2012 aangestel as deeltydse dosent aan die Universiteit Stellenbosch om tromboon, eufonium en tuba te onderrig aan voorgraadse koperblaasstudente en militêre orkeslede van die SANW- en SAOG- orkeste wat vir die Sertifikaatprogramme in Musiekgeletterdheid ingeskryf is by die SA Weermagorkes satellietkampus in Kaapstad.

Sean Kierman

By Uncategorized @af

Sean Kierman is gebore in Portland, Oregon, en ontvang sy opleiding in China, Pakistan, Indië en die Verenigde State van Amerika, waar hy sy BA voltooi aan die Antioch-Universiteit in Ohio. Hy sit sy nagraadse studies voort aan die Universiteit van die Witwatersrand in 1966-67, terwyl hy Franse horing speel in die SAUK-simfonieorkes en later die Durban Simfonieorkes, voor hy voortgaan met sy studies in politiek en sielkunde aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. Hy was ’n sentrale figuur in die vestiging van die Vrystaat Instrumentale Program en die Vrystaatse Simfonieorkes. In 1979 aanvaar hy ʼn lektorspos aan die Universiteit van Port Elizabeth, waar hy die studieprogram in koperblaasinstrumente begin en uitbrei tot een van die grootste en suksesvolste koperblaaspraktyke in die land ten tyde van sy vertrek na Kaapstad in 1987. Hy word aangestel as senior lektor aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad in Julie 1987, waar hy die sameroeper van koperblaasstudies was, en bou ’n indrukwekkende ateljee van koperblaasstudente tydens sy ampstermyn. Hy doseer ook in akoestiek en dirigeer die Universiteit van Kaapstad Wind Symphony tot en met sy aftrede in Desember 2007.

Sean is komiteelid en dirigent van die semi-professionele simfoniese blaasensemble, WindWorx (gestig in 2005), en het hierdie ensemble al in talle uitvoerings regdeur die Wes-Kaap gedirigeer. Hy was dirigent van die Kaapse Filharmoniese Jeugblaasensemble vanaf 2004-2014, was dirigent en spesialis by talle Suid-Afrikaanse Nasionale Jeugorkeskursusse en is genooi om gemeenskapsmusiekorganisasies regdeur die Wes- en Oos-Kaap af te rig en vir hulle lesings aan te bied. Hy is voormalige president en huidige komiteelid van die Suid-Afrikaanse Horingvereniging. Tydens die 38ste Internasionale Horingsimposium van die Internasionale Horingvereniging in 2006, is die gesogte Punto-toekenning uit erkenning vir sy uitnemende bydrae tot en diens aan die kuns van horingspel en die onderrig daarvan aan hom toegeken. Sy huidige onderrigaktiwiteite sluit in die onderrig van koperblaasstudente aan die Universiteit van die Wes-Kaap se Sentrum vir die Uitvoerende Kunste, die opleiding van voornemende orkesleiers (“bandmasters”) asook koperblaasstudente wat ingeskryf is vir die sertifikaatprogram-, hoër sertifikaat-, diploma- en graadkursusse by die US Musiekdepartement, en hy rig ook die US Blaasensemble af en tree as hulle dirigent op. In 2014 is hy bekroon met die US Musiekdepartement se gesogte Parnassus-toekenning uit erkenning vir sy bydrae tot koperblaasonderrig in Suid-Afrika.

Close Menu