Skip to main content

Suzanne Martens

By September 15, 2016October 27th, 2016Uncategorized @af

martens@sun.ac.za

Suzanne Martens studeer aan die Universiteit van Pretoria onder prof. Alan Solomon waar sy die grade BMus Uitvoerend en BMus Honneurs verwerf, albei cum laude. Sy sit haar studies in Holland voort onder Jan Repko (Academie Minerva, Groningen) en in Oostenryk onder Lavard Skou-Larsen (Mozarteum, Salzburg), waar sy lid was van die Salzburger Musici Kamerorkes. Sy het intussen ’n MMus-graad in kamermusiek (cum laude) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf, en is tans ingeskryf vir DMus aan die Universiteit van Pretoria.

Suzanne se eerste blootstelling aan ensemble- en orkesspel was onder wyle Betty Pack. Later was sy lid van Harmonia Juventia en Pro Musica, onder leiding van Alan Solomon en Weiss Doubell onderskeidelik. As student tree sy op as konsertmeester van die UP Simfonieorkes en die Nasionale Jeugorkes. Suzanne ontvang verskeie pryse, onder andere die Universiteit van Natal se 75ste Herdenkingsprys (1988) en die algehele eerste plek in die ATKV Forté-kompetisie (nou die Musiq-kompetisie) in dieselfde jaar. In 1991 is sy deel van die wentrio in die Oude Meester Kamermusiekkompetisie. Akademiese erekleure word op universiteit aan haar toegeken.

Benewens haar optredes as solis saam met al die vernaamste orkeste in die land, is Suzanne ’n aktiewe kamermusikus wat saam met verskeie ensembles verskyn het, ingesluit die Rosamunde Kwartet, die Allegri Trio, Schwietering Kwartet, Lyric Trio, die Amici Kwartet en die oorspronklike Kwartet vir Vrede. Sy tree by verskeie feeste in suidelike Afrika saam met hierdie ensembles op, en werk saam met gevierde kunstenaars soos Leslie Howard, Juliette Bausor en Steven Prutsman. Suzanne het ook al as deel van klavierduette en –trio’s gewerk saam met die pianiste Nina Schumann, Luis Magalhaes, Pieter Grobler, José Dias en Elna van der Merwe.

Vanaf 1994-2000 was Suzanne assistent-konsertmeester van die New Arts Philharmonic Orchestra Pretoria, en ook stigterslid van die Kamerorkes van Suid-Afrika. Sy tree op as konsertmeeter van die Kaapse Filharmoniese Orkes in 2001/2002 en sedert 2005 is sy gaskonsertmeester vir ongeveer die helfte van elke simfonieseisoen, en werk saam met dirigente soos Arjan Tien, Bernhard Gueller, Yasuo Shinozaki en Jonas Alber. Sy is ad hoc-lid van Camerata Tinta Barocca op barokviool.

Suzanne word in 2002 by die Universiteit van Stellenbosch aangestel en is tans senior lektor in viool. Saam met die tjellis, Peter Martens, lei sy die Stellenbosch Camerata, en is ook koördineerder van kamermusiek aan die US Musiekdepartement. Sy is fakulteitslid van die jaarlikse Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, en het ook al as fakulteitslid by verskeie ander kamermusiekfeeste opgetree. Sy was verskeie kere op die beoordelaarspaneel van die Artscape Jeugmusiekkompetisie en tree as eksterne eksaminator vir die universiteite van die Vrystaat en Pretoria op. Sy word gereeld gevra om by kunswedstryde te beoordeel. Waar moontlik probeer Suzanne haar studente aanmoedig om hulle studies en musikale ervaring oorsee voort te sit.

Close Menu