Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Ons is dan ook gereed om die maroentapyt uit te rol vir Tuiskoms 2022, wat van Donderdag 8 September tot Saterdag 10 September plaasvind! Maak seker jou plek is bespreek, begin op www.visitstellenbosch.org oor behuising navraag doen, maak jou Matievriende op WhatsApp of Facebook of mondeling bymekaar, teken via www.matiesconnect.com op Maties Connect aan en volg ons sosialemediakanale vir die jongste nuus.

Dit sal ons eerste fisiese Tuiskomsnaweek ná twee jaar se inperking wees, en ons is verheug oor hierdie geleentheid om kontak met soveel van julle as moontlik te hervat. Sluit gerus by ons studente, alumni, families en vriende aan vir een van ons grootste jaarlikse samekomste.

Daar sal baie wees om te ervaar. 

Tuiskomsnaweek skop af met ’n SWAN-gholfdag; die eerstejaarsgroepe van 1981 en 1982, 1991 en 1992, 2001 en 2002, 2011 en 2012 sal op Stellenbosch byeen kom; en die graduandi van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van 1982, 1992 en 2012 sal op die Tygerbergkampus byeen kom.

Ons koshuise en PSO’s het ook deel aan die aksie. Doen mee aan Wilgenhof se Jaardag, Majuba se 55ste verjaarsdagspitbraai, Goldfields se 35ste reünie-dinee, en Helderberg se 75ste reünie-spitbraai, Serruria se 45ste laatontbyt, Huis ten Bosch se 85ste laatontbyt, Helderberg se 75ste vieringe, of Heemstede se 55ste laatontbyt. Moenie die Hombré-huisvergadering en spitbraai, Eendrag se 61ste Alumni-praatjies, formele dinee, en Metanoia se 16de verjaarsdagvieringe misloop nie.

Daar is ’n sakeontbyt in Stellenbosch saam met die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool; en in vennootskap met Meridian Wine, het ons ’n Matie Soiree, "Lente in die Boland", in die Alumni-klubhuis by Die Stal gereël, met Matie-wynmakers en Matie innoveerders in nie-alkoholiese drankies. Daar sal natuurlik ook goeie musiek wees. 

Ons internasionale alumni-takke bied ook steeds geleenthede vir jou om met ons en met mekaar te skakel, waar jy jou ookal in die wêreld bevind – wees dus op die uitkyk vir ons internasionale Tuiskomsaktiwiteite as jy oorsee is.

Sluit dus by ons aan!

Ek vertrou dat julle hierdie laaste uitgawe van ons e-Matieland alumni-nuusbrief interessant en leersaam sal vind. Daar is inspirerende verhale oor onlangse alumni-eweknie-aktiwiteite en Maties wat entoesiasties fondse ter ondersteuning van studentesukses aan die US gewerf het deur aan vanjaar se Kaapstad-fietstoer, die Joberg2C-wedren, die Kroasië-avontuurreis en die MTB Cape Epic, onder andere, deel te neem. Ons vertel jou ook meer van ’n alumnus wie se onselfsugtige daad ’n menselewe gered en vir hom ’n medalje vir dapperheid van die Royal Humane Society verdien het.

In ander nuus …

Hierdie nuusbrief sal binnekort in ’n nuwe en opwindende alumni-tydskrif verander – wat heeltemal op julle, ons getroue en gewaarde alumni gefokus is. Die nuwe tydskrif sal in druk- en digitale formaat uitgegee word en sal vir tablette en selfone aangepas wees om dit makliker navigeerbaar te maak. Ons span sien daarna uit om hierdie nuwe alumni-tydskrif later vanjaar bekend te stel – hou dus hierdie ruimte dop!

Hartlike groete

Shaun Stuart
Bestuurder: Alumni- en Skenkerbetrokkenheid