Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

US-kenners doen SA se eerste volledige histerektomies met behulp van ʼn robot by Tygerberg-hospitaal

Die eerste volledige histerektomie met behulp van ʼn robot in Suid-Afrika is onlangs suksesvol deur ʼn span chirurgiespesialiste van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) en die Tygerberg-hospitaal uitgevoer.

Hierdie minimaal indringende prosedure, wat met behulp van die Da Vinci-robotstelsel op ses vroue uitgevoer is, bring hoop vir die duisende vroue wat jaarliks ʼn histerektomie en ander ginekologiese operasies moet ondergaan, insluitende kankerpasiënte. Die robotstelsel is onlangs deur die Tygerberg-hospitaal aangeskaf. Volgens die chirurge was al die prosedures ongekompliseerd. Al ses die vroue is binne 48 uur ontslaan en het goed herstel, met uitstekende uitkomste.

Die eerste drie robot-histerektomieë in Suid-Afrika is uitgevoer deur dr Viju Thomas, Hoof van die FGGW se Minimale Toegang- Ginekologiese Chirurgieprogram (MAGS). Hy is bygestaan deur dr Annelize Barnard, ʼn bedrewe endoskopiese chirurg en ʼn MAGS-genoot, asook dr Tik Shan Cheung, wat onlangs gegradueer het. Barnard het die volgende drie operasies uitgevoer en is deur Thomas, Cheung en dr Liesl Muller van die Departement Verloskunde en Ginekologie bygestaan.

 

Top kwantum-wetenskaplike sluit hom aan by Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke

Die Universiteit Stellenbosch het 'n reuse-akademiese slag geslaan met die aanstelling van die internasionaal-bekende kwantumwetenskaplike, prof Francesco Petruccione, as professor in Kwantumrekenaarwetenskap by die Universiteit se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke.

Die Italiaansgebore Petruccione verskuif van die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) waar hy tot nou toe die amp van Pro-visekanselier: Groot data en Informatika beklee het. Hy is aangestel as die tussentydse direkteur van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaardenke-wetenskappe en dien ook as buitengewone professor in die Departement Fisika aan die US. Hy is 'n verkose lid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika, en ook 'n genoot van beide die Royal Society of South Africa en die UKZN. Daar het reeds sowat 250 van sy artikels in eweknie-beoordeelde wetenskaplike vaktydskrifte verskyn. Petruccione is ook medevoorsitter van die komitee wat die Raamwerk vir Kwantumtegnologie in SA geskryf het.

 

 

US blink uit op TIME 100-lys vir 2022

In 'n historiese prestasie verskyn nie een nie, maar twee wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit Stellenbosch – prof Tulio de Oliveira en dr Sikhulile Moyo – op vanjaar se TIME 100-lys van die invloedrykste mense ter wêreld.

Dié jaarlikse lys bestaan uit individue wat die belangrikste bydraes tot ons wêreld gelewer het volgens die tydskrif TIME se internasionale netwerk redakteurs, denkleiers en vorige ontvangers van hierdie prestigeryke eerbewys.

De Oliveira is 'n professor in Bioinformatika in die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en in die fakulteite Natuurwetenskappe sowel as Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Moyo is op sy beurt 'n US-alumnus wat in 2016 sy PhD in Geneeskundige Virologie aan die Universiteit verwerf het. Hy dien tans as laboratoriumdirekteur van die Botswana Harvard Vigsinstituutvennootskap.

Die twee wetenskaplikes word vir hulle werk op die gebied van genomika en epidemiologie erken. Hulle was in November 2021 die leiers van die multidissiplinêre span wat die Omicron-variant van SARS-CoV-2 ontdek het, wat daarna vinnig die dominante Covid-variant wêreldwyd geword het.

 

Prof Sibusiso Moyo is nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie

Prof Sibusiso Moyo is as die Universiteit Stellenbosch se nuwe Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie aangewys. Sy sal op 1 September 2022 die amp aanvaar as opvolger van prof Eugene Cloete, wie se tweede termyn op 31 Julie eindig. Moyo, 'n ervare hoëronderwysbestuurder met 'n agtergrond in die wiskundige wetenskappe, is tans die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Skakeling by die Durbanse Universiteit vir Tegnologie.

Sy sê sy is "baie opgewonde en geëerd" om haar by die US aan te sluit: "Ek bedank die Universiteit en die Raad vir hierdie geleentheid. Ek kan nie wag om deel te word van die US-familie nie, en om 'n positiewe bydrae te lewer tot sowel ons statuur as ons diversiteit terwyl ons saam vorentoe beweeg." 

 

Unesco-leerstoel aan US-navorsers toegeken

Die Unesco-leerstoel in Komplekse Sisteme en ʼn Transformerende Afrika-toekoms is toegeken aan twee navorsers van die Universiteit Stellenbosch – mede-professor Rika Preiser en Tanja Hichert – wat altwee aan die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange​ (CST) verbonde is.

Die Leerstoel, wat vir ʼn tydperk van vier jaar (Maart 2022 tot 2026) toegeken is, maak deel uit van die globale Unitwin/Unesco-leerstoelprogram. Hierdie program behels ʼn netwerk van meer as 850 instellings in 117 lande en bevorder internasionale samewerking en netwerkvorming tussen universiteite om institusionele vermoëns deur kennisdeling en samewerking te verbeter.

Die Unesco-leerstoel in Komplekse Sisteme en ʼn Transformerende Afrika-toekoms sal put uit die kundigheid van die twee mede-leerstoelhouers om in-diepte kennis van komplekse sisteme te integreer, gekombineer met die konseptuele en praktiese toepassings van toekomsstudie. Preiser spesialiseer in teorieë van komplekse sisteme en Hichert, ʼn navorsingsgenoot by die CTS, in die toepassing van toekomsstudie en toekomsinsig.

 

Nuwe navorsingsentrum gaan op demokrasie fokus

In die lig van die toenemende uitdagings vir demokrasie in verskeie wêrelddele die afgelope paar jaar, het die Universiteit Stellenbosch onlangs die Sentrum vir Navorsing oor Demokrasie (CREDO) tot stand gebring. Dit is in die Departement Politieke Wetenskap gesetel.

CREDO het ontstaan uit die werk van die Departement se voormalige Transformasienavorsingseenheid (TRU). "Ons het tóé reeds byna uitsluitlik op demokrasienavorsing gekonsentreer, en gevolglik het ons 'n internasionaal erkende rekord van vergelykende navorsing oor demokrasie in alle kulturele streke opgebou," verduidelik prof Ursula van Beek, die voormalige TRU-direkteur wat nou aan die stuur van CREDO staan. "Ons hoop om hierop voort te bou, steeds navorsing van gehalte te onderneem, en terselfdertyd 'n nasionale sentrum te skep vir die studie van die enorme uitdagings vir demokrasie in Suid-Afrika, die streek en die res van die wêreld." 

 

US volgens ranglys beste in Landbou en Bosbou, Teologie in SA

Die Universiteit Stellenbosch het sy reputasie as een van Afrika se voorste universiteite gestand gedoen met die vrystelling van die 2022 Quacquarelli Symonds- (QS) Wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied. Volgens 'n verklaring bepaal die QS-wêreldranglys vir Universiteite volgens Vakgebied "die rangorde van die wêreld se topuniversiteite in 51 individuele vakgebiede".

Die Universiteit het in die breë vakgebied-kategorie sedert verlede jaar van 269ste tot 265ste plek in Lewenswetenskappe en Geneeskunde in die wêreld gestyg. In meer spesifieke kategorieë is die US bo-aan die lys vir Suid-Afrikaanse universiteite in Landbou en Bosbou (76ste plek in die wêreld), asook in Teologie, Godgeleerdheid en Godsdienstige Studies (onder die top-100 wêreldwyd). Die US is ook steeds onder die top-350 in die wêreld in Lettere en Geesteswetenskappe, top-400 in Sosiale Wetenskappe en Bestuur, en onder die top-500 in die breë vakgebied-kategorie Natuurwetenskappe.