Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Die nuutgestigte takke is in Pietermaritzburg en Durban asook Oos-Londen en Gqeberha. In 2021 is nuwe takke in Pretoria, Johannesburg, die Suidelike Voorstede en Noordelike Voorstede van Kaapstad, Elgin en Gansbaai gestig en daar is nog meer in die pyplyn.

Volgens Ferdi van Dyk, Bestuurder: Alumni-deelname by die US, sal takke in die komende maande in Stellenbosch, Paarl, die Weskus en die Atlantiese kusgebied bekendgestel word. "Ons het egter Matie-vrywilligers nodig om die momentum aan die gang te hou en ons doen 'n beroep op enige Matie om ons te kontak indien hulle bereid is om by enige Alumni-takke betrokke te raak."

Terwyl talle internasionale alumni-geleenthede oor die afgelope 10 jaar en meer aangebied is, word daar ook beplan om takke in Nederland, België, Parys, Noorweë, Finland, Duitsland, Switserland, Denemarke en Swede bekend te stel. Londen, Oxford en Dublin is almal bedrywige Matie-netwerke en Hongkong het nou al 'n paar jaar 'n klein maar toegewyde tak.

Washington DC en Denver se Maties Alumni-takke is ook onlangs bekendgestel. In die Verenigde State toon die volgende takke groei: New York City, Los Angeles, San Francisco, Seattle, Boston en Kansas City; terwyl die takke in Kanada – Toronto, Vancouver en Calgary – ietwat ontspoor is tydens Covid, maar nietemin die afgelope vier jaar funksioneer.

Karen Bruns, Senior Direkteur van Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge aan die US, sê die Matie-netwerk skep geleenthede vir alumni om Matie-kundigheid vanuit verskeie professionele sektore te benut. "Hierdie takke maak deure oop en skep netwerkgeleenthede vir alumni in die besigheidswêreld, smee blywende vriendskapsbande met ander alumni in 'n spesifieke area en dien as 'n platform ​waar enige nuwe alumnus/a gewaarborg is van vriendelike gesigte asook goeie advies, veral as hulle hulself in 'n onbekende omgewing bevind."

Tans is daar 'n netwerk van alumni-strukture in meer as 25 sentrums regoor die wêreld. Talle sosiale geleenthede, denkleierskap en professionele ontwikkelingsprogramme word elke jaar nasionaal, internasionaal en aanlyn via hierdie netwerke aangebied. Die Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk (in Engels SWAN) en die Jong Alumni Program (YAP) is beide opwindende vlagskipprogramme wat in elk van die takke geïnkorporeer is.

Maties wat graag 'n tak in hul area wil stig of by een wil aansluit, kan 'n e-pos stuur na alumnihubs@sun.ac.za. Die US Alumnibetrekkinge-span is slaggereed om vanuit die staanspoor hulp en ondersteuning te bied.