Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Oudregter Cameron vervul reeds sedert Januarie 2020 sy pligte as Kanselier, maar die amptelike inhuldiging is as gevolg van die pandemie uitgestel. In sy inhuldigingsrede het hy gesê die afgelope twee en 'n half jaar het hom uitsonderlike vreugde besorg. "Eerstens, die vreugde van interaksie met diverse jongmense op kampus – swart, wit, gay, heteroseksueel, van die stad en die platteland, van oor die hele Suid-Afrika en die ganse vasteland; Stellenbosse studente met dryfkrag, uithouvermoë en doelgerigtheid, wat my goeie moed gee vir ons land." Boonop put hy vreugde uit sy verbintenis met 'n universiteit "wat so duidelik opgang maak" – "opgang in intellektuele uitset, opgang in onderrigvaardighede, opgang in navorsing en vakkundige publikasies, opgang in internasionale statuur, en – hoewel dít die minste tel – selfs opgang in die internasionale ranglyste". Hy het ook verwys na die voorreg om sedert 2020 die US se gradeplegtighede te kon lei, wat hy as veel uitbundiger en meer feestelik as in sy studentedae beleef.

Tog het die onlangse voorval van beweerde rassisme by Huis Marais op Stellenboschkampus 'n demper op die inhuldiging geplaas. Die US se Studenteraad (SR) het besluit om nié die geleentheid by te woon nie. Hulle het hulle besluit aan Cameron verduidelik deur te sê hulle kan nie aan die vieringe deelneem "terwyl daar soveel pyn op ons kampus is nie". Cameron het hulle besluit "as 'n diep beginselsaak" gerespekteer. Hy het gesê: "Hulle het standpunt ingeneem, wat vir hulle moeilik was, maar wat hulle toewyding toon aan die jongmense op hierdie kampus – nes ons vanmiddag hier ons toewyding verklaar, ofskoon op 'n ander manier. Ons toewyding aan iets beter, ons toewyding om verkeerde en onvoldoende optrede te erken, en ons vasberadenheid om beter te doen."

Cameron én die ander twee sprekers by die inhuldiging, die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, en dr Nkosinathi Sishi, direkteur-generaal van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding, het in hulle toesprake na die voorval verwys. Die pas ingehuldigde Kanselier het gesê Suid-Afrikaners "verdien 'n universiteit vry van die minagting, haat en vernedering wat te sien was in die afgryslike voorval".

Prof De Villiers het op sy beurt gesê dit is hoogs betreurenswaardig dat die Kanselier se inhuldiging gevier word in 'n klimaat wat 'n mens aan die weersinwekkende praktyke van onderdrukking van 'n vergange era herinner. "Wees gerus dat ons gepas opgetree het binne die bepalings van ons dissiplinêre kode om die saak ferm en daadkragtig te hanteer," het die Rektor gesê.

Dr Sishi het nie net die Kanselier nie, maar die ganse US-gemeenskap aangemoedig om saam te werk, te wys wat in hulle steek, en rassisme die stryd aan te sê. Hy het gesê die Universiteit moet ooreenkomstig sy visie méér doen om 'n inklusiewe en getransformeerde omgewing te skep en "hom van die beleide van die verlede te distansieer". Sishi het nietemin ook melding gemaak van die vordering wat reeds gemaak is, en die US aangemoedig om die momentum te behou.

Dr Sishi het daarná die volgende woorde direk aan regter Cameron gerig: "Die meeste presidente van hierdie land het u bydrae tot Suid-Afrika erken ... u staan by die arm en werkersklas van ons land, u het die regte van vele in die stryd teen rassisme verdedig. U het u by die armes en diegene in nood geskaar." Onder meer met verwysing na Cameron se werk om diegene aan die kortste ent te verdedig, het Sishi gesê: "Wat meer kan die US in sy strewe na versnelde transformasie vra as om iemand soos oudregter Cameron as Kanselier te hê?"

Prof De Villiers het 'n soortgelyke sentiment uitgespreek: "Deel van oudregter Cameron se lewenstaak is om seker te maak dat die waardigheid van alle mense ongeskonde bly. En dit sou verstandig wees om sy lewenstaak as voorbeeld te gebruik van hoe ons wil hê die Universiteit Stellenbosch moet lyk." Hy het gesê Cameron is 'n "onwrikbare voorstander vir die beskerming en bevordering van menswaardigheid vir almal, ongeag kleur, ras of geloof", en vergestalt die US se waardes.

Die Rektor het die gehoor daaraan herinner dat die US se impak en reikwydte ver buite Suid-Afrikaanse grense én oor vastelande heen strek, en gesê: "In oudregter Cameron het ons 'n alumnus en 'n Kanselier wat ons unieke posisie op die Afrikavasteland verstaan. En wat bereid is om meer as sy plig te doen om ons visie te help verwesenlik."

Cameron het in sy toespraak gevra waarom Suid-Afrikaners oor die land se universiteite moet omgee, en het tot die volgende gevolgtrekking gekom: "Ter wille van ons eie waardigheid. Vir ons gevoel van eiewaarde as Suid-Afrikaners." Die Kanselier het gesê Suid-Afrikaners verdien voortreflike onderrig, toegewyde leer, en navorsing wat die wêreld 'n beter plek maak.

Hy is na die verhoog vergesel deur die pryssanger Mandlenkosi Sixolo, wat gedurende sy pryssang verwys het na Cameron se impak om mense se ingesteldheid deur sy kennis en wysheid te verander.

Die Stellenbosse Libertaskoor, onder leiding van Johan de Villiers, het ook gedurende die plegtigheid opgetree. Hulle het heel gepas die lied "Let there be justice for all" van die album The Peacemakers deur Karl Jenkins gesing. Die lied bevat woorde uit 'n toespraak deur wyle president Nelson Mandela, wat onder meer lui: "Laat daar vir almal geregtigheid wees. Laat daar vir almal vrede wees. Laat daar vir almal werk, brood, water en sout wees. Laat elkeen weet dat hulle liggaam, siel en gees vry is om hulle eie volle potensiaal te bereik."

 

Klik hier​ om na 'n reeks hoogtepunte van die regstreeks gestroomde geleentheid te kyk.

Klik op die skakels hier onder om die toesprake te lees:

Regter Edwin Cameron

Prof Wim de Villiers