Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Alhoewel sy nog altyd daarvan gehou het om op te tree en haarself in ander se skoene te plaas – deur hul lewens, gedagtes en motiewe voor te stel – was sy bang dat sy nie goed genoeg was om 'n aktrise te word nie. Gevolglik kies sy 'Teologie' as haar eerste studiekeuse toe sy by die Universiteit Stellenbosch aansoek doen.

"Ek dink ek het aan bedrieër-sindroom gely, aangesien ek eenvoudig nie kon sien hoe ek 'n suksesvolle loopbaan as aktrise in Suid-Afrika kon hê nie. My hart het egter bly hunker daarna en ek het begin vrees dat ek my roeping sou mis indien ek nie die moed bymekaarskraap om drama te studeer nie." Na slegs een dag van teologiestudies neem Simoné toe die groot stap en verander haar studierigting na BA Drama en Teaterkuns.

Sukses het kort na haar gradeplegtigheid gewink: Simoné het haar uitbreekrol as 'Nadia Croukamp' in die gewilde sepie 7de Laan gekry, waarvoor sy in 2014 by die Royalty Soapie Awards bekroon is as beste nuweling. Ander TV-rolle sluit in dié van 'René Spies' in KykNET se hospitaaldrama Binnelanders, en 'Jony' in die vyfseisoen-komediereeks Hotel, waarvoor sy 'n 2018 SAFTA-benoeming vir beste aktrise in 'n komediereeks ontvang het. "Ek is baie lief vir my karakter en die lede van Hotel. Ek het soveel geleer by elkeen van hulle."

Wat rolprente betref beskou Simoné haar hoofrol in die Afrikaanse rolprent Vir Die Voëls in 2016 as haar grootste loopbaanhoogtepunt tot dusver. "Dit was 'n droomrol en een van my eerstes – ek kon net nie glo dat ek so 'n geleentheid gekry het nie." Simoné is bekroon as beste aktrise by die Tallgrass International Film Festival in Kansas, asook beste aktrise by die Suid-Afrikaanse Tempo-toekennings in 2017.

Benewens toneelspel slyp Simoné haar draaiboekskryfvaardighede en droom sy daarvan om eendag 'n regisseur te word. "Ek het onlangs 'n opdrag gekry om een ​​van Dalene Matthee se romans in 'n draaiboek te verwerk. Alhoewel dit baie vroeg in die skryfproses is, beskou ek die geleentheid as 'n hoogtepunt in my loopbaan."

Gevra watter prestasie haar die trotsste laat voel, antwoord Simoné dat dit die manier is waarop sy deur die jare met haar emosionele bagasie omgegaan het. "Ek het my vrese vir verwerping hanteer en ek neem weer waagkanse. Ek meet nie my waarde aan die hoeveelheid werk wat ek het nie. Ek is trots op moeilike besluite wat ek geneem het en op die vrou wat ek geword het. Ek het nog baie om te leer en daar is baie gebiede waarin ek kan groei, maar ek is tevrede met wie ek is en dít is 'n groot oorwinning vir my."

  • Simoné se storie verskyn ook in 'n publikasie getiteld Uitsonderlike Jong Maties wat die bekendstelling van YAP – die Universiteit se Jong Alumni Program vier. Hierdie spesiale publikasie laat die kollig val op 'n uiteenlopende groep alumni onder die ouderdom van 35.

SLUIT AAN by YAP op Maties Connect

http://www.matiesconnect.com

ONS HOOR GRAAG VAN JOU

Is jy een van ons jong alumni wat 'n verskil maak? Kontak ons by alumni@sun.ac.za om nuus oor jou persoonlike of professionele prestasies en suksesse te deel.