Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Hy verduidelik: "Om 'n vrywilliger te wees was iets wat ek nie in my leeftyd wou misloop nie. So toe ek in 2011 my Openbare Gesondheid-meestersgraadstudies aan die Universiteit van Sydney voltooi, het ek gesoek na 'n oorsese pos waar ek my passie vir MIV/vigs kon uitleef. Toe ek in 2012 'n plasing by Isibani via Australian International Volunteers aangebied is, het ek besef dat ek my kennis in die MIV/vigs-veld moes aanvul. Dit is toe dat ek na universiteite begin soek het wat my MIV/vigs-vaardighede kon verbeter terwyl ek by Isibani werksaam is. Tydens my soektog het ek afgekom op die MIV/vigsbestuurskursus wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word." 

Leonard het aansoek gedoen vir die MIV/vigsbestuur kursus en is toe aanvaar. In September 2012 het hy by Isibane as 'n organisatoriese kapasiteitsbouer vir MIV/vigs begin werk. Die volgende jaar het hy met sy studies aan die US begin. Sy studies het afgeskop met 'n verpligte eerste week van persoonlike interaksies aan die US, terwyl die res van die studies aanlyn plaasgevind het.

"Om 'n plek by 'n gesogte universiteit soos die US los te slaan, was 'n ongelooflike belewenis," sê hy. "Die kursus was baie relevant vir my situasie en die veldwerk wat ek by Isibani gedoen het. Die klem op bewysgebaseerde denke het my innoverende en strategiese denke gevorm om die MIV/vigs-programme by Isibani te bestuur."

Leonard se werk by Isibani het ingesluit die opstel en ontwikkeling van nuwe strukture en die vaslegging van MIV-data vir kliënte oor MIV/vigs-behandeling. Hy het ook weeklikse tuisgebaseerde versorging en opleiding van personeel in primêre gevalleassessering geïnisieer en geïmplementeer.

"Ek beskou my bydraes tot die Isibani-gemeenskap as een van die grootste prestasies in my loopbaan tot dusver,” sê hy.

Leonard werk tans by die Nieu-Suid-Wallis (NSW) Ministerie van Gesondheid se immuniseringstak as 'n gesondheidsbestuurder en senior toesigbeampte: Covid-19-programme. Hy monitor nadelige Covid-19 gevolge na immunisering en berei relevante verslae vir die organisasie voor.

"As gevolg van die Covid-19-pandemie het die NSW Ministerie van Gesondheid in Sydney, waar ek tans woon, individue gesoek met kennis en begrip van immuniseringsbeleid en wetgewing oor huidige en opkomende kwessies wat verband hou met die Covid-19-inentingsprogram. Ek het voorheen soortgelyke immuniseringsprogramme gekoördineer en ek het gevoel dit was nog 'n geleentheid wat ek nie van die hand kon wys nie.”

Nadat hy onlangs sy MBA (Gesondheidsdiensbestuur) voltooi het, is hy nou oorgehaal om in die toekoms meer van sy kundigheid tot die wêreld by te dra.

"My ambisie is om voort te gaan om te fokus op die bestuur van aansteeklike siektes en om pandemies strategies te bekamp vir beter uitkomste vir almal."

Die Zimbabwiese gebore Leonard, wat in 2005 na Australië verhuis het, kan nie uitgepraat raak oor die ondersteuning wat hy van sy vrou gekry het toe hy as vrywilliger na Suid-Afrika gekom het nie.

"Toe ek die geleentheid by Isibane aangebied is, het my vrou en tweejarige dogter nie gehuiwer om my te vergesel nie. Familieondersteuning is vir my baie belangrik en is die rede hoekom ek in staat is om te doen wat ek doen."