Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Bridge the Gap maak dit vir die studentegemeenskap, personeel, alumni, ouers en vriende moontlik om studente te help met dinge wat hulle lewe onteenseglik bemoeilik. Dit beoog om die gaping tussen talent en finansiële behoeftigheid te oorbrug en om 'n onmiddellike, tasbare verskil in die lewens van US-studente te maak.

Die Universiteit samel fondse in vir verskeie inisiatiewe onder die vaandel van Bridge the Gap. Dit sluit in #Move4Fooddie Tygerberg Pantry-projek#Action4Inclusion#GradMe#Zim4ZimEnd Period Poverty#MatiesHaveDrive en Caught in the Middle.

Op 27 Maart 2022 het US-personeellede Robert van Staden en Francois Swart die uitmergelende Absa Cape Epic oor 657 km en 16 900 m se klim oor agt dae voltooi en sowat R70 000 vir die #Move4Food-veldtog ingesamel.

Swart, 'n fasiliteitsbestuurder, het gesê dit gaan nie net oor die geld nie.  

"Die bewustheid wat ons op internasionale vlak vir die veldtog geskep het, is net so belangrik. So baie mense het ons oor die #Move4Food-veldtog uitgevra.

"Vanjaar se Epic was baie moeilik, met ongeveer 35% van die deelnemers wat nie klaargemaak het nie. Maar die wete dat hierdie wedloop nie net oor myself gaan nie, maar dat dit ten bate van 'n veel groter en beter doel is, het my gemotiveer om nie moed op te gee nie. Ons het alles gegee om suksesvol te wees vir #Move4Food."

Van Staden, van die Fakulteit Opvoedkunde, het gesê hoewel hulle 'n paar moeilike dae tydens die wedloop moes verduur, was dit niks in vergelyking met wat studente daagliks deurgaan om in hul basiese behoeftes te voorsien nie.

"Soos die Epic wat oor agt dae is, moet jy vir langer as een dag probeer oorleef. Jy benodig elke dag die nodige voeding om aan te gaan. Wat jy vandag inneem, sal jou môre beïnvloed. #Move4Food is dieselfde, dit bied elke dag voeding aan 'n student wat sy wedloop hardloop in die hoop om dit eendag suksesvol te voltooi. Selfs al het ek gehelp om die lewens van slegs een of twee studente te verbeter, was dit absoluut die moeite werd!" 

Petro Mostert, 'n alumna en kommunikasiespesialis in die US se Afdeling Bedryfs- en Finansies, het op haar beurt die 990km joberg2C-bergfietsavontuur van 22 tot 30 April 2022 oor vier provinsies van Suid-Afrika, vanaf Heidelberg na Scottburgh aan die Suidkus van KwaZulu-Natal, gery. 

Mostert het die volgende oor die nege dae lange bergfietstoer gesê: "Ons eerste drie dae was net modder en meer modder. Waar die Vrystaat normaalweg plat en maklik is om deur te ry, moes ons deur modder druk net om klaar te maak. Somtyds was mens genoodsaak om te stop, want jou wiele kon nie draai as gevolg van al die modder nie. Jy is vuil, moeg, keelvol en wil net huis toe gaan, maar dan onthou jy hoekom jy dit doen – nie vir jou eie ego nie, maar om studente te help wat regtig hulp nodig het om hul loopbane te begin." 

'n Span bestaande uit drie Maties, Tamaryn Larkman, Caroline de Villiers en Ryan Larkman, al drie van Elgin, het van 14 tot 22 Mei 2022 aan die Adventure Race Croatia deelgeneem om bewustheid vir die Bridge the Gap-veldtog te skep.

Larkman het namens haar span gesê: "Om aan wedlope soos hierdie deel te neem om 'n verskil te maak in die lewens van studente wat reeds so ver op hul eie gekom het, is vir ons uiters belangrik."

Sy het alumni aangemoedig om hul fietse/voete/kajakke, wat hulle ook al verkies, in te span ter ondersteuning van hierdie inisiatief.

"Dit is so belangrik vir diegene van ons wat dit deur universiteit gemaak het om die volgende generasie professionele persone te ondersteun. Ek moedig almal aan om te gaan kyk na die ongelooflike werk wat Bridge the Gap doen – daar is verskeie projekte waarmee hulle besig is en almal is van kritieke belang om die struikelblokke wat studente in die gesig staar, te verwyder."

Op Sondag 13 Maart 2022, het die US-rektor, prof Wim De Villiers en 'n span van 32 fietsryers bestaande uit alumni, personeel, studente en vriende van die Universiteit, aan die 109km Kaapstad-fietstoer deelgeneem om fondse in te samel vir #Move4Food. Chris Norton, alumnus en eienaar van Casa Cerveza in Stellenbosch en prof Sadulla Karjiker, alumnus en professor in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, was deel van hierdie span.