Digitale Alumni-Nuusbrief | Winter 2022

Ons beplan soos gewoonlik verskeie geleenthede spesiaal vir ons alumni. Dís jou kans om jou bande met ou vriende te verstewig, jou studentedae te herleef en aan ’n klomp prettige en opwindende aktiwiteite deel te neem.

Verwag netwerkgeleenthede, kampustoere, ’n sakeontbyt, sportaktiwiteite en baie kuier en gesels. Boonop bied nie minder nie as 11 koshuise gedurende die naweek verjaardagreünies aan en keer 10 eerstejaarreüniegroepe terug kampus toe.

Moenie dit misloop nie! Jou alma mater maak gereed om die maroen tapyt vir ons grootste Tuiskoms tot nog toe uit te rol.

Hier’s waarna jy kan uitsien:

Donderdag 8 September

’n Rondte gholf

Ons begin Tuiskoms om 11:00 met ’n gholfdag vir ons SWANE (die lede van ons Stellenbosch Vroue-alumnae Netwerk) by die Stellenbosch-gholfbaan. Ons sluit die dag se gholf af met ’n prysuitdeling gevolg deur 'n aandete, waartydens jy geleentheid sal kry om bekroonde wyne van ons wynmaker-alumni te geniet. Die koste is R3 600 per vierbal en die opbrengs gaan aan die US se Beursfonds.

Vrydag 9 September

Sakeontbyt
Ons is vroeg uit die vere vir ’n sakeontbyt om 09:00 by die Adam Small-teaterkompleks op Stellenbosch. ’n Paneel deskundiges sal gesels oor die tema “Bul of beer? Leiers se sienings oor die toekoms van die Suid-Afrikaanse ekonomie”.

Toonaangewende denkers soos dr Patience Nombeko Mbava (voorsitter van die Suid-Afrikaanse Finansiële en Fiskale Kommissie), dr Marlene le Roux (uitvoerende hoof van Artscape) en Simon Susman, voorsitter van Conservation South Africa, president van Intercontinental Group of Department Stores, raadslid van vyf maatskappye en voorsitter van Woolworths Holdings Bpk, sal gedagtes uitruil. Dr Morné Mostert, die voormalige direkteur van ons Instituut vir Toekomsnavorsing, sal as moderator optree van wat beloof om ’n hoogs insiggewende gesprek te wees in die lig van die huidige uitdagings en geleenthede in sowel die Suid-Afrikaanse as die wêreldekonomie.

 

Matie Soirée
Maak jou oë toe en verbeel jou die Bolandse lente, heerlike kosgeure in die lug, en net die beste geselskap ... Kry nou jou vriende bymekaar en maak daardie verbeeldingsvlug ’n realiteit. Ons bied om 14:00 ’n Matie Soirée in die Alumni-klubhuis by Die Stal aan.

In samewerking met nege wynplase en ons wynmaker-alumni bied ons ’n proesessie van hulle beste wyne aan. Vir diegene wat iets nie-alkoholies verkies, sal The Raw Berry Press ook daar wees om van hulle uithaler- koudgeperste sappe te bedien.

Terwyl jy met sowel bekende as nuwe gesigte kuier, bederf ons jou met ’n aand van eersterangse vermaak deur kunstenaars soos Koos Kombuis en ons bekroonde Universiteit Stellenbosch Koor. Snuffel ook gerus deur ’n skatkis van herinneringe by ons Matie Herinneringe-uitstalling.

 

Saterdag 10 September

Bergpad draf, stap of ry fiets
Kom vul jou longe met vars lug en kom aan die gang. Die feesvieringe gaan voort wanneer ons om 07:30 die asemrowende Stellenboschberg te voet, op ’n drafstap of op ’n fiets aanpak. Nie superfiks nie? Moenie bekommer nie, ons maak vir alle fiksheidsvlakke voorsiening, so bring jou vriende, gesin en troeteldiere, en kom geniet die pragtige uitsig oor die dorp. Verversings word ná die tyd by die Alumni-klubhuis bedien.

Die hele naweek deur

Kampustoere

Wat het verander, en wat nie? Kom kyk self. Ons bied die hele Tuiskomsnaweek deur twee kampustoeropsies aan wat op vasgestelde tye vanaf die Alumni-klubhuis sal vertrek.

Eerstejaardekadereünies
Aandag alle eerstejaars van 1972, 1982, 1992, 2002 en 2012, en om vir Covid-19 te vergoed, sommer ook dié van 1971, 1981, 1991, 2001 en 2011! As deel van die Tuiskomsvieringe, bied ons graag eerstejaarreünies vir hierdie kohorte aan. Jy kan uitsien na koshuisbesoeke, kampustoere en ’n groot jaargroepmiddagete. Het jy al met jou jaargroepkoördineerder kennis gemaak? Jy moes teen dié tyd al ’n e-posuitnodiging ontvang het. Indien nie, e-pos ons by homecoming@sun.ac.za, en ons sal sorg dat jy op die lys is. Die koördineerders is hard aan die werk om Maties uit elke jaargroep byeen te bring om Tuiskoms te vier.

Koshuisverjaardagvieringe
Die koshuise Huis ten Bosch, Majuba, Simonsberg, Goldfields, Serruria en Olympus vier in die loop van Tuiskomsnaweek hulle onderskeie verjaardae en bied reünies aan. En omdat Helderberg, Eendrag, Heemstede, Hombré en Metanoia in 2021 hulle verjaardagreünies weens Covid-19 moes kanselleer, vergoed hulle vanjaar daarvoor.

Matieland wag!

Spesiale uitnodigings 

Jou BBP-uitnodiging met volledige besprekingsinligting sal binne die volgende twee weke in jou e-pos inmandjie beland. Jy wil nie dié naweek misloop nie! Teken ook in op Maties Connect (www.matiesconnect.com) om langverlore vriende op te spoor, besoek www.matiesalumni.com en hou ons sosialemediakanale dop vir die jongste nuus.